Hierdie week se liturgie: 18_maart_2012
Dit was voorwaar ʼn week wat die hele konsep van GEDULD tot die uiterste beproef (én verdroef) het. Vier dae sonder Internet; ure en ure aanhou vir Telkom; van die een persoon na die ander deurgesit te word met niemand wat weet wat die probleem is en wanneer dit opgelos sal word nie. Geloof, hoop en liefde ... maar die grootste van die drie, is HOOP 😉
Daar is baie goed wat ons sê ons glo wat te doen het met ‘geloof’ (logies of te nie) en ander goed wat ons glo wat te make het met lewenservaring. Dan is daar ook baie dinge wat ons sê ons glo wat nie te make het met geloof of kennis nie en bloot met die manier waarop ons grootgeword het. Ons doen en glo dit want dis wat ons ouers geglo en gedoen het; en hulle ouers voor hulle; en mense in ons sosiale en familiekring. Ons weet nie presies hoekom ons dit glo en doen nie en dit maak nie regtig saak nie ... solank dit nie hinder, ongemaklik of my emosies roer nie, glo ons dit net soos dit is. Niks fout hiermee of nodig om dit te analiseer of te dissekteer nie. If it works don’t fix it 😉
MÁÁR dan op ʼn dag kom blaas ʼn krisis sy grys en slu asem in ons gesig en ons word van aangesig tot aangesig gekonfronteer met ons eie menslikheid. Wanneer ons seerkry, word ons gedwing om in die spieël te kyk. Ons vra dan kinderlik opreg “hoekom met my?” en val die antwoord gewoonlik in een van twee kante: óf dit vat my na die plek waar ek myself ken binne ʼn groter prentjie (konteks en perspektief), óf dit dompel my in onsekerheid of enige iets wat ek gedink of glo het, waar en eg is.
Wanneer dit goed gaan en alles is in balans dan vind ons dit onnodig om hieroor te moet dink of praat. Alles maak sin en waar sin is, is daar harmonie tot ons in ʼn situasie kom waar goed gebeur wat nie sin maak nie. A Course in Miracles (ACIM) sê – you cannot know how to respond to what you don’t understand. Uit die tradisie waaruit ons kom, is ons geleer om al hierdie vrae en onsekerheid vir die Heilige Gees te gee maar wie of wat is die Heilige Gees? Hoe sal die Spirituele Psigoterapie of Kwantum Fisika daarna verwys? Is dit deel van ʼn Triniteit of gewoon deel van een en dieselfde refleksie en weerkaatsing? Kom ons verken Sondag --
Die Heilige Teenwoordigheid van God –
Die ervaring van God in jou lewe en in jou wêreld
Die herinnering van ʼn krag in ons maar nie van ons nie
Die bewussyn dat ons bewus is van ʼn groter prentjie
Die naelstring tussen ‘potential’ en ‘possibilities’
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
(SAVE die nommer van Saterdae SMS as Neo-Spektrum op jou foon dan weet jy waarvandaan dit kom 😉
10h00 Sondag in die kapel van die Kolping Sentrum —
Ons inleidende kursus in ACIM (A Course in Miracles) gaan voort op 15 Maart 19h00 by die Kolping Sentrum.
Jy is steeds meer as welkom om in te skakel. Kontak my asseblief indien jy belangstel.
Gedagte vir die Week:
As God die son is en ons die strale dan is die Heilige Gees die hitte wat ons op ons velle voel en die blomme wat ons sien groei in die sonlig.