Hierdie week se liturgie: 14_oktober_2012
Eerstens, baie dankie vir laas Sondag! Na die lang winter met soveel reën en koue elke Sondag was dit heerlik om weer die kapel so vol mense te sien. Die hele atmosfeer is aanvoelbaar ‘anders’ as daar soveel mense is. Kom ons doen dit hierdie komende Sondag weer! Ons gesels hierdie maand oor die tema: ʼn Verhouding met God. Ons wil ʼn verhouding met God hê wat sinvol en relevant is. Hebreërs 12:1 vergelyk dit met atlete wat volheid hardloop vir die wenstreep. Ja, ons wil almal graag die prys ontvang en die beker huis toe vat. Ons wil die gejuig en handeklap van die skare hoor maar dit alles doen sonder om te oefen, sonder inspanning en die volharding om voluit te hardloop tot oor die wenstreep!
Wat beteken dit om te sê: ‘Ek het ʼn verhouding met God’ en wat maak een uur anders as die ander? 'n Skooljuffrou vra haar klas om die volgende dag iets skool toe te bring wat hulle herinner aan hul godsdiens. So gesê, so gedaan: 'n Katolieke dogtertjie bring toe haar “rosary”, of gebedesnoertjie, en sê dit is vir haar die simbool dat sy 'n halssnoer is vir God wat gebede hoor en verhoor. 'n Joodse seuntjie bring sy kalotjie (“yarmulka”) en sê dit herinner hom om nederig te wees. 'n Moslem-seuntjie bring sy gebedsmatjie en sê dat dit simboliseer sy afhanklikheid. 'n Dogtertjie van die NG Kerk bring 'n braaipan en sê: ”Juffrou, dis die pan waarmee ons die pannekoeke vir die basaar bak.”
Wat het ons of doen ons in ons lewe wat wys dat ons verhouding met God, verander en vernuwe? Ons verstaan van wat ons beskryf as God mag miskien verskil maar het één ding in gemeen: ons WÍL dit ervaar en beleef; verstaan en kan toepas in elke dag se leef en beleef! Romeine 12 se eerste klomp verse ryg die pêrels van so verhouding aan ʼn halssnoer van WAT en HOE om so verhouding te hê met onsself, ons ewemens en met God. ʼn Verhouding wat ons herinner dat God hoor en verhoor gebede; hoe om nederig te wees en ons interafhanklikheid van mekaar en met God te vier.
Ons skryf op ʼn grafsteen of begrafnisbrief ʼn ‘geboortedatum – sterwingsdatum’ maar wat van daardie strepie in die middel? Wat sê daardie strepe van ons lewe? Wat is ons bereid om op te offer en prys te gee om soos atlete die wenstreep te behaal? Paulus skryf aan sy jong vriend Timoteus dat die idee van ʼn ‘perfekte’ mens is ʼn “gesonde siel en gesonde liggaam” — dít is ons verantwoordelikheid en niemand kan dit vir ons doen behalwe onsself nie.
SELFBEHEERSING IS DIE MOEILIKSTE OORWINNING OM TE BEHAAL
i. Groei deur die regte (op)voeding
ii. Groei deur oefening en inspanning
iii. Groei deur toewyding en dissipline
iv. Groei deur balans en harmonie
10h00 Sondag by die Kolping Sentrum is ʼn GYM VIR DIE SIEL wat één uur in die week ‘anders’ maak as die ander ure van die week.
Ons begin die laaste blok van ACIM op Donderdag 11 Oktober. Jy is steeds meer as welkom om in te skakel want ons lees en bespreek spesifieke gedeeltes uit die boek.
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. (Galasiërs 5:22)