Hierdie week se liturgie: 3_maart_2013
Dit is opmerklik hoe dit later lig word en vroeër donker. Met die verandering in die lig is daar ook ʼn ander gewaarwording dat na die somer kom die herfs ... of soos NP van Wyk Louw skryf: “die laatmiddag het room geword.” Soos die seisoene om ons verander is daar ook iets wat in ons verander, of skuif, om plek te maak vir die nuwe, of die ander anders. Hoe vanpas dat ons ook dié tyd voor Paasnaweek onsself op ʼn plek vind waar ons afwagtend is op ʼn transformasie; ʼn sielsverandering (verdieping); ʼn tyd van versoening en vergiffenis; ʼn tyd van heling en ʼn gevoel dat ons deel is van ʼn groter geheel.
Ons weet dat die natuurwet van ‘oorsaak en gevolg’ (cause and effect) is die boublokke van die ganse skepping. Elke oorsaak het ʼn gevolg en elke gevolg het ʼn oorsaak. Ons verstaan met ons brein hoekom die seisoene verander, kognitief kan ons dit verduidelik maar hoe gaan ons om met die ‘oorsaak en gevolg’ aan ons binnekant? Is ons bewus daarvan? Besef ons dat op ʼn emosionele en spirituele vlak is ons gedagtes (thoughts) die oorsaak van alles wat ons beleef en ervaar. Let wel: nie wat met ons gebeur nie, maar beslis hoe ons daarop reageer. Ons gedagtes bepaal wat ons reaksies (ervaring daarvan) is en ons gedagtes bepaal hoe ons dit wil verander. Ons kan oor en oor, weer en weer onsself as victims sien en ander wil manipuleer om dit ook te sien, óf ons kan besluit: genoeg daarvan! Tyd vir ʼn nuwe seisoen! Tyd vir ʼn transformasie!
Ons het dit al baie gesê dat, nadat ons deur ʼn transformasie is, het ons selde die gevoel dat ons iets gevind het. Dit voel eerder asof iets/iemand jóú gevind het! Asof jy aangeraak is, vasgehou is (in die positiewe sin van die woord), gered is van ʼn onuithoudbare situasie deur iets/iemand wat sterker as jyself is. Kom ons vergelyk dit met die volgende voorbeeld: Jy gaan swem in die see. Onverwags raak jy in die moeilikheid met die strome en golwe en besef jy kan nie terug strand toe swem nie. Jy sluk water en jou bene begin kramp van al die watertrap. Skielik voel jy die arms van ʼn lewensredder om jou. Hy lig jou uit die water en swem met jou strand toe. Soos jy hom op jou knieë bedank dat hy jou gered (saved) het, besef jy dat hy jou verlossing (salvation) is en daardie gevoel beskryf ons as bevryding (redemption).
Aanvanklik weet jy nie eers mooi WAT gebeur het nie, al wat jy weet is dat iets wonderlik het plaasgevind. Al waaraan jy kan dink is: I did not do much myself, but something wondrous has been done unto me!
En dit is wat ons Sondag gaan verken as ons praat oor ʼn “Curriculum van Waardes” (sien pdf dokument) as ons aansluit by laas week se oproep dat iets móét verander sodat ons gedagtes gered kan word van jouself sodat jou Self eerlik en in waarheid voor die groot EK IS kan staan en besef wat Teresa van Avila bedoel met: “You find God in yourself and yourself in God.” Ons kan nie langer verskonings of verduidelikings wil uitdink waarom ons onsself, én andere, telkens verdoem tot waar die strome en golwe ons meesleur sonder om nie sensitief bewus te wees van ons manier van dink, praat en optree nie. As ons sê, die geweld in ons land móét stop, is dit ons elkeen se verantwoordelikheid om by onsself te begin en hierin gee ʼn “Curriculum van Waardes” vir ons riglyne. Lees dit, verander waar jy voel nodig en bring Sondag saam vir bespreking.
Ons gaan net ervaar wie ons werklik is en wat ons doel is alvorens ons elke oomblik onsself oopmaak om gevul te word met die groter Liefde sodat ons kan oorloop daarvan om hierdie liefde te skink aan almal om ons. Dit is nie ʼn droom-wêreld nie! Dit is nie vir eendag as jy dood is en in ʼn spreekwoordelike hemel aankom nie maar vandag, nou, hier, op hierdie oomblik. Ons hart is die kompas wat jou wys waar daardie plek van liefde is en waar jou hart is daar sal jou skat ook wees!
TRANSFORMASIE: NUWE MAAND, NUWE SEISOEN ...
Ons kan nie meer op dieselfde trant aangaan nie (besef)
Ons wil ons lewe en omstandighede verander (beken)
Ons maak ʼn besluit en neem verantwoordelikheid (bekeer)
Vir Leipoldt is “Oktober, die mooiste mooiste maand” — maar ons kan dit ook van Februarie sê. Die aande wat windstil oor die stad lê. Die lig wat sagter raak. Bome se blare en plante se blaaie wat van kleur verander om reg te maak vir ʼn innerlike en uiterlike verandering. Moeder Teresa het gesê: “There are no great deeds; there are just small deeds done with great love.”
Kom deel Sondag saam met ons hierdie liefde; kom haal ʼn stukkie hoop sodat ons opnuut kan glo dat die seisoene se verandering is inderdaad ʼn tyd van transformasie!
ETE Sondag na die diens. Bepreek by my sodat ons getalle kan deurgee. R100pp en as jy menu wil sien, epos ek dit vir jou. GAAN HEERLIK WEES!
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
Die punt is nie net wat jy GEE as jy liefhet nie maar wat jy ONTVANG as jy jouself oopmaak vir liefde.