Hierdie week se liturgie: 9_junie_2013
— tussen ysreën en bibberkoue soek ek sokkies en handskoene vir die maand se tema terwyl ek blaai deur alles wat ons al gedoen het die laaste twee jaar en tot die stilte van my hart moet ek erken dat elkeen is my eie soeke na sokkies en handskoene onder die sambreel van ʼn Groter Liefde. Die een tema wat deur almal ‘hart’loop, is die vraag na self-waarde. Die verband tussen self-waarde en spiritualiteit word in alle ‘self-help’-boeke en seminare getrek maar los jou gewoonlik in die middel met die “... én?”
Net gisteraand probeer ek aan iemand verduidelik — wat ons van onsself dink/voel, beïnvloed hoe ons dink oor God dink. As ek nie van myself hou nie, gaan ek nie van God hou nie. As ek myself kritiseer en amputeer van ander om my, dink ons dat God dit ook doen. Maar as jy goed voel oor God, voel jy goed oor jouself. Niemand kan dit betwyfel dat ʼn mens se happiness geweef lê in ʼn mens se self-beeld, alhoewel ek nie van die woord ‘beeld’ hou nie want beelde is dooie lompe klipgekapte projeksies maar self-waarde, self-respek, selfvertroue is ʼn deug waaraan mens elke dag werk.
Ons aksies en reaksies teenoor mense, die uitdagings by die werk, die insig en uitsig vir die mooi en seer van omstandighede – word ten diepste geraak en beïnvloed deur wie en wat ons dink ons is, wat ons glo ons kan en nie kan nie, wat ons verdien en wat vir ons bestem en geskik is. Die woord happiness kom van die Skandinawiese woord hap wat “DOEN” beteken. Selfwaarde is iets wat jou beweeg na ʼn dieper bewussyn eerder as om jou daarvan weg te vat. Selfrespek bring ʼn stukkie eerlikheid met jouself sonder om dit moet wegsteek of te ontken. Selfvertroue is ʼn innerlike krag wat deur jou vloei en sê: This is me ... and I surrender to my brighter self.
Wat ons vir onsself sê oor selfwaarde mag geheel en al verskil van wat eintlik aan die gang is. Jy kan vir jouself sê, “oh I’m okay …”, en vir ander kan jy skuinsweg antwoord, “als is fine”, maar jy wéét dat dit alles behalwe okay óf fine is! Ons ken die aaklige sêding — fake it until you make it — wat ʼn wrede spieëlbeeld is van iets wat jy glad nie is nie. Miskien is dit omdat die meeste mense nooit stil genoeg word om eers vir hulself te vra: wat is my selfwaarde? Die ego skree net te hard om daardie stil Stem aan die binnekant te hoor wat roep om gehoor te word ... en so vergeet ons wie ons werklik is. Ons settle vir ʼn ander pil of ander soort drug, ons hardloop agter nog ʼn love-affair of doen iets dramaties soos bedank jou werk, koop ʼn Harley sodat jy en jou sekretaresse, wat jou naam uitspreek met ʼn opwaartse infleksie, die langpad kan vat terwyl jy vir almal sê, I need space to clear my mind ... min of meer in dieselfde tyd wat vroulief en haar yoga instrukteur vir ʼn naweek na retreat gaan om haarself te vind ... vir beide eindig die treat gouer as nouer in verdriet want selfwaarde is nie êrens anders nie; selfrespek word nie aan jou gegee nie. Dis iets wat jy in jouself vind maar dan moet jy met jou Self kan wees. Soos iemand eenkeer gesê het: glo in jou drome en hulle word dalk waar, glo in jouself en hulle sál waar word!
So, kom ons verken Sondag die tema “Selfwaarde as ʼn Spirituele Dissipline” en dan gesels ons oor –
· Bewus of onbewus
· Selfaanvaarding of selfverwyt
· Verantwoordelikheid neem of blameer
· Doelgerig of dobberend
· Integriteit of selfverraad
Wat het dit met Spiritualiteit (i.e ons ervaring en verhouding met God) te doen? ALLES!
Psalm 139:14 sê in die oorspronklike taal: “Ek dank U vir die wonder van myself. Wonderlik is U werke en my siel weet dit goed!”
Die winter het reeds sy eerste roede geslaan maar die laaste twee Sondae was ons sirkels vol sokkies en handskoene wat saam verwarmers hitte vir mekaar geword het. Daarvoor sê ons dankie! Kom ons maak ʼn strikkie aan ons sambreel vir Sondag – of dit reën of sonskyn is – ons maak ʼn afspraak met ons Self om vir ʼn uur dit anders te doen as al die ander ure van ons week.
### ACIM leeswerk — Text Book: Chapter 14: TEACHING FOR TRUTH, Section XI: The test of truth p296 Hardebandboek.
Gedagte vir die Week:
“Never be bullied into silence. Never allow yourself to be made a victim. Accept no one's definition of your life, but define yourself.” ― Harvey Fierstein