Hierdie week se liturgie: 15 September 2019
Daar is ʼn ‘Krag’ wat die planete om die son laat draai, embrio’s groei in babas, en saad in vrugte verander ... maar ons vertrou nie die ‘Krag’ nie en glo ons kan beter vir onsself sorg as wat hierdie ‘Krag’ kan/wil voorsien en daarom is ons net op ons knieë as ons iets nodig het — en dan gaan dit weer beter en voel ons in beheer tot iets (weer) gebeur en dan is ons weer op ons knieë en so gaan dit aan en aan en aan tot ons die ‘Krag’ hoor sê, “Jy mors soveel tyd en energie met jou wil-in-beheer-wees, hoekom bly jy nie sommer op jou knieë nie?”
Ons het ʼn huis met elektrisiteit met die mooiste lampe maar die lamp is nie ingeprop nie, en as dit ingeprop is, is daar nie ʼn gloeilamp in die lamp nie, en as daar ʼn lamp met ʼn gloeilamp ingeprop is by die muur is dit nie aangeskakel nie ... en so tas ons rond terwyl ons wonder, waarom is dit so donker?
Ons tema vir die maand is — THE GIVENESS OF LIFE — en het reeds gesels oor GELOOF en GEBOOIE en eerskomende Sondag gaan oor GEBED. Hierdie diensmaagd is nie getooi met die kroon van die filosofie nie; die toga van teologie hang nie om haar skouers nie; gebed dra nie die systof van godsdienstigheid en is nie omring deur die pêrels van welvaart nie ... nee, sy is ʼn nederige diensmaagd op haar knieë in verwondering en aanbidding in die Groot Misterie wie se Krag in en deur ons vloei en nie van ons is nie.
<1> GEBED is om aangeskakel te wees — gebed weef die teksture van my bestaan in die Groot Tapisserie; dit maak ons vry van die lae en lae omhangsels waarmee ons onsself elke dag sluier; dit bring perspektief; dit gee insig en uitsig; dit fokus ons gedagtes en intensies; dit plaas goed in konteks en laat ons nader aan ons Self (waarheid) staan.
<2> GEBED konnekteer ons met ons Oorsprong — dit haal die modder en klippe uit die fontein sodat ons water vry kan vloei. GEBED is konneksie in ʼn wêreld waar ons só gedistansieer is van alles en almal ... and where our disconnected, dysfunctional detachment has led us to spiritual impotence and cerebral arrogance!
<3> GEBED is die spirituele intimiteit tussen ons en dit wat ons ervaar en beskryf as God — dit is die bewussyn van ons eenheid met God, ons naaste, onsself, en die natuur waarin ons leef en dit is onheilig onnatuurlik om in die illusie te verkeer dat ons net vir onsself leef en dat dit net gaan oor mý behoeftes, mý verwagtinge, en mý drome en begeertes.
<4> GEBED is om bewus te wees van die Lig, Lewe, en Liefde van God — ons kan met vrymoedigheid sê: GEBED skuif ons ‘centre of gravity’ om emosioneel, intellektueel, en spiritueel gebalanseerd te wees. Dit maak van die intellek ʼn siel sodat die brein kan skuif na die hart en die hart kan oplos in die siel-denke wat vanuit God gebore is. Beeld van God in alles wat ons doen en almal wat saam met my reis. Gebed is die brug tussen ego-denke (straf, skuld, vrees) na siel-denke (vergiffenis, versoening, liefde).
As jy hierdie VIER verduidelikings soos vier windrigtings om jou seile span dan is daar geen rede om vir ʼn oomblik te twyfel oor die invloed, trefkrag, gevolg, en omvang van gebed nie. Die numeriese simboliek van VIER is ‘beingness’ en is die konneksie tussen ‘mind-body-spirit’ — VIER simboliseer veiligheid (the security of home) en die stabiliteit en fondasie van ons waardes en geloof.
[i] Daar is gebede wat in ons gedagtes leef — dit is ʼn wisselwerking tussen gedagtes en hart en word gestimuleer deur die duisend impulse van elke oomblik. [ii] Daar is gebede wat woorde vind as ons gedagtes hardop sê wat die hart deur ons are pomp. [iii] Dan is daar meditatiewe gebede — waar ons God se asem in ons asemhaling vind en die teenwoordigheid van God aangevoel (ervaar) word sonder gedagtes of woorde en die ‘stilte’ meer sê as ʼn duisend gedagtes. [iv] Maar dan is daar die gemeenskaplike gebede waar “twee of drie in my Naam vergader” en die kollektiewe krag van gebed in ons vol loop en oorloop.Elke gebed het (i) danksegging, (ii) aanbidding, (iii) voorbidding, en (iv) toewyding.
Hoor ons die woorde van Paulus aan die gemeente in Filippense 4:6-7, “Moet oor niks besorg wees nie {1. moenie vrees nie} maar maak in alles julle begeertes {2. dit is letterlik, ALLES} deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend {3. dankbaarheid ontsluit die krag van God} en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan {4. belofte} sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Jy sien, die 4x4 hou nie op nie. Dit is allesinsluitend, allesomvattend, allesmagtig, en die allesteenwoordige. Die wêreld, die intellek, vriende en kontakte kan vir jou baie dinge gee, maar nie geloof nie, nie hoop en liefde en vrede nie ... GEBED kan!
Kom ons gesels eerskomende Sondag oor GEBED — kom ons skuif die ‘WAT’-vraag na ʼn ‘HOE’-antwoord; kom ons verken gebede wat nie net in ons nood en behoeftes bid nie, maar ook in ons blydskap en oorvloed! Die verskonings wat ons aanbied om nie ʼn gedissiplineerde gebedslewe te hê nie, hou gewoon nie meer water nie ... en as jy TE besig is om te bid, is jy besiger as wat God wil hê jy moet wees.
Kom ons luister na die woorde van Jesus, “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Lukas 11:9-10)
Glo my, DIÉ woorde is vandag nét so relevant as 2000 jaar gelede.
Alles wat mooi en alles wat goed is vir die res van jou week.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
.
“I pray because I can't help myself.
I pray because I'm helpless.
I pray because the need
flows out of me all the time,
waking and sleeping.
It doesn't change God. It changes me.”
― C.S. Lewis ―