21 Mei 2017

Hierdie week se liturgie: 21_mei_2017

Werkswinkel: Geskiedenis van die Bybel die volgende twee Saterdae è 9am-1pm ... eerskomende Saterdag doen ons die Ou Testament: van Abraham tot Jesus. Bevestig asseblief by my ter wille van getalle en hoeveelheid afrol-werk.

Emosies is ʼn snaakse ding ... veral waar geloof en emosies meng. Ons het reeds gesels oor die feit dat ons emosies bepaal ons gedagtes en gedagtes bepaal hoe ons sekere goed ervaar. Elke oomblik van die dag lê gelaai met positiewe en negatiewe emosies. Die kleinste dingetjie kan ʼn positiewe of negatiewe emosie tot gevolg hê en dit vat nie veel om te pendel tussen die twee nie — ons voel goed en positief en skielik luister ons na ʼn lied en die lirieke bring ʼn sekere herinnering by ons op en skielik voel ons melancholies; ons voel bedruk en hormonaal en kry ʼn oproep van iemand van wie ons lanklaas gehoor het en as jy die foon neersit, is dit asof die wolk gelig het; ons ry rustig in ʼn motor en sien uit na ons bestemming tot iemand voor ons indruk en dit voel of jou bloed kook as jy teen 120 km/h skielik die ratte in jou kop in trurat gooi; of jy het ʼn moeisame dag waar selfs jou moeg, moeg is as jy deur die voordeur stap tot jou kind jou met ʼn soen kom groet en opgewonde vertel van sy dag en dit voel hoe elke bekommernis en druk van jou skouers lig en kort voor lank word daar gelag en is die dag se spanning verlig.

Dit is maar enkele voorbeelde van hoe elke dag pendel tussen aksies en reaksies. Die hartseerste van alles is die feit dat die meeste van ons soek na ‘geluk’ (happiness) en ‘vreugde’ (joy) BUITE onsself. Iets buite onsself moet ons behoeftes en verwagtinge bevredig ... wat ons uiters broos en kwesbaar laat omrede ons voel ons is (binne) nie genoeg nie. Iemand het êrens geskryf, “Emotions become shorthand for thoughts” — een enkele emosie word vervang deur ʼn miljoen gedagtes. Doen jouself ʼn guns en speel die ‘10xWHY’ met jouself: as jy weer een of ander negatiewe emosie het, vra jouself 10x die vraag “WHY?” en hier teen nommer 7 of 8 sal die waarheid deurbreek waarom jy voel soos jy voel.

Ons gesels dié maand oor die tema — GO WITHIN AND DROP THE WITHOUT — wat ʼn oproep is om na die binnekant te gaan met ons behoeftes vir liefde, vreugde, vrede, en geluk. Om dit aan die buitekant te jaag, gaan jou op ʼn spoor sit waar jy jou hele lewe lank gaan hardloop en in jou dolle vaart na wie-weet-waar sal jou lewe by jou verbysnel en al wat jy gaan hê om te vertel, is die paar stasies waar jy gestop het. Die res van die tyd sal jy net deur ʼn venster kyk hoe die landskap by jou verbyflits.

Kom ons verken Sondag die woorde van Jesus as hy sê, “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid (to be what you ought to be) en al die ander dinge sal vir jou bygevoeg word” (Matteus 6:33) en dan gesels ons oor — LETTING GO OF ATTACHMENTS. Ons gaan na die volgende 10 emosies kyk: vrede, vreugde, moed, trots, verlange, skaam, skuld, empatie, geluk, en hartseer.

Die laaste paar dae het ek baie gelees, gedink, en geskryf in my dagboek oor al die emosies wat ons daagliks ervaar en hoe ons dit gedagtes gee. Die meeste van hierdie emosies lê in ons onderbewussyn en is ons nie eers bewus daarvan hoe dit ons gedagtes manipuleer nie. Die vraag is natuurlik hoe om negatiewe emosies te swaai na positiewe emosies. Twee van die grooste lesse wat ek uit ACIM geleer het, is die volgende: (1) ALLE emosionele pyn is as gevolg van ʼn skuldgevoel (emosies van verlies, mislukking, teleurstelling, selfverwyt, en spyt) en (2) die onderliggende emosie agter elke negatiewe emosie is vrees (vrees vir verwerping en veroordeling). Die oorweldigende invloed van hierdie twee emosies (skuldgevoel en vrees) moet nooit onderskat word nie.

Daarom is die boodskap van Jesus oor vergiffenis so belangrik. Self-vergiffenis maak ons vry van skuldgevoel terwyl vergiffenis van ander ons vry maak van vrees. Die slotsom waartoe ek gekom het die laaste paar dae is dat emosies ʼn psigologiese doel het om ons in ʼn rigting te stuur van verandering. Die spirituele beginsels van vergiffenis, versoening en vernuwing lê in elkeen van ons se hande. Wil ons regtig ons hele lewe deurgaan met verwyt en spyt of gaan ons verantwoordelikheid vat vir die konsekwensies van ons keuses en besluite? Verstaan ons regtig wat vergiffenis beteken ... en dat dit nie beteken iemand wen/verloor nie? Ek verstaan jy het ʼn midlife crisis en wil met ʼn Harley Davidson en verkieslik ʼn 20-something op die agtersitplek jouself “gaan vind”, of dat jy steeds emosioneel verwond en geamputeer voel deur die bure se seun wie se fiets groter was as joune toe jy 8 was, maar genade ons, êrens moet ʼn mens aanbeweeg en besef dat negatiewe emosies is ʼn oproep tot (positiewe) aksie. Ons kan nie die res van ons lewe met ʼn wrok loop of aanhoudend jou ouers of (x)man/vrou blameer vir alles wat ‘verkeerd’ is of ʼn tantrum gooi elke keer as ons nie ons sin kry nie! Waar negatiewe emosies ons van agteraf bekruip, is dit ʼn geleentheid om iets te doen!
Vreugde en geluk is nie iets wat uit die hemel val nie. Dis ook nie iets wat iemand vir jou moet gee nie — dit moet uit ʼn plek aan die binnekant kom en dit is eers as ons daarvan oorloop dat ander daardeur geraak en beïnvloed sal word om anders na ons te kyk en anders teenoor ons sal reageer. Emosies is in daardie opsig slegs rigtingwysers. Om dit te onderdruk net om sosiaal aanvaarbaar te wees of te ontken net om die vrede te bewaar, maak nie dat dit weggaan nie. Ons moet ʼn verantwoordelike, volwasse manier vind om na die BINNEKANT te gaan en alles wat ons dink ons NIE HET NIE laat gaan. Elke liewe mens, in elke kultuur, ryk of arm, oud of jonk, wil gelukkig wees. Dis maklik om te sê wat ons wil hê — die vraag is: wat is jy bereid om op te offer; is jy bereid om die pyn te vat ter wille van ʼn positiewe verandering in jou lewe? Want dit lyk vir my of hierdie vraag gaan bepaal hoe jou lewe uitdraai. Presies dit wat soms jou hart breek, is wat dit ook weer heelmaak.

Om gelukkig te wees vra moed. Om gemoedsrus (peace of mind) te ervaar, vra dat jy dapper besluite sal neem wat nie altyd tot ons voordeel en lekker is nie. Vreugde groei nie tussen daisies of wag in ʼn pot onder ʼn reënboog nie. Dit word meestal gebore uit die stryd om sin te maak van alles in en om ons. Of die stryd ʼn angstigheid is oor ʼn huwelik wat op rotspunte loop en of dit ʼn diknek baas is wat jy agt ure elke dag moet tolereer ter wille van finansiële sekuriteit, die antwoord lê in ʼn aktiewe verbintenis om ʼn negatiewe ervaring te swaai na positiewe emosies — nie die ontkenning en onderdrukking daarvan nie, ook nie die sprokie-verwagting dat iemand jou moet ‘red’ nie — maar ʼn eerlike (h)erkenning dat die Koninkryk waarvan Jesus praat is nie pyn-vrye lewe nie maar wel ʼn triomfantlike lewe. As Jesus vra, “Waarom sien jy die splinter in jou broer se oog, maar nie die balk in jou eie nie?” (Matt 7:3) dan is dit ʼn vraag om ons gemeenskaplikheid te sien en nie alles wat verskillend is nie. Wat bring ons nader aan onsself en derhalwe nader aan mekaar? Wanneer daardie innerlike leegheid as gevolg van ʼn gebrek aan selfwaarde vervang word met ware self-liefde, self-respek, self-vertroue sal ons nie meer daarna soek in die wêreld nie. Ons sal ons verknogtheid aan alles wat deur motte opgevreet word en oor ʼn jaar of twee geen betekenis gaan hê nie, opgee (let go) om plek te maak vir ʼn blywende gevoel van tevrede, genoegsaamheid, dankbaarheid, en waardering.

ACIM — Kolping 25 Mei 19h30. Stad 22 Mei 19h30 — Chapter 12: The Holy Spirit’s Curriculum (p215)

Besoek ons Facebook ​​​​​​​

Gedagte vir die Week:
“Here is my secret. It is very simple: It is only with the heart that one can see rightly; what is essential is invisible to the eye.” ― Antoine de Saint Exupéry, ‘The Little Prince’

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights