Hierdie week se liturgie: 16_februarie_2014
Ek sit in verwondering vasgenael voor die TV met die Winter Olimpiese Spele in Sochi Rusland. Die dissipline en konsentrasie van die atlete; die toewyding en dryfkrag om te presteer, is verbysterend. Natuurlik is talent en oefening belangrik maar daar is iets anders wat in elkeen van hulle geweef lê — die WIL om te wen! Soms is daar net een punt wat die een wat ‘goed’ is, skei van die een wat ‘beter’ is en soms is daar ʼn breukdeel van ʼn sekonde wat die verskil maak tussen ‘beter’ en ‘beste’ maar een ding is verseker — almal is goed genoeg om daar te wees en om te sê “GOUD” beteken jy is die beste!
My hart breek vir atlete wat vier jaar (of langer) gewag het vir hierdie geleentheid; baie ure ingesit het om voor te berei en dan in ʼn split sekonde gaan iets verkeerd en hulle is uit. Dis asof my hele wese wil uitroep, “gee hom/haar nog ʼn kans” maar ongelukkig werk die reëls nie so nie. ONS, daarenteen, kry weer en weer ʼn kans om van voor te begin; om dinge anders te doen; nog ʼn keer te probeer ...
Dikwels as ons in ʼn krisis is in ons lewe, kan ons nie onsself voorstel dat dinge weer ‘goed’ sal gaan nie. Ons draai vas in ʼn doolhof van onsekerheid en gee oor aan die dryfsand van vrees. Ons kry nie daardie verhoging waarvoor ons gehoop het nie, en raak dan moedeloos. Ons kry nie die werk waarvoor ons aansoek gedoen het nie, en gee dan moed op. ʼn Huwelik spat uitmekaar en ons sê vir onsself, “ek sal nooit weer ʼn man/vrou naby my toelaat nie!” Iemand stel jou teleur en al waaraan ons kan dink, is om niemand weer te vertrou nie. Al hierdie ‘reaksies’ (emosies) het een ding ingemeen naamlik die ego se wrang verguising, ‘not ______ enough’ en daaroor het ons nou al vir twee Sondae gesels oor wat dit aan ons psige doen as ons eers begin inkoop in hierdie verwronge idee van alles wat ons laai tussen ‘nie ______ genoeg’ nie.
Ook ons taal het so ontwikkel om in paradokse (dichotomies) te dink. Iets is goed of sleg; mooi of lelik; reg of verkeerd ... en of dit nie genoeg is nie meng ons soms ook sommer die twee en praat van iemand is ‘verskriklik slim’ (verskriklik?) of ‘vreeslik mooi’ (vrees?) en wat ‘goed’ is, is ook outomaties ‘reg’, en wat ‘sleg is, is outomaties ‘verkeerd’ en so begin die ego-spel van vooroordeel en veroordeel met bitter min onderskeidingsvermoë.
In die eerste verse van die Bybel lees ons — “Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien die lig is goed” (Gen 1:3-4) “God het die droë grond “aarde” genoem, en die waters wat bymekaar gekom het, het Hy “see” genoem. God het gesien dit is goed.” (Gen 1:10) “Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. God het gesien dit is goed.” (Gen 1:12) “God het hulle (son en maan) in die hemelgewelf geplaas om op die aarde lig te gee, om oor dag en nag te heers en om lig en donker van mekaar te skei. God het gesien dit is goed.” (Gen 1:17-18) Na elke ding wat tot skepping gekom het, herhaal die refrein tot aan die einde as daar in Genesis 1:31 staan – “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.”
Kom ons staan eerskomende Sondag stil by ʼn paar vrae:
· Wie, Wat, Waar is hierdie God wat na alles kyk en sê “Dit is goed”? (veral as als om ons verspoel en verduister)
· Waarom is dinge wat goed is vir ons soms bitter sleg? (dink aan oefening vir atlete of behandeling as jy siek is)
· Wanneer weet ons genoeg is goed genoeg? (al die goeters goed waarvoor ons kan dankie sê)
Daar is baie dinge waarvan ons die beste het maar waar raak dit jou hart om te sê: dis nie wat ek HÉT wat my goed genoeg maak nie maar wie ek IS.
Ons staan Sondag stil vir ʼn uur oor die tema, GOED GENOEG VIR GOD en dan herinner ons onsself aan die inhoud en betekenis van Prediker 3:10-13 “Ek het gesien dat God aan die mens ’n taak gegee het om hom mee besig te hou. God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie. Ek het tot die insig gekom dat daar vir ’n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ’n geskenk van God.”
Onthou ons Neo-Spektrum Fees op 22 Februarie 2014 — 17h00 vir 17h30 by Diemersdal met kos, wyn, gesels, musiek van Loki Rothman en ballonne vir die sterre. Bespreek asseblief by my!
Die Kolping ACIM groep Donderdag 13 Februarie 7pm — ons lees verder Chapter 1, Section 1 “The Meaning of Miracles” en Maandagaand 17 Februarie 19h30 in die STAD
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
“Do your little bit of good where you are; it's those little bits of good put together that overwhelm the world.” ― Desmond Tutu
