Hierdie week se liturgie: 15_jan_2012
Feitlik elke week word daar geblaai deur ‘quotes’ in boeke en internet opsoek na ʼn aanhaling of twee wat ʼn idee of konsep verwoord. Daagliks word lyne in artikels en boeke langs my bed onderstreep en gemerk met verskeie simbole, elkeen met hul eie betekenis ... byvoorbeeld, musieknote ♪♫ beteken: lees meer hieroor; ʼn regmerkie beteken: lees dit weer, terwyl ʼn hart ♥ sê: moenie dit vergeet nie. So is daar ʼn handvol tekens en merkers vir ʼn reis deur elke boek in ons lewe.
Ons het baie strikkies in ons geheue wat in ʼn oogwink ʼn hele laai vol herinneringe oopmaak – ons hoor ʼn lied en skielik onthou ons in kleur ʼn spesifieke gebeurtenis; ʼn vriend of vriendin bel of stuur ʼn teksboodskap en die oomblik as jy hul naam hoor, onthou ons ʼn hele vervolgverhaal in 3D of jy sien ʼn prentjie op TV of in ʼn tydskrif en plotseling is ons terug op ʼn spesifieke plek waar dié kiekie geraam is. Ons vergeet maar onthou! Ons bêre dit êrens diep in ons geheuehangkas maar vind dit sonder om te soek. Ons jaag teen die spoed van klank al soekend opsoek en sny spreekwoordelik spoor na iets wat ons wil hê net om uit te vind ons het dit reeds. Dit was nooit weg nie!
Dis nou maar eenmaal ʼn universele beginsel: wat jy die graagste wil hê, gee dit aan ander – as jy liefde soek, gee liefde vir iemand anders; as jy verlang na vrede; gaan maak vrede met iemand; as jy vra vir finansiële versorging, gee wat jy het aan iemand in nood – want deur dit te doen, kom dit ALTYD terug in oorvloed! Wat ons ‘dink’ ons verloor het, ontvang ons in tienvoud terug. Nie omdat jy ʼn witbroodjie is nie maar omdat sirkels die beginsel van die ganse Kosmos is. Planete en sonnestelsels beweeg in sirkels; neutrone en protone beweeg in sirkels en so gaan ek en jy ook deur die seisoene van ons sirkels. Miskien probeer ons sin maak van ons reghoek-, driehoek- en vierkantbestaan. Kom neem Sondag deel in ons sirkel oor die tema:
ALLES beweeg in sirkels.
Die fontein word rivier; die rivier word oseaan; die oseaan word reën en die reën weer fontein
Die seer word heel; die vergeet word onthou; die verwydering (afstand) word versoening (eenheid)
Twyfel word geloof; slaap word wakker; sterf word geboorte; hartseer word ekstase
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
10h00 Sondag in die kapel van die Kolping Sentrum.
Bring jou pen (verhaal) en skryf jou woorde (verwagting) met die ink van jou liefde (vertroue)!
Ons sirkel is groot genoeg vir ALMAL ... 🙂
Ons GESPREKSGROEPE hervat weer na die skoolvakansie. Ons gee eersdaags die datums van wie, wat en waar.
Gedagte vir die Week:
Our DNA is divine. The divine indwelling is never earned by any behaviour whatsoever or any ritual, but only recognized and realized, and fallen in love with.
“En God het gesê: laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Genesis 1:26)
