Potgooi:
“Where kindness, love, and mercy dwell, there God is dwelling too.”
— William Blake —
Vandag staan ons stil by die derde profeet uit die bundel van ‘Kleiner Profete’ met die naam, Miga. Sy Hebreeuse naam is: Michayahu, wat beteken: “Wie is soos die Here?”
Miga kom van ʼn klein dorpie, skaars ʼn kolletjie op ʼn kaart met die naam: Mareshah sowat 40km suid-wes van Jerusalem in Judea.
Hy leef tussen 742-687BCE en is ʼn tydgenoot van Jesaja, Amos, en Hosea tydens die koningskap van Jotham, Ahaz, en Hezekiah.
Hierdie profeet uit die platteland kom uit ʼn boere-gemeenskap en was diep geraak deur die onderdrukking en lyding van gewone mense, en uitgesproke teen die elite in Jerusalem wat die landelike bevolking uitgebuit het.
Hy leef in ʼn tyd van politieke korrupsie, ekonomiese ongelykheid, en die skynheiligheid van die geestelike leiers. Net soos Amos, pleit hy vir morele integriteit onder die priesters, en etiese geregtigheid vanuit die paleis.
Hy vat sy boodskap na Jerusalem in Judea asook na Samaria in die Noordelike Ryk. Dit het ekonomies baie goed gegaan met Juda en Israel maar die welvaart van ʼn paar was ten koste van die meerderheid burgers wat gebuk moes gaan onder die misbruik van mag deur die aristokrate. Vir hom, net soos vir Amos, was daar ʼn enorme split tussen wat mense bely in tempels en sinagoges, en hoe hulle gewone mense behandel.
Soos elkeen van die ander profete, was Miga se empatie en deernis by hulle wat arm en onderdruk word want vir Miga was God meer besorgd oor sulkes as oor die skynheiligheid van diegene wat in tempels aanbid en offerandes bring en net omgee oor hul eie aansien en welvaart.
Wat Miga keer op keer sê, is dit — worship means nothing if it doesn’t change how we treat others.
Sy motivering was eenvoudig — doen wat regverdig is, bewys compassion met hulle in nood, leef moreel verantwoordelik, hê integriteit in jou besigheid, en belyn jouself met die wil van God.
Hy pleit vir ʼn geloofwaardigheid wat almal met menswaardigheid behandel. Hy voorspel dat Assirië die Noordelike Ryk gaan inval wat toe ook gebeur in 722BCE. Hy vermaan dat dieselfde lot vir Juda in die gesig staar as hul nie tot inkeer kom en regverdigheid, medelye, en beskeidenheid belangriker ag as die hebsug, selfgeregtigheid, en arrogansie van die politieke elite nie.
Hy droom van ʼn tyd waar alle nasie “hulle swaarde sal verander in ploegskare” (Miga 4:3) en dat daar vrede en harmonie sal wees onder al die volkere.
Saam met regverdigheid (mishpat) gaan ‘chesed’ wat beteken: liefdevolle-goedheid (loving-kindness), standvastige liefde, of wat ons verstaan as, ‘genade’ (grace).
“Chesed is die fontein van wysheid, die daaglikse brood van die siel. Waar ons vir ander chesed wys, sien hulle die hart van God.” — Talmud
Maar dit is in 5:1 waar hy die woorde van hoop hoor as God sê,
“Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om 'n heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer.”
Vir Miga is dit ʼn belofte dat uit die geslag van Dawid (300 jaar vantevore) sal ʼn heerser kom wat Israel en Juda sal verenig en vrede bring. Vir Christene is die geboorte van Jesus die vervulling van hierdie belofte.
Sy boodskap kan saamgevat word in een vers wat sou eggo deur alle eeue, in al die profete, asook in die leer en lewe van Jesus —
Drie woorde wat Miga soos ʼn refrein herhaal: mishpat, chesed, tsana — regverdigheid, liefdevolle-goedheid, nederigheid — wat die kern van ons geloof en godsdiens is. Dit is die fondament waarop die kerk gebou is. Dit is die wese van elke verhouding waarin ons staan, en behoort die manifesto te wees van elke liewe politieke party!
• “Om te doen wat regverdig is…” — soos laas week gesê: die teenoorgestelde van armoede is nie rykdom nie maar regverdigheid. Dit is om op te staan teen uitbuiting in enige vorm daarvan, teen oneerlikheid, en om ten alle koste te waak waarteen elke ander profeet waarsku: our complacency and indifference.
Behandel almal met respek en gelykheid; wees eties in jou werk en tree op met integriteit; staan op vir diegene wie se stem nie gehoor word nie.
• “Om chesed lief te hê…” — of dit is by jou werk, in jou gesin en huwelik, in jou familie en vriendekring, of selfs teenoor ʼn vreemdeling: BE KIND!
Daaruit vloei ons liefde, vreugde, en vrede. Dis die krag wat vergiffenis en compassion moontlik maak, en die essensie van wat dit beteken om Christen te wees.
• “Om nederig te wandel…” — hoe anders is ons oop om die liefde en genade van God te ontvang; hoe anders sal ons weet wat moet verander en verbeter in ons lewe as daar nie nederigheid is nie? As jy nie voor God kan kniel nie, hoe gaan jy staan voor enige iemand anders?
“Nederigheid is nie om minder van jouself te dink nie, maar om minder net aan jouself te dink,” het C. S. Lewis gesê.
Jesus vat al die gebooie en profete saam deur te sê: “Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê!” (Matt 7:12).
Ek glo dit met my hele hart dat waar ons dit, en nét dit doen, sal daar geen oorloë wees nie, sal ons nie meer repe van mekaar afskeur in ons huwelik en gesinne nie, en sal ons gierigheid en hebsug plek maak vir ʼn samelewing waar geen kind honger hoef te gaan slaap nie.
Regverdig. Liefdevol. Nederig.
Onthou dit.
Met liefde.

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
