Vier Vroue — Die Verhaal van Maria Magdalena

19/08/2026

Potgooi:

 

“It is only with the heart that one can see rightly; what is essential is invisible to the eye.”
— Antoine de Saint-Exupéry

So kom ons aan die einde van Vrouemaand se gesprekke oor merkwaardige vroue in die Bybel wat Spreuke se ‘Lady Wisdom’ vergestalt.

Ons het gesels oor Hagar, die Egiptiese slavin wat geleer het dat Wysheid laat jou sien en hoor. Ons het gesels oor Deborah wat geleer het dat Wysheid laat jou opstaan vir die waarheid. Toe het ons gekyk na die aangrypende verhaal van Rut, ʼn Moabitiese weduwee wat geleer het dat Wysheid maak jou lojaal en getrou.

Dit was moeilik om te besluit wie die vierde vrou sal wees, want ek dink aan Abigail “die verstandige en mooi vrou” (1 Samuel 25:3) van Nabal, vir wie sy intree toe Dawid, tipies soos hy was, dreig om haar hele gesin te vermoor omdat Nabal nie vir hulle kos wou gee nie. Haar wysheid was die woorde aan Dawid: Moenie iemand anders se dwaasheid toelaat om jou karakter te bepaal nie.

Daar is Ester — haar grootste wysheid was nie dat sy mag gehad het nie, maar dat sy geweet het wanneer om te wag, wanneer om te praat en wanneer om haar stem en invloed te gebruik.

Maar daar is geen beter vrou om die reeks mee af te sluit nie as: Maria Magdalena — seker een van die mees misverstane vroue in die geskiedenis van die Christendom.

Kom ons begin met die verwarring oor die DRIE Marias wat ons ontmoet in die Nuwe Testament. Die naam kom van die algemene Joodse vrouenaam Miriam en sy sou bekendgestaan het as: Miriam ha-Magdalit (vrou van Magdala i.e. Magdalena).

  • Die eerste is Maria, die moeder van Jesus — sy is die jong vrou van Nasaret wat die aankondiging van die engel ontvang (soos Hagar) en die moeder van Jesus was.
  • Die tweede is Maria van Betanië — die suster van Marta en Lasarus wat Jesus se voete salf en met haar hare afdroog.
  • Die derde is Maria Magdalena — ʼn volgeling (sou haar 'n dissipel kon noem) van Jesus. Sy het saam met hom gereis, gesorg dat hy iets het om te eet en ʼn plek het om te slaap. Sy was by die kruis en by die graf, en die eerste persoon wat die boodskap van die ‘opstanding’ aan die dissipels gaan vertel het.

En tog het die kerk haar eeue lank onthou vir iets wat die Bybel nooit sê nie: dat sy 'n prostituut was. Dit was Pous Gregorius in die sesde eeu wat Maria Magdalena die “berouvolle prostituut” genoem het. Wie weet wat sy verwronge teologie beïnvloed het — of was hy bloot te bang om haar invloed en gesag te erken?

Lukas 7 verwys na ʼn vrou “wat 'n sondaar was in die stad” maar gee haar geen naam nie. Johannes 8 praat van ʼn vrou “wat in owerspel betrap is,” en gee haar ook nie ʼn naam nie. Sy word nêrens ʼn “prostituut” genoem nie. Hoe hartseer dat oor tyd hierdie vrou, Maria van Betanië, en Maria Magdalena dieselfde vrou geword het.

Wysheid wat Genees

Lukas vertel dat “sewe demone het uit haar gegaan” en ons moet versigtig wees om nie in die teks te lees wat daar nie staan nie. Ons weet nie wat ‘sewe demone’ beteken nie.

Ons weet nie of dit fisiese siekte, of psigologiese lyding of trauma was nie. In daardie tyd is epilepsie beskou as duiwel-besete en sulke mense is uit die stad gejaag. Depressie, angstigheid, bipolêr, en vele ander sielkundige diagnoses is glad nie verstaan nie en mense wat hieraan ly, het maklik die label van demone gekry — hoe hartseer dat nog NIKS vandag verander het hieroor nie.

Al wat ons weet, is dat iets buitengewoons gebeur het, en sy gaan nie huis toe om vir die res van haar lewe bekend te staan as die ‘vrou wat genees is’ nie. Sy het ʼn naam, sy kry ʼn plek en ʼn stem, haar lewe het doel en betekenis gehad.

Die Christus sien jou in jou volle potensiaal. Dit is nie meer Hagar die slavin, of Deborah ʼn vrou in ʼn patriargale wêreld, of Rut die Moabitiese weduwee nie, maar Maria — ʼn vrou met ʼn roeping, en ʼn unieke boodskap.

Wysheid wat Bly

Sy word genees en sy bly. Sy stap die pad saam met Jesus en wanneer hulle hom wil stenig dan bly sy. As die pad uiteindelik na Jerusalem lei, dan is sy daar, en as Jesus gekruisig word, is sy daar. Die een dissipel verloën hom, die ander een word ongelowig, sommige vlug die berge in, en die ander sluit hulself in ʼn kamer toe… maar Maria blý. Sy gaan saam graf toe, nie omdat sy verwag hy moet opstaan nie, maar omdat Jesus dood is.

Soos Rut weet sy dat wysheid is lojaliteit en getrouheid. Wysheid is dapperheid as dit makliker is om aan vrees oor te gee. Sy weet dat wysheid is die liefdevolle goedheid waarmee ons gee en omgee.

Wysheid wat Getuig

Maar dit is wat vroeg die Sondagoggend by die graf gebeur wat haar lewe, en daarmee saam die ganse Christendom sou verander. Sy kom in die tuin, die klip is weggerol, en sy verstaan nie wat het gebeur nie. Sy dink iemand het sy liggaam gevat. ʼn Man staan langs haar en sy dink dit is die tuinier, maar toe hy haar naam sê, hoor sy die stem van haar Rabboenie.

Hy sê vir haar, “Gaan, en vertel,” en so word sy die eerste mens wat die boodskap van ‘opstanding’ verkondig. Sy gaan na die dissipels en sê, “Ek het die Here gesien!”

Die vraag is nie waarna jy kyk nie, maar wat jy sien. ʼn Getuie is nie iemand wat dit êrens gehoor het nie, ʼn getuie is iemand wat getrou is en daarom vertrou kan word.

In 1896 koop ʼn Duitse diplomaat ʼn Koptiese papirus-kodeks wat fragmente van ʼn verlore Evangelie wat deur Maria Magdalena geskryf is. Die manuskrip wat ontdek is, is nie die oorspronklike teks wat deur Maria geskryf is nie, maar ’n veel later Koptiese afskrif van ’n teks wat waarskynlik in Aramees of Grieks geskryf is.

Ons het nie Maria se hele verhaal nie. Die eerste bladsye het verlore gegaan. Miskien is dit gepas, want Maria Magdalena se verhaal was nog altyd 'n verhaal wat ander mense probeer het om te skryf — en selfs wanneer die bladsye ontbreek, kan haar stem steeds gehoor word.

Sy vertroos en onderrig, sy praat van ʼn “visioen” wat sy ontvang het en is ryk aan geestelike insig. Sy daag selfs die gesag van Petrus uit.

Ons gaan Sondag na drie verse uit hierdie Evangelie kyk, want die wysheid wat daarin opgesluit is, is vandag nog steeds relevant en van betekenis. In elkeen van hierdie gedeeltes is Jesus aan die woord as dit praat oor wat ‘sonde’ is en beteken; die eenheid wat bestaan tussen alles in die skepping; en die waarskuwing om nie nóg meer reëls en wette te maak wat die Evangelie van die Koninkryk verduister nie.

Al wat oorbly, is om te vra: Waarvan getuig jóú lewe? As jou lewe die enigste evangelie is wat iemand ooit lees — wat sou dit vir hulle van God se liefde vertel?

Soos altyd,

 

Gedagte vir die Week

“Not everything that is faced can be changed; but nothing can be changed until it is faced.”
James Baldwin.

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights