Vier Vroue — Die Verhaal van Hagar

29/07/2026

Potgooi:

 

“My mission in life is not merely to survive but to thrive and to do so with some passion, some compassion, some humour, and some style."
— Maya Angelou 

Elke Augustus vier Suid-Afrika Vrouemaand. Ons onthou die moed van meer as twintigduisend vroue wat op 9 Augustus 1956 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk het. Hulle het in stilte gestap en gesing. Sonder geweld. Sonder geskreeu, met 'n innerlike krag wat 'n hele land se geskiedenis sou verander.

Hulle het nie net teen die paswette geprotesteer nie, hulle het opgestaan vir menswaardigheid, vir geregtigheid, en vir elke mens se reg om gesien, gehoor en gerespekteer te word.

Oor en oor het hulle in Zulu dié enkele sin uitgeroep: “Wathint’ abafazi, wathint’ imbokodo!” (As jy 'n vrou slaan, slaan jy 'n rots!)

Vrouemaand is meer as ʼn herinnering aan die verlede; dit is ʼn uitnodiging om te vra: Wie is die vroue wat ons vier?

Nie net hulle wat bekend en invloedryk was nie, maar al die vroue wat stil-stil die wêreld dra.

  • Die vrou wat douvoordag opstaan om haar kinders gereed te kry vir skool.
  • Die verpleegster wat ná 'n twaalfuur-skof haar pasiënte met 'n glimlag groet.
  • Die onderwyseres wat elke dag die hoop van 'n toekoms in kinders plant teen 'n minimale salaris of erkenning.
  • Die ouma wat haar klein pensioen deel sodat haar kleinkinders kan eet.
  • Die huishulp wat ander mense se huise skoonmaak terwyl sy selde haar eie gesin sien.

Van kleinsaf het ek my seun daaraan herinner dat 50% van ons bevolking is vroue en die ander 50% is gebore uit vroue. Dít alleen verdien ons diepste respek.

Wanneer ons aan groot Bybelse helde dink, dink ons aan Abraham, Moses, Dawid, Elia, en Paulus. Wanneer die Bybel oor wysheid praat, vind ons haar selde in paleise of in tempels. Ons ontmoet haar op stofpaaie, sy sit langs ʼn put, sy bewerk die landerye, en sy huil by grafte.

Vir ʼn maand lank het ons gesels oor die Hebreeuse woord vir wysheid (chokmah) en die woord vir insig en begrip (binah). Beide is vroulike woorde in die klassieke taal.

Chokmah is veel meer as intelligensie of kennis. Chokmah is die vermoë om die groter prentjie en die mooi om ons raak te sien; om te kan onderskei wat lewe gee en wat lewe vernietig; en om met deernis, moed, en liefde op te tree.

Spreuke verwys na Lady Wisdom wat roep op die straathoeke, mense nooi na haar tafel, en wat lig bring wanneer dwaasheid ons verblind.

As ons Lady Wisdom die eerste keer ontmoet, is sy nie ʼn koningin of profetes nie, maar ʼn jong vrou sonder status, sonder enige regte, sonder ʼn stem, of enige toekoms.

Haar naam was Hagar.

Ons ontmoet Hagar in Genesis 16 ongeveer 4000 jaar gelede. Abraham en Sara (sy half-suster en nou vrou) woon in Kanaän. God het Abraham belowe dat hy ʼn groot nasie sou word, maar die jare gaan verby en Sara bly kinderloos.

Vir ons klink dit soos ʼn persoonlike hartseer, maar vir die mense van daai tyd was dit veel groter. Kinders was jou nalatenskap, jou pensioen, en jou voortbestaan. Onvrugbaarheid was nie net emosioneel pynlik nie, maar sosiaal op neergekyk.

Sara neem ʼn besluit wat destyds kultureel aanvaarbaar was, maar vir ons vandag skokkend klink: sy gee haar Egiptiese slavin vir Abraham sodat Hagar namens haar ʼn kind kan baar.

Niemand vra vir Hagar wat sý wil hê nie. Niemand vra of sy instem nie, want in die antieke wêreld het ʼn slavin eenvoudig geen regte gehad nie. Haar liggaam en lewe het aan iemand anders behoort.

Ons weet nie hoe oud Hagar was nie. Ons weet nie wie haar ouers was, of sy broers en susters gehad het, en of sy ooit verlief was op iemand nie. Ons weet nie waarvan sý gedroom het toe sy ʼn klein dogtertjie in Egipte was nie. Die Bybel vertel ons niks van haar nie — en miskien is dit juis die punt.

Kort nadat Hagar swanger geraak het, verander alles. Sara se jaloesie loop oor in kwetsende woorde en venynige reaksies. Genesis sê, “Sara het haar sleg behandel,” maar die Hebreeuse woord is sterker en impliseer ‘mishandeling’.

Hagar doen wat baie van ons doen as emosionele pyn ondraaglik word, sy skraap die moed bymekaar en vat die pad. Sy weet nie waarheen nie. Al wat sy weet is dat sy nie ʼn dag langer gaan bly waar sy die slagoffer is van Sara se onmenslike behandeling, en Abraham wat nie die moed gehad het om vir haar op te staan nie.

Ná dae se rondswerf in die woestyn met geen idee waar sy is of waarheen sy op pad is nie sak sy inmekaar by ʼn put — en presies daar ontmoet God vir Hagar.

Vir Abraham is sy “die slavin” en vir Sara is sy “die bediende” maar vir God is sy: “Hagar.” Vir die eerste keer in haar lewe sien iemand haar raak, noem iemand haar op die naam. Let mooi op: Hagar vind nie vir God nie, God vind vir Hagar.

God se eerste woorde aan Hagar is nie 'n preek nie. Dis nie veroordeel of teregwys nie, maar 'n vraag: “Hagar… waar kom jy vandaan, en waarheen gaan jy?”

Wat God vra, is: “Vertel My jou storie.”

Miskien is dit die eerste daad van liefde: om liefdevol na iemand te luister om te probeer verstaan (binah), en om hulle verhaal ernstig op te neem.

Dit is presies wat God vir Hagar gee: aandag, belangstelling, en omgee. Is dit nie waarna elke mens ten diepste verlang nie — om regtig raakgesien te word?

Vir die eerste keer in opgetekende geskiedenis gee iemand vir God ʼn naam. Sy noem Hom: El Ro'i — (die God wat my sien). Dink daaroor: die eerste persoon wat God ʼn naam gee, is ʼn vrou — ʼn swanger Egiptiese slavin wat nou ʼn vlugteling is.

Hagar besef iets wat ons almal nodig het om te hoor: God sien nie soos mense sien nie.

Mense sien status, God sien jou essensie.
Mense sien velkleur, God sien waardigheid.
Mense sien status, God sien ‘n hart.
Mense sien etikette, God sien ‘n naam.

Ons leef in 'n wêreld wat mense voortdurend kategoriseer: ryk of arm, swart of wit, man of vrou, suksesvol of onsuksesvol, landgenoot of immigrant. Maar God kyk anders. Wanneer God na Hagar kyk, sien Hy nie 'n slavin nie, Hy sien 'n geliefde dogter.

Hagar gee die put ʼn naam. Sy noem dit: Be’er-Lahai-Ro'i (Put van die Lewende Een wat my sien) — sy ontdek dat God mense sien wat niemand anders raaksien nie, en sodra jy dit ontdek het, kan jy nooit weer op dieselfde manier na mense kyk nie.

Miskien lyk Lady Wisdom vandag steeds soos Hagar. Sy stap dalk ongemerk deur jou straat. Sy sit dalk langs jou in die verkeer. Sy werk dalk saam met jou. Sy woon dalk in die huis langsaan, of dalk staan sy vanaand voor jou by die kasregister.

Wees daarom vandag die een wat iemand laat sê: El Ro'i! Die God wat my sien.”

Soos altyd, met liefde.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“We realize the importance of our voices only when we are silenced.”
―  Malala Yousafzai 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights