Vier Vroue — Die Verhaal van Deborah

05/08/2026

Potgooi:

 

“A woman is the full circle. Within her is the power to create, nurture and transform.”
— Diane Mariechild 

Ons vier Vrouemaand in Augustus, en onthou hoe meer as twintigduisend vroue op 9 Augustus 1956 na die Uniegebou in Pretoria gestap het. Hulle het nie net teen die paswette geprotesteer nie, hulle het opgestaan vir menswaardigheid, vir geregtigheid, en vir elke mens se reg om gesien, gehoor en gerespekteer te word.

Laas week het ons stilgestaan by Hagar — die eerste persoon in die Bybel wat vir God 'n naam gee: El Ro'i“Die God wat my sien.” Hierdie week ontmoet ons nog 'n merkwaardige vrou. Nie 'n koningin nie, nie 'n priester nie, maar 'n wyse vrou onder 'n palmboom. Haar naam was Deborah wat geleef het in die tyd van die Rigters (soos dit in Afrikaans bekendstaan) maar in Hebreeus word hul genoem, Shofetim (Regters).

Daar is ʼn kollektiewe uitputting wat oor ʼn samelewing kom wanneer dit voel alles val uitmekaar. Dit is nie ʼn moegheid van te hard werk of te min slaap nie, maar ʼn vermoeidheid wat ons oorval wanneer mense begin moed verloor, instellings faal, leiers nie meer vertrou kan word nie, en niemand meer weet wie of wat om te glo nie.

Dit is presies hoe Israel omstreeks 1200 v.C. gevoel het. Geen sentrale regering, en geen georganiseerde weermag nie. Die boek Rigters som hierdie tydperk op in ʼn enkele sin: “Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.”

Dit is nie ʼn erkenning van individuele vryheid nie maar ʼn beskrywing van die stadige ontrafeling van ʼn samelewing in chaos. Die verbond met Abraham en uittog uit Egipte was net vae herinneringe wat op die puinhoop van gebroke drome beland het.

Die Kanaäniete, onder koning Jabin en sy gevreesde bevelvoerder Sisera, het Israel vir twintig jaar onderdruk. Twintig jaar van vrees. Twintig jaar van ekonomiese ineenstorting. Twintig jaar om jou kinders te sien grootword in 'n wêreld waar reis lewensgevaarlik geword het en dorpe verlate was. HOOP het 'n luukse geword wat niemand meer kon bekostig nie.

Sisera het negehonderd ysterwaens gehad. Dit was die antieke ekwivalent van 'n pantserdivisie. Israel het… wel, Israel het heuwels en desperaatheid gehad.

En toe staan Deborah op toe sy ʼn Stem hoor wat sê:

“Word wakker, word wakker, Deborah!
Word wakker, word wakker, sing 'n lied!”
— Rigters 5:12

Die Lied van Debora word deur Bybelwetenskaplikes beskou as een van die oudste (waarskynlik dié oudste) literêre gedeeltes in die Ou Testament. Die meeste geleerdes dateer dit tussen 1 150 en 1 100 v.C. wat dié lied meer as 3 100 jaar oud maak.

Die taal, styl en woordeskat is merkbaar ouer as dié van latere Bybelboeke, en daarom word dit beskou as 'n unieke venster op die vroegste geskiedenis van Israel.

Die Bybel stel haar eers voor as ʼn profeet. Profete was in die eerste plek nie mense wat die toekoms voorspel het nie, maar mense wat die waarheid gepraat het wanneer niemand anders dit wou sê nie — they spoke truth to power.

In teenstelling met die ander ‘Regters’ wat skielik tydens ʼn krisis geroep word, was Deborah reeds goed bekend en ʼn posisie van geestelike gesag beklee. Mense het van regoor Israel na haar gekom om insig en raad te soek.

Regters in hierdie tyd was nie hofbeamptes nie, maar gesien as geestelike leiers, mediators, raadgewers, en bewakers van regverdigheid.

Sy regeer nie vanuit 'n paleis nie, maar onder 'n palmboom wat die Bybel noem: “Die Palm van Deborah.” Geen troon, geen soldate, en geen paleiswagte nie... net wysheid. En van oral af het mense gekom omdat hulle geweet het: hier woon iemand wat luister voordat sy oordeel.

Let op dat die teks nooit haar gesag bevraagteken omdat sy ʼn vrou is nie. Geen verduideliking word gegee, geen verskoning word gemaak nie. Haar leierskap word eenvoudig aanvaar.

Dit staan in sterk kontras met vandag waar ons al te dikwels na mense kyk om ons uit die woestyn te lei wat nog nooit self in die woestyn was nie. Ons bewonder opportunistiese influencers met duisende aanhangers, en vergeet dat Lady Wisdom meer as dikwels onder ʼn palmboom gevind word.

Een van daardie besoekers was ʼn man genaamd, Barak. Sy beloof aan hom oorwinning as hy net die moed sal hê om op te trek teen Sisera. Hy sê dat hy net sal gaan as sy saamkom. Dit gebeur toe presies soos Deborah voorspel het en die leër met hul magtige bevelvoerder vlug toe hul sien hulle is besig om te verloor.

Sisera gaan soek skuiling in die tent van Jael, ʼn Kenitiese vrou, waar sy hom melk gee en onder ʼn kombers toemaak en toe ʼn tentpen deur sy slaap slaan. ʼn Ongewapende vrou het gedoen wat negehonderd ysterwaens nie kon doen nie.

Dit is toe dat Deborah haar gedig, haar gebed toonset en almal hierdie loflied uit hul kop sing. Dit vier nie ʼn militêre oorwinning nie, dit vier dapperheid, getrouheid, geregtigheid, en die gewilligheid van gewone mense om op te tree.

Ten slotte — in die antieke wêreld het jou naam betekenis gedra en iets gesê van wie jy is, waar jy vandaan kom, en wat jou waarde is as mens. Die naam Deborah beteken: BY.

In die Midde-Oosterse wêreld het bye ʼn ryk simboliese betekenis gedra. As ʼn mens na ʼn byekorf kyk, sien ʼn mens die krag van wat gebeur as mense saamwerk. 'n By leef nooit vir homself nie.

Alles wat hy doen, dien die voortbestaan van die hele korf.

In die Bybel is heuning 'n simbool van oorvloed, wysheid, seën, en die liefdevolle goedheid van God.

Die Joodse interpretasie van haar naam som dit mooi op:

  • sy maak wysheid bymekaar van baie plekke net soos bye nektar bymekaar maak van baie blomme;
  • sy verander wat versamel word in heuning i.e. iets lewensgewend;
  • en sy werk dat die hele gemeenskap floreer eerder as persoonlike gewin.

Die Lied van Deborah kan in een sin opgesom word: wanneer mense met moed, wysheid, en geloof opstaan teen onderdrukking, werk God saam met hulle om geregtigheid en vrede te bring.

So hoor ek weer die lied wat die vroue gesing het 70 jaar terug op pad na die Uniegebou — “Wathint’ abafazi, wathint’ imbokodo!” wat beteken: As jy 'n vrou slaan, slaan jy 'n rots!

Soos altyd, met liefde.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“The best leaders inspire others to become the best version of themselves.”
―  Simon Sinek 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights