Potgooi:
“The resurrection gives my life meaning and direction and the opportunity to start over no matter what my circumstances.”
— Robert Flatt —
DIT IS PAASFEES 2026!
Hoe sal hierdie jaar se Paasfees anders wees en elke aspek van jou lewe ʼn nuwe inhoud en betekenis gee, of is dit net nog ʼn langnaweek?
Paasfees herinner ons dat elke ‘einde’ is die begin van iets nuuts. Dat dood nie die laaste woord het nie. Liefde het.
“Resurrection is the heartbeat of Divine Love within creation.”
— Richard Rohr
Dit is nie ʼn eenmalige gebeurtenis 2000 jaar terug in Jerusalem nie maar ʼn daaglikse keuse om lewe te kies bo dood, liefde bo vrees, en opstanding bo kruis.
Vanuit hierdie perspektief besef ons dat God is nie daar en ons hier nie. God is nie in die ‘hemel’ as ʼn geografiese ruimte êrens in die heelal en ons op aarde nie. Hemel is die teenwoordigheid van God, in en om en by ons. Altyd.
Kom ons staan vir ʼn oomblik stil by hierdie twee verse:
Vir ʼn maand lank het ons gekyk na die essensie van ons menswees as beeld en gelykenis van God, wat nie beteken ons lyk fisies soos God nie, maar dat ons Ware Self deel in die wese van God. Ons is ster-stof wat die asem van God asem as geliefdes van God en die inwonende teenwoordigheid van God ervaar in alles wat ons is en doen.
Bowenal, dat die diepste waarheid van onsself lê nie in ons persoonlikheid, ons geskiedenis, of ons oortuigings nie, maar in ʼn stilte, ʼn teenwoordigheid, ʼn ‘EK IS’ voor ‘EK DOEN’ — daardie bloudruk van ʼn ewigheid in ons tydelikheid.
As dit waar is, en dit is, dan is die ‘Koninkryk van God’ nie ʼn plek of gebeurtenis nie, maar ʼn naelstring wat ons verbind met God.
Elke keer wat Jesus praat van die Koninkryk, is dit buite ons verstaan van ʼn koninkryk. Sy tydgenote het ʼn politieke rewolusie verwag, ʼn sigbare koning wat regeer, en die herstel van invloed en mag.
Waarvan Jesus praat, is saad wat val op vrugbare grond, gis wat in deeg versteek is, en ʼn pêrel van onskatbare waarde. Die Priesters en Fariseërs se Godsbeeld sien God as ʼn Regter. Jesus sien God as ʼn pa wat sy verlore seun terug verwelkom.
Hoekom mis ons dit?
Want die wêreld leer ons om êrens anders te kyk. Ons word van kleinsaf geïndoktrineer dat vervulling lê in prestasie, betekenis lê in erkenning, sukses lê in wat ons het.
Selfs ons Godsdiens verkondig dat God is “daar bo”, en hemel is “ná die dood”. Dan wonder ons hoekom ons vreemdelinge vir onsself geword het, en na God soek in dogma, geboue, en religieuse retoriek.
Tradisioneel word Paassondag gevier in herinnering van Jesus se ‘opstanding’ uit die dood — en dit is reg so, maar as Paasfees net ʼn historiese gebeurtenis is, mis ons die realiteit van wat dit beteken om IN Christus op te staan.
Die dieper betekenis van Paasfees is dít: Opstanding is nie net iets wat met die Christus gebeur het nie, dit is iets wat met elkeen van ons gebeur, as ons dit net sal onthou. As ons glo in ons opstanding IN Christus, hoe lyk dit in jou lewe?
Lank gelede het ek hierdie gedig in ʼn Hollandse koerant raak gelees, dit vertaal en oorgeskryf in my dagboek, en van toe af is dit my Paasfees-gebed:
U vra vir my hande, of U dit kan gebruik vir U doel,
ek gee dit maar trek dit weer terug
want die werk was te swaar.
U vra vir my mond, om my uit te spreek teen die onreg,
ek fluister vir U my antwoord
dat ek tog net nie
beskuldig wil word nie.
U vra vir my oë, om die pyn van armoede raak te sien,
ek sluit my oë
want ek wil dit nie sien nie.
U vra vir my lewe,
dat U deur my wil werk,
ek gee vir U net 'n stukkie
sodat ek nie te betrokke sal raak nie.
Here, vergewe ons ons berekende pogings om U te dien:
Alleen soos dit ons pas —
alleen op plekke waar dit veilig is,
alleen met hulle wie dit maklik is.
Vader vergewe ons, vernuwe ons
en stuur ons as bruikbare instrumente
sodat ons die betekenis van die kruis ernstig sal opneem.
— Joe Suriname —
Die tragedie is nie dat die Koninkryk van God afwesig is nie. Die tragedie is dat ons onbewus is daarvan. Die tragedie is nie dat ons dink God het niks meer om te sê nie, maar dat ons nie meer luister na sy Stem nie.
Miskien is dit nodig om die klip voor ons hart weg te rol sodat ons kan opstaan uit ons emosionele en geestelike dood.
Dan sal ons vir die eerste keer verstaan wat ons bedoel as ons bid: Laat U koninkryk kom op aarde net soos in die hemele.
Want die Koninkryk van God is nie eendag later nie — nie êrens anders nie. Dit is hier en nou en IN jou!
Mag dit vir jou en jou familie ʼn baie geseënde Paasfees wees.
Soos altyd, met liefde.

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
