Potgooi:
“You must learn a new way to think before you can master a new way to be.”
— Marianne Williamson —
Vir ʼn maand lank het ons gesels oor Paasfees wat in die Noordelike Halfrond gepaard gaan met LENTE — nuwe lewe, herlewing, vernuwing, wedergeboorte. By ons val dit saam met HERFS — oorgee, loslaat, verandering, transformasie.
Die uitdaging van ons as moderne mens is dat ons uit voeling is met die seisoene in die natuur, maar veral die interne seisoene van die hart. Daar is min, of geen, bewus-wees van die nuanses in die stil oorgange tussen die seisoene want ons leef te gejaagd, en te selfbehep met wat ons gelukkig moet maak dat ons nie weet hoe om te laat los aan dit wat ons stroop van menswaardigheid, of te laat gaan aan dit wat geen waarde toevoeg nie.
Dit vra ʼn nuwe ingesteldheid om emosioneel en geestelik meer aandagtig en oplettend te leef. Dit vra dissipline en toewyding om meer bewustelik te leef.
Wat beteken — om te dink oor die goed waaroor ons dink.
Waarmee voer ons ons gedagtes? Voel dit soms of ons na ons eie lewe kyk asof dit ʼn TV program is?
Ons sien ons emosies, ons spanning, ons reaksies asof dit nie van ons is nie, en dit gebeur MET ons asof ons geen beheer daaroor het nie. Ons DINK oor wat ons moet laat gaan, maar DOEN niks daaromtrent nie — of is die hele tyd besig om te doen sonder om ooit te vra: hoekom doen ons dit?
‘Consciously aware’ beteken om hierdie emosies vry te laat sodat dit plek kan maak vir iets nuuts, iets beter as dieselfde patrone wat oor en oor herhaal.
Kyk na ʼn boom in Herfs. Dit onderhandel nie met die Somer vir later, as dit geleë is, om sy blare te laat gaan nie. Dit doen dit moeiteloos sonder weerstand.
Vanaand om 9 uur sit die TV af en bêre jou foon. Hou die stilte tot jy in die bed klim. Haal asem en dink aan blare wat val. Elke keer wat jy iets wil sê of op jou foon wil kyk, sê vir jouself: “Ek laat dit gaan,” en let op hoe jou gedagtes kleur kry.
In jou volgende vergadering wanneer jy voel jy moet jouself verdedig of iemand korrigeer, haal diep asem en sien hoe jy dit soos blare laat val. Sê een sin minder as wat jy wou. Kyk, jy het die behoefte om altyd reg te wil wees, laat gaan.
In jou geestelike lewe, in plaas van om God weer vir ʼn klomp goed te vra, probeer eerder: “Here, ek weet nie wat ek vandag nodig het nie. Wys my die een ding wat ek nie langer aan vas hoef te hou nie.”
Dis verstommend hoeveel mense sal sug, “Dis nie maklik nie.”
Maar soos Henry Ford gesê het: “As jy dink jy kan, dan kan jy. As jy dink jy kan nie, dan kan jy nie.” Maak hierdie waarheid van toepassing op elke aspek van jou lewe.
‘Consciously aware’ beteken: ek hoef nie alles op dieselfde tyd te doen nie.
Die meeste van ons is verslaaf aan ‘multitasking’ — ons kyk op ons foon terwyl ons met iemand gesels; ons dink aan werk terwyl ons met die kinders speel; ons hou die horlosie dop terwyl ons stiltetyd hou. Dis nie bewustelik teenwoordig wees nie, dit is versnipperde aandag wat sonder betekenis verdamp.
Emosionele Herfs beteken om een ding op ʼn slag te doen wat waarde het en laat die res soos dooie blare op die grond val.
Hoekom is dit belangrik? Want ons dink om besig te wees, beteken ons lewe is ‘vol’ en om die hele tyd ‘aktief’ te wees, wys jy is nie lui nie. Iemand moet net nie vra waarmee jy so besig is nie, want as ons eerlik is, sal ons moet erken: dis ʼn gejaag na wind wat geen vervulling bring nie. Al wat ons het, is: nog ʼn dag is verby.
Eet één maaltyd sonder ʼn skerm. Nie eers musiek nie — net jy en jou kos. Miskien het jy dit nog nooit gedoen nie. Kyk wat in jou bord is. Dink aan hulle wat dit geplant en geoes het. Kyk na die bord wat deur iemand gemaak is. Neem dit in. Proe die kos en laat die smaak jou gedagtes voed.
By die werk, stel jou timer vir 20 minute. Maak alles toe behalwe een ding wat oop is. Jy gaan kort-kort na iets anders wil kyk. Fluister vir jouself: Laat dit gaan! Maak daardie een taak klaar. Kyk weer daarna voor jy na die volgende ding spring. Só oefen jy jou brein om met een ding besig te wees.
In jou geestelike lewe vat één sin wat jou mantra is vir die dag. Byvoorbeeld: “Wees stil en weet, Ek is God.” (Ps 46:10) —of— “My genade is vir jou genoeg, want My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12:9) —of— “Liefde wat in sy doel geslaag het, verdryf alle vrees.” (1 Joh 4:18).
Memoriseer dit. Sê dit vir jouself ten minste een keer elke uur. Bly by dit, onthou dit, en as jy doenig raak met ander goed, maak ʼn pouse en dink weer daaroor.
“A man is but the product of his thoughts; what he thinks, he becomes.” — Mahatma Gandhi
Leer om jou gedagtes te tem om werklik in die oomblik te wees. Onthou: Jy is vandag waar jou gedagtes jou gebring het en môre sal jy wees waar jou gedagtes jou gevat het.
‘Consciously aware’ beteken: ons is bewus van ons interne en eksterne seisoene en is gemaklik met waar ons is. Ons pendel nie meer van een emosie na die ander, van een reaksie na die ander nie. Hoe stiller ons word, hoe beter hoor ons.
Kweek ʼn innerlike bewussyn wat met nuwe oë na jou lewe en jou plek in die heelal kyk.
Gaan tel ʼn blaar op vandag. Hou dit in jou hand, en sien dit as alles waarvan jy in beheer wil wees, oral waar jy REG wil wees, en altyd besig om goed genoeg te wil wees. Laat dit val. Laat dit gaan.
Voel die verligting. DÍT is opstanding. DÍT is Paasfees. Hier en nou!
Soos altyd

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“Change the way you look at things and the things you look at change.”
― Wayne Dyer ―
