PAASFEES — Om LEWE te kies III

Potgooi:

 

“For everything you have missed, you have gained something else.”
— Ralph Waldo Emerson —

In die Noordelike Halfrond, is Paasfees toegedraai in die taal van Lente: bloeisels, helder kleure, en die ryk simboliek van 'n nuwe begin.

Vir die Suidelike Halfrond, het Paasfees ʼn ander betekenis: die sagter lig en koeler lug van Herfs. Dis nie 'n wêreld van vernuwing nie, maar 'n seisoen wat leer om te laat gaan.

Lente kry ’n staande ovasie, maar Herfs kom met ’n fluistering — stil-stil verander dit die kleur van blare, en sonder om vas te klou, laat dit hulle val.

Daarom het ons laas week gesê — Herfs is die seisoen van OOP hande!

Oop om te laat gaan wat nie langer jou siel voed nie. Oop om te ontvang wat mooi, en goed, en lief is. Oop om te laat gaan wat nie waarde toevoeg nie. Oop om te ontvang wat betekenis en vervulling gee.

Met die eerste oogopslag lyk dit of daar ʼn kontradiksie is tussen Herfs en Lente, maar dit is eerder soos ’n uurglas wat ons leer: die lewe is siklies, nie lineêr nie.

Soos seisoene, beweeg die lewe in fases. Niks bly ooit dieselfde nie — nie vreugde of hartseer nie. Die lewe is nie net lig of net donker nie. Wysheid lê daarin om te kan onderskei tussen die twee, en te verstaan dat albei is deel van ʼn groter geheel.

Die meeste van ons pyn en lyding kom nie van wat met ons gebeur nie, maar hoe ons daarop reageer. Ons hou vas wanneer die seisoen vra: “Laat gaan.” Ons probeer die proses aanjaag wanneer die seisoen sê: “Wag!” Ons wil eers dink daaroor wanneer die seisoen fluister: “Kyk en sien, luister en hoor, voel en ervaar.”

Dis soos om in Herfs te staan en kwaad te raak vir die boom omdat hy sy blare verloor.

Ons vier nuwe beginne: nuwe werk, nuwe verhouding, nuwe huis, maar word nooit geleer hoe om goed te eindig nie.

In die Ou Testament is ʼn boek met die titel, Qohelet — wat beteken: die een wat mense saamroep vir 'n boodskap. Ons ken hierdie boek in ons Bybel as Prediker, waarin ʼn welbekende gedeelte is oor die seisoene van ʼn mens se lewe… maar Qohelet voel minder soos ʼn prediker, en meer soos iemand wat langs jou kom sit en sê: “Kom ons kyk saam na wat dit beteken om mens te wees.”

Prediker 3:1-13 begin nie met oplossings nie, maar met ʼn dieper waarheid wat so eenvoudig is —

Daar is ’n tyd vir alles, nie minute op ’n horlosie nie, maar heilige oomblikke wat soos blare laat los aan die takke wanneer die seisoen draai.

’n Tyd wanneer iets in jou gebore word — 'n dieper geloof, meer hoop, 'n deurleefde manier van liefhê — en 'n tyd wanneer jy saggies toelaat dat iets sterf wat jy nie meer kan dra nie.

Daar is ’n tyd om te plant, wanneer jy vertrou in dit wat jy nog nie sien nie. En daar is ’n tyd om uit te trek, wanneer jy besef: dit wat eens lewe gebring het, hou jou nou terug. Dit is ʼn seisoen van waarheid waar ons met wysheid sê, “Dit het sy doel gedien. Dit is nie mislukking nie — dit is voltooiing.”

Daar is ’n tyd om af te breek — ou maniere van dink, ou vrese, ou sekerhede — en ’n tyd om weer te bou, nie op dit wat jy kan beheer nie, maar op vertroue.

Daar is ’n tyd om te huil — wanneer die hart swaar raak van verlange en verdriet, en daar is ’n tyd om te lag — wanneer jy ontdek dat God se liefdevolle goedheid (grace) steeds deur alles vloei.

Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om te dans — want selfs in smart bly daar 'n ritme van lewe wat nooit ophou nie. As ons nie kan treur nie, gaan sit dit in ons beendere. Wat ons wegsteek of ontken, kan nie genees nie.

Daar is ’n tyd om te omarm en ’n tyd om te laat los — 'n tyd om te omhels en 'n tyd om ruimte te gee — vir jouself, vir God, vir perspektief, en self-refleksie.

Daar is ’n tyd om te soek en ’n tyd om te aanvaar dat jy nie alles gaan vind nie.

’n Tyd om te bewaar en ’n tyd om weg te gooi — nie uit verlies nie, maar uit wysheid.

Daar is ’n tyd om stil te wees — wanneer woorde oorbodig is, nie omdat jy bang is nie, maar omdat vrede belangriker is as om reg te wees — en ’n tyd om saggies te praat — want die waarheid maak jou vry, selfs al maak dit seer.

Daar is ’n tyd om lief te hê — en ja, selfs ’n tyd om liefde te laat gaan. ’n Tyd om te verskil en ’n tyd vir vrede. DÍT is volwasse. Dít is om verantwoordelikheid te vat.

En tog… in die middel van hierdie wisselende seisoene fluister God: Alles het sy tyd. Nie altyd maklik nie. Nie altyd verstaanbaar nie, maar tog in ritme en balans.

God se ewigdurende siklus van geboorte en vernuwing is in ons DNA geweef. Ons almal dra in ons die hunkering na betekenis. Ons wil nie net oorleef nie. Ons verlang na meer. Ons wil weet wat die sin van alles is. Dalk is dit die geheim van herfs: nie om alles te verstaan nie, maar om te leer hoe om teenwoordig te wees, dat om te laat gaan, is nie om te verloor nie, maar om plek te maak vir wat nog moet kom.

Dan eindig die Qohelet met die woorde —

“Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is 'n gawe van God.” (3:13)

Dit is slegs moontlik as ons elke seisoen kan omarm. Moenie die oomblik mis nie, want die lewe gebeur nie in ’n reguit lyn nie, maar in die kringloop van seisoene.

Gaan tel ʼn Herfsblaar op en sit dit in ʼn boek met ʼn nota en vandag se datum. Onthou waar jy dit gesit het, wat dit beteken, en bêre dit in jou hart se spens.

Soos altyd.

Met liefde.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“If you’re brave enough to say goodbye, life will reward you with a new hello.”
― Paulo Coelho 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights