BOEKE wat deur Terblanche aanbeveel word 

Liefde — Vuur is Lewe I

2 Junie 2021

“The mind is not a vessel to be filled,
But a fire to be kindled.”

― Plutarch —

ʼn Nuwe maand en moeilik om te glo ons is in die helfte van die jaar.

Die Winter is hier en dis tyd vir warmkomberse, serpe, en ʼn mus. Dit is ook die mooiste mooi maand in die Kaap met alles wat lowergroen is. Vir my is Winter ook die produktiefste seisoen — asof ek met die vars, verfrissende, koel lug meer gedoen kry.

In die Griekse Mitologie is HESTIA my gunsteling-godin. Sy is die dogter van Cronus en Rhea en een van die 12 Olympian Gods. Toe Apollo en Poseidon om haar hand vra, het sy haarself voorgeneem om nooit te trou nie. Zeus, die koning van die gode, het aan haar die eer betoon deur haar die godin van alle offerandes te maak. Sy sou bekendstaan as ‘Die godin van die Haard’ (goddess of the hearth).

Vuur speel in alle kulture en godsdienste ʼn baie belangrike rol. Dit dien as verwarming, beskerming, kosvoorbereiding, asook loutering van metale.

Die teenwoordigheid van Hestia, het die Grieke geglo, is aanvoelbaar waar vuur brand — of dit ʼn vuurherd of kaggel is, om ʼn kampvuur of waar kos gemaak word.

Sedert die Homo Erectus sowat ʼn miljoen jaar gelede begin het om vuur te maak en te beheer, is vuur ook die plek waar mense vergader om hul stories te deel. Oor eeue heen het die stories mites geword, en uit die mites is rites gebore, en die rituele het later religie geword.

Ons as moderne mens het hierdie heilige ritueel van om vure sit en ons stories deel, verloor. Ons druk ʼn knoppie en daar is lig. Ons draai ʼn knop en die stoof word warm. Ons stuur ʼn boodskap met WhatsApp en hoop dit word ontvang. Ons kyk YouTube om na stories te luister sonder dat hul eers weet van my.

Sonder om dit ʼn oomblik se aandag te gee, het ons vergeet dat die elektrisiteit in my huis is as gevolg van ʼn vuur wat êrens brand. My motor ry en die vliegtuig vlieg as gevolg van vuur in die enjin. Trouens, kyk om jou en jy sal nie ʼn enkele ding sien wat nie as gevolg van vuur hier is nie.

Maar waar vertel ons ons stories? Ja, ons hou van braai maar ook daar brand die vuur eenkant en die braaier doen sy/haar ding terwyl die ander eenkant klets. Ons sit nie meer om vure nie en ons deel nie ons vuur wat aan die binnekant brand nie.

In die Judeïes-Christelike tradisie speel die metafoor van vuur ʼn belangrike rol — of dit die vuur van Moses se brandende bos is, of ‘tonge’ van vuur wat verskyn as die vroeë Christene gevul word met die Heilige Gees. In die boek Daniël lees ons van God se troon van vlamme, en die skrywer van Openbaring praat van die sewe lampe voor God se troon.

Vir Jakobus is die tong ʼn vuur wat óf verwarm óf vernietig, terwyl Paulus na die liefde verwys as ʼn brandende passie.

Ons ken baie idiome wat praat van vuur — jy speel met vuur; ʼn storie wat soos ʼn veldbrand versprei; waar daar ʼn rokie is, is daar ʼn vuurtjie; om vir iemand die kastaiings uit die vuur te haal; of om vuur en vlam oor ʼn saak te voel…

Hierdie idiome het min betekenis as jy jou vuur verloor het. Om nie jou vuur te deel nie, is om nie ʼn Wysheidsirkel te hê nie.

No wonder we are so disconnected from each other — no wonder we feel so utterly detached from everyone and everything.

“There may be a great fire in our soul, yet no one ever comes to warm himself at it, and the passers-by see only a wisp of smoke.” ― Vincent van Gogh

Selfs mense wat ons huis en bed met ons deel, het geen idee hoe jy regtig voel nie. Jy sal dit ook nie waag om te sê nie uit vrees vir misverstand en konflik. Mens sou spreekwoordelik kon sê — ons sit nie langer langs dieselfde vuur nie.

Ons konkas ná ʼn lang dag is vervang met Netflix. Ons vonke word op skerms uitgewoed. Wat jy voel en dink is gewoon bo iemand se vuurmaakplek.

Die gloed van offers is vervang met ekkigheid waar ek my toewyding sal bring wanneer dit geleë en waarmee ek gemaklik is. Om my skoene uit te trek ‘want die grond waarop ek staan is heilig’ is ʼn vuurdoop waardeur min van ons nog stap.

Iemand vra gister vir my, “How can you still believe in (a) God?” Wat ʼn vreemde vraag aan ʼn Rabbi-Priester. “I absolutely do. Because God is the LOVE that manifests in kindness and gentleness, tenderness and compassion. God is the spark that lights my fire.”

Kom ons staan hierdie maand stil by die vuurherd van God se LIEFDE. Kom ons deel ons verhale van warmte waar die liefde van God ons gevind het. Ons luister weer na die brandende passie van minnaars en minnaresse uit die literêre erfenis van verhale en poësie uit ons Heilige Boeke.

Miskien, wie weet, ontmoet ons ʼn God wie se Vuur ons nie verteer nie, maar suiwer en reinig.

Want wat beteken ʼn pit sonder ʼn vonk, ʼn kers sonder ʼn vlam?

Warm wintergroete

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

He sifts you to free you from your husks.
He grinds you to whiteness.
He kneads you until you are pliant;
and then he assigns you to his sacred fire,
that you may become sacred bread
for God's sacred feast.

― Kahlil Gibran 

 

Neo-Spektrum Byeenkomste

Elke Sondag om 10:00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville

Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek

BOEKE wat deur Terblanche aanbeveel word 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-oarrow-circle-right
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights