BOEKE wat deur Terblanche aanbeveel word 

Kersfees — Die Woord het Vlees geword III

Potgooi:

 

“God does not give us a map;
God gives us a direction.”

— Frederick Buechner 

Die geestelike geskenk aan onsself dié jaar is die refrein van Johannes 1:14 — “Die Woord het Vlees geword en in ons kom woon.”

Die geboorte van Jesus was ʼn fisiese manifestasie van die Christus (die Gesalfde) as ʼn ewige herinnering dat in ʼn duisend klein oomblikke die laaste jaar is die Messias gebore in jou. Miskien was jy nie eers bewus daarvan nie, of miskien het jy nog nooit geglo dat die Christus IN jou ganse menswees en elke aspek van jou lewe teenwoordig is nie.

In elke glimlag wat jy gedeel het, is Christus gebore. In elke traan wat jy gestort het, is Christus gebore. In elke gebaar van liefde, is Christus gebore. In elke vrees wat jy in die oë gekyk het, is Christus gebore. In elke verhouding wat jy herstel het, is Christus gebore. In elke oomblik waar jy opgestaan en weer probeer het, is Christus gebore.

Net die Evangelie van Matteus vertel die verhaal van die Wyse Manne uit die Ooste. Die woord wat die skrywer gebruik, is: ‘magoi’ — wyse manne wat die sterrekunde en natuur-wetenskappe bestudeer het, en na alle waarskynlikheid uit die ou Persië kom.

Nêrens word daar in Matteus genoem dat dit DRIE Wyse Manne was nie. Die Siries en Armeens Ortodokse tradisie verwys wel na 12 Wyse Manne. Al wat die skrywer van Matteus sê, is dat hulle ʼn ster sien en dit volg, by Herodes aankom en vra oor die kind, vir Jesus opspoor en vir hom geskenke gee, en dan gewaarsku word om ʼn ander pad huis toe te vat.

Vandag wil ek stilstaan by die vraag of jy nog die sterre sien, en of daar ʼn ster is wat jy sal volg na die plek waar jy onthou, “Die Woord het Vlees geword…”

Wie al ooit onder die hemelkoepel gestaan het waar stadsligte dit nie vertroebel nie sal weet dat die sterre nie die duisternis wegvat nie maar ons wys hoe om in die donkerte ons pad te vind.

Die Magoi herinner ons dat geloof selfde ooit met sekerhede begin, maar met aantrekking. Iets skitter, iets roer in jou, iets roep, en voor ons kan verwoord wat dit beteken, vind ons onsself besig om ons tasse te pak en in die rigting daarvan te beweeg.

Soos ons nader aan Kersfees beweeg, is die vraag: “Watter ster het ek gevolg — sonder dat ek dit geweet het?”

Sterre is Innerlike Kompasse

Die Magoi volg ʼn ster wat hulself nie regtig verstaan nie. Die skrywer van Matteus gee nie die ster ʼn naam of verduideliking nie. Dis eenvoudig net gesien — and somehow seeing was enough to set them in motion.

Dit is só teenstrydig met ons moderne persepsie wat glo dat ons eers iets ten volle moet verstaan voordat ons toegelaat word om dit te vertrou. Maar Spiritualiteit werk selde so. Lank voordat ons die hart se roep kan verduidelik, is daar ʼn aangetrokkenheid, ʼn aantrekking. Lank voordat ons ons redes kan regverdig, is daar iets in ons wat vorentoe leun.

Die krag van elke ster is die feit dat dit nie met vuurwerke en applous kom nie, maar in ʼn eenvoudige aanvoeling dat daar méér is, meer om te leer en te groei. Die lig van ʼn ster bring jou na ʼn plek waar jy eerlik met jouself kan wees, en soms is ʼn ster die ongemak van gravitasie wat sê iets moet verander.

Om jou ster te volg, vra dat jy ʼn keuse maak, die moed het om op te staan, dapper genoeg om daai eerste tree te gee vir ʼn reis waar die Woord vlees word.

Onbeplande Paaie en Heilige Ompaaie

Een ding van Matteus se Magoi, is dat hul reis nie gebeur het soos hul gedink het nie. Hulle kom van ʼn land vêr van wat bekend is. ʼn Onherbergsame reis deur ʼn genadelose woestyn. Hulle soek hierdie ‘koningskind’ wat gebore is in Jerusalem, word om die bos gelei deur ʼn wraaksugtige koning, en vind hom in Bethlehem (Huis van Brood), net om die langste pad terug huis toe te moet vat uit vrees vir hul eie lewe.

Hulle is nie dieselfde Magoi as hul terug is by die huis nie. Hulle is nie nou skielik Christene of stigters van ʼn nuwe kerk nie, maar profoundly verander deur ʼn ster wat ʼn galaxy van moontlikhede en potensiaal in hulle ontsluit het.

Ons volg ook sterre met baie verwagtinge. Ons wil dit haarfyn beplan sodat ons seker maak dit bring sukses, veiligheid, en gee vir ons erkenning. Vir seker het hierdie jaar sy afdraaipaadjies gehad, met ʼn vurk of kruispad om elke draai — maar dis eers as ons terugkyk dat ons sien hoe ons meer as dikwels uitgekom het waar ons móét wees juis omdat ons verdwaal het.

Om daai ster te volg belowe nie ʼn gelyk pad met geen terugslae nie. Dit belowe wel dat jy iets nuut gaan ervaar, iets gaan leer, dat daar groei gaan wees en op ʼn heilige en mistieke manier, gaan jy jou lewensdoel en vervulling vind.

JOU ster is daar! Miskien is daar al vir so lank donderwolke wat maak dat jy dit nie sien nie. Dalk het jy ophou kyk want die stadsliggies maak dit onmoontlik om enige ster te sien en jy sien nie kans vir die afsondering van ʼn woestyn nie.

In die laaste verse van die Bybel staan daar, “Ek is die blink Môrester.” (Open 22:16) Die môrester is Venus wat sê die nag is verby, die eerste lig breek oor die horison.

Hoe diep lê my hoop dat elkeen van ons hierdie Kersfees weer ons ster sal vind en getrou met toewyding daardie ster sal volg om getuies te word dat ons God sien in die geboorte van ʼn Kind. Hoe anders kom ons tuis?

Skielik maak hierdie woorde van Die Klein Prinsie verbasend sin —

“As jy snags opkyk na die hemel, dan sal dit wees asof al die sterre lag, omdat jy sal weet ek woon op een van hulle, ek lag op een van hulle. Jy, jy alleen, sal sterre hê wat kan lag!”
— Antoine de Saint-Exupéry

Doen dit, wees dit, met liefde — altyd.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Christmas reminds us that light does not erase darkness — it simply refuses to be overcome.”
― Thomas Merton 
BOEKE wat deur Terblanche aanbeveel word 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-oarrow-circle-right
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights