Potgooi:
“The soul would have no rainbow had the eyes no tears.”
— John Vance Cheney —
Ons tema vir hierdie Winter is: Die Seisoen van Introspeksie en Self-Refleksie.
Hierdie maand stap ons die pad van Emosionele Wonde na Spirituele Wysheid.
Twee woorde wat soos goue drade deur die Joodse wysheidsliteratuur loop, is chokmah en binah.
Ons almal dra ons emosionele wonde waarvan die meeste diep gebêre is in die hart se kluis. Daar is wonde uit ons kindertyd toe ons die eerste keer besef het dat verhoudings kan beide wond én genees. Diep wonde toe ons ervaar het dat sommiges se liefde met voorwaardes en verpligtinge kom, en maak nie saak hoe hard ons probeer om aan hul verwagtinge te voldoen nie, ons bly voel ons stel teleur.
Soos ons ouer word, is daar wonde van onvervulde drome: ons soek aanvaarding en kry verwerping; ons vra vertroue en word verraai; ons hoop vir iets wat blywend is en verloor wat kosbaar is… en dikwels is die diepste pyn nie net wat met ons gebeur het nie, maar die spyt, selfverwyt en onbeantwoorde vrae wat dit agterlaat
As ons mooi gaan sit en dink, sal ons besef dat al ons wonde eintlik die verhaal van LIEFDE vertel. Êrens is daar ʼn hart wat seergekry, of gebreek is. Iewers het iemand ons omgee nie raakgesien of waardeer nie. Langs die pad het iemand weggestap toe ons gehoop het hulle sal bly.
Maar dan, op ʼn dag, besef ons dat ons ÍS nie ons emosionele wonde nie, ons HÉT dit. Ons is nie ons trauma, of mislukkings nie. Ons is meer as ons verlede, en veel meer as wat met ons gebeur het. Ons identiteit lê nie in ons seerkry nie, dit lê in ons waarde as mens wat ten spyte van alles steeds kan lief, glo, hoop, en vertrou.
Die dag wanneer ons dít besef, is die dag wat ons kennis en ervaring verander in WYSHEID (chokmah).
Rabbi David Aaron skryf: “Chokmah is the ability to create beauty.”
Dit is 'n groot waarheid. Wysheid gaan nie daaroor om die regte antwoorde te hê nie. Dit is die vermoë om, selfs uit gebrokenheid, iets moois te laat groei. Wysheid sien dinge in perspektief. Dit integreer, genees, en maak heel. Begrip (binah) is die moederskoot wat geboorte gee aan ʼn dieper sien, verstaan, en weet.
Wonde maak ons wêreld baie klein. Wanneer ons seerkry, sien ons net die pyn. Wanneer ons bang is, sien ons net gevaar. Wanneer ons teleurgesteld is, sien ons net wat fout is.
Wysheid doen iets anders: dit lig ons op om op die berg te staan, waar ons verder sien as ons huidige omstandighede. Van daar af sien ons waar ons vandaan kom, waarheen die pad lei, en hoe kronkelpaaie deel is van die reis. Wysheid onderskei tussen wat tydelik en wat blywend is, wat om vas te hou en wat om te laat gaan.
Insig en begrip (binah) leer ons dat nie alles dra dieselfde gewig nie, nie alle konflik is ʼn krisis nie, nie elke mislukking is permanent nie, en nie elke oortuiging is waar nie. Soms is die grootste wysheid eenvoudig om te leer om anders te kyk, en te sien.
Ek kan nie aan ʼn enkele mens dink wat nie vra, bid, en soek na wysheid nie maar ons dink dis net beskore vir filosowe, geestelike leermeesters, of mense met baie lewenservaring.
Dit is gewoon nie waar nie. Elke mens dra die saad van wysheid in hom of haar. Die probleem is nie dat ons dit nie hét nie, die knoop is dat ons nie bereid is om die innerlike werk te doen wat wysheid vra nie. Dis maklik om aan te hou jaag, impulsief te reageer, en oppervlakkig deur die lewe te dryf sonder om ooit vir onsself te vra: Wat wil hierdie ervaring my leer? Hoe kan ek hierdeur groei? Wat is regtig belangrik? Hoe kan hierdie wond my 'n wyser en meer deernisvolle mens maak?
Dalk is dit juis in hierdie eerlike vrae, waar wysheid haar eerste wortels begin skiet.
Ons hoor gereeld mense sê: “Tyd genees alle wonde.” Is dit regtig waar? Ek dink nie so nie. Tyd laat littekens vervaag en maak die seer ligter, maar tyd alleen genees nie. As dit waar was, sou niemand jare later nog trane stort oor 'n geliefde se dood, die verraad van iemand, of 'n kinderwond nie.
Wat genees dan? LIEFDE!
Liefde wat ons weer laat glo dat ons waarde het. Liefde wat geduldig luister sonder om te oordeel. Liefde wat sê: “Jy hoef nie alleen hierdie pad te loop nie.” Liefde wat ons help om onsself te vergewe wanneer ons sink in selfverwyt. Liefde wat stadig maar seker die harde plekke in ons hart weer sag maak.
Dit is waarom ons as Christene glo dat die enigste manier om God te beskryf, is om te sê: God is LIEFDE.
Waar liefde teenwoordig is, begin iets in ons herstel. Nie omdat die verlede verander nie, maar omdat ons verhouding met die verlede verander. Liefde vee nie die littekens uit nie, dit gee nuwe betekenis daaraan — of soos Rabbi Tirzah Firestone skryf:
“Love transforms wounds into wisdom and scars into testimonies of grace.”
Miskien skep tyd net die ruimte waarin liefde haar genesende werk kan doen, en hoe meer ons liefde ontvang én uitdeel — aan onsself, aan ander en uit God se hart — hoe meer ontdek ons dat die wond nie meer die laaste woord het nie. Die laaste woord behoort altyd aan LIEFDE.
Hierdie liefde wat ons vat na die grootste ontdekking van almal: dat ware wysheid nie begin in die kop nie, maar in die hart; nie met sekerheid nie, maar in verwondering. Nie met beheer nie, maar met oorgawe aan die Groot Misterie wat ons God noem.
Ons gaan Sondag hierdie maand se reis afsluit en stilstaan by een van die mooiste én mees misverstaande verse in die Bybel: “Ontsag vir die Here is die begin van wysheid.” (Spr 1:7, 9:10, Ps 111:10, Job 28:28) — kom ontdek hoe dit die sleutel is om nie net meer wys te wees nie, maar ook hoe om voller, sagter en meer bewustelik te leef.
Gaan nou, en soek hierdie Wysheid en Insig met jou hele hart en al jou krag.
Met liefde, soos altyd.

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
