INTROSPEKSIE — Van Wonde na Wysheid III

15/07/2026

Potgooi:

 

“Your birthday is not about becoming someone new, but more fully becoming yourself.”
— Henri Nouwen
 

Vandag vier ek nóg 'n rondte om die son. Vir jare reeds dink ek minder aan my ouderdom en meer aan die reis wat my tot hier gebring het. Vandag staan ek op die kruin van 'n berg. Ek kyk terug oor die valleie waardeur ek gestap het, die berge wat ek uitgeklim het, die kronkelpaaie wat my verras het, en die mense wat my reisgenote geword het.

As ek terugkyk oor die afgelope jaar, sien ek nie maande nie, ek sien ʼn rivier wat deur uiteenlopende landskappe gevloei het — soms helder en kalm, soms onstuimig met stroomversnellings en draaikolke, soms deur diep klowe, soms bruisend oor kranse en skerp rotspunte, maar altyd vorentoe. Want dit is wat riviere doen: dit hou nie vas aan waar dit was nie, dit bly vloei na waar dit bestem is om te wees.

Geloof is ook só. Dit weet nie altyd waarheen die lewe op pad is nie, maar dit hou aan om te vloei, en vertrou dat elke draai, én waterval deel is van dieselfde reis.

Die jaar het begin met ʼn eenvoudige waarheid wat my steeds bybly: Ons is geseënd om tot seën te wees. Ons is nie reservoirs wat alles vir onsself opgaar nie. Ons is riviere.

Alles wat liefde is, alles wat genade is, alles wat vergiffenis, wysheid, vreugde en oorvloed is, verloor iets van hul betekenis wanneer dit ophou vloei. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek: die lewe word gemeet aan hoeveel liefde deur ons na ander vloei.

Liefde wat nie gedeel word nie, verdroog. Vreugde wat nie oorloop na ander nie, verdamp. Genade wat nie genoeg is nie, is te min, en seëninge wat ons angstig vir onsself wil hou, word uiteindelik swaarder as wat hul ooit bedoel was om te wees.

Ek besef al hoe meer dat God nie belangstel in hoe vol my hande is nie maar hoe oop hulle is, wat my gebring het om voor ʼn spieël te gaan staan. Nie die spieël in my badkamer nie, daardie ander spieël. Die een waarin ons uiteindelik onsself ontmoet.

Elke verhouding is 'n spieël. Elke teleurstelling. Elke konflik. Elke kind. Elke vriend. Selfs hulle wat nie van ons hou nie. Hulle wys vir ons iets van onsself wat ons alleen nooit sou kon sien nie.

Toe kom Filippense en leer my dat geloof nie in ons kop begin nie. Dit begin in ons harte. Paulus noem dit: “The Mind of Christ.”

Hier het ek geleer dit beteken om met ander oë na die wêreld te kyk. Om minder bang te wees, minder oordeel, minder blameer, en meer “verbly julle, ek herhaal, verbly julle…” want die wêreld verander deur mense wat leer om liefdevol te wees.

Toe het vyf ou profete my hand kom vat. Ons dink profete voorspel die toekoms, toe ontdek ek hulle laat ons sien: Hosea herinner ons dat liefde onvoorwaardelik is. Amos dat regverdigheid die taal van God is. Miga dat liefdevolle goedheid belangriker is as godsdienstigheid. Jona dat God se genade ook vir my vyande is. Habakuk dat geloof op die ou einde nie sekerheid beteken nie, maar getrouheid.

Met Kersfees het die verhaal my gevat na Bethlehem en die geskenke van goud wat ons herinner aan ons menswaardigheid. Die wierook van aanbidding, en die mirre vir ons wonde.

Met die nuwe jaar, het simplisiteit aan my deur kom klop. Ek ontdek toe dat eenvoud baie minder gaan oor hoeveel ek besit, en eerder oor hoeveel my besittings mý besit. Dit beteken minder voorgee. Minder gejaagd. Minder geraas. Meer waarheid. Meer teenwoordigheid. Meer God.

Toe bring die lewe my by 'n letterlike drumpel. Ek het verhuis. Later het ek besef dit was nie net 'n trek na 'n ander huis nie, dit was 'n trek van een weergawe van myself na 'n ander. Ek het geleer dat die siel baie stadiger beweeg as ʼn trek-lorrie. Jy groet iets wat mooi was, terwyl jy nog nie die taal van die nuwe plek verstaan nie.

Daarna het die reis my nog dieper geneem: na essensie. Wie is ek wanneer alles stil raak? Sonder my rolle? Sonder mense se goedkeuring? Sonder my suksesse, óf teleurstellings? Om weer te onthou: ons is geskape as beeld en gelykenis van God wat God se asem, asem.

En toe het ek ontdek hoe maklik vrees ons lewens beheer. Daardie fluisterstem wat sê: “Wat as jy misluk?” “Wat as hulle jou verwerp?” “Wat as jy nie goed-genoeg is nie?” Toe lees ek weer Paulus wat sê: “God het ons nie 'n gees van vrees gegee nie, maar van krag en liefde.”

Uiteindelik het die jaar geëindig met ʼn vraag oor spyt en insig. Ek glo vandag meer as ooit dat spyt wys wat regtig belangrik is. Dit beteken ek kan nog leer. Nog groei. Nog verander. Nog liefhê. Nog jammer sê. Nog vergewe.

Insig is om iets te sien wat nog altyd daar was. Soos sonlig wat onverwags deur 'n venster val en 'n hele vertrek verlig. Die vertrek was nog altyd daar. Die lig ook. Ek kon dit net nie sien nie.

Miskien is dit die grootste geskenk wat hierdie jaar vir my gegee het nie antwoorde nie, maar nuwe oë — sagter oë, wyser oë.

Oë wat die buitengewone in die gewonigheid raaksien en dat God altyd saam met my op hierdie pad gestap het. In elke seisoen, oor elke drempel, in elke wond en elke vreugde, in elke afskeid en in elke nuwe begin.

Hoe ouer ek word, hoe minder dink ek verjaarsdae gaan oor kerse op ʼn koek. Dit gaan nie oor die hoeveelheid jare wat agter my lê nie, maar eerder om te vra: Hoe het ek hierdie jaar my waarde en trots behou as MÉNS?

Die vraag is nie: Was ek suksesvol? Wat het ek bereik? Die vraag is: Het ek sagter geword? Het ek geleer om beter te luister? Dieper lief te hê?

Ek wil weet: Het ander veilig gevoel by my? Kon hul meer hulself wees? Was ek 'n kompas na hul Ware Noord?

As ek iets hierdie jaar geleer het, is dit dat LIEFDE die leivoor is wat elke tuin laat blom. Vandag weet ek: liefde is geduldig, liefde luister, liefde probeer verstaan voordat dit reageer, liefde bly glo wanneer alles onseker voel, liefde tel mense op, liefde bou brûe, liefde sien die mens agter die masker… want om te lief is om te GOD.

Daarom sal ek vandag in verwondering fluister: wat 'n Godlooflike voorreg om nog 'n rondte om die son te kon reis.

Met liefde, soos altyd.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Count your age by friends,
not years.
Count your life by smiles,
not tears.”

―  John Lennon 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights