Potgooi:
“To embrace wisdom means: Choose depth over speed. Presence over distraction. Curiosity over certainty. Compassion over judgement. Participation over control.”
— Aldous Huxley —
Ons gesels hierdie maand oor hoe ons ons emosionele wonde kan omskep in wysheid.
Daardie onsigbare littekens as gevolg van ʼn seer uit ons verlede:
Hierdie ‘wonde’ beïnvloed ons hele lewe. Dit raak ons selfbeeld, selfwaarde, selfrespek en selfvertroue. Dit maak dat ons oor jare geleer het om dit weg te steek, te ontken en maskers dra sodat ander nie ons ‘wonde’ sien nie, uit vrees dat hulle ons sal veroordeel of verwerp. Die ironie is dat ons almal emosionele wonde dra wat niemand anders sien of van weet nie.
Baie van hierdie ‘wonde’ ontstaan as gevolg van onvervulde drome en die gaping tussen ons verwagtinge en die ontnugtering van die werklikheid — ons verwag liefde, maar ervaar verwerping; ons soek veiligheid, maar word verraai; ons hoop op iets wat blywend is, maar word gekonfronteer met die seer om iemand te verloor.
Die meeste van hierdie ‘wonde’ kom met ʼn dubbel seer: daar is die emosionele pyn van iets wat gebeur het, maar ook die pyn van wat ons gehoop het anders sou wees, en dit manifesteer in ons spyt en selfverwyt, ons skuldgevoelens en vrese.
Emosionele pyn is wat gebeur; lyding is hoe ons daarop reageer. As ons nie die hartseer, teleurstelling, spyt, en verlange ERKEN nie gaan sit dit in ons beendere. Oor en oor kom die onverwerkte emosies na die oppervlakte, en projekteer ons dit op ander, veral op dié wat die naaste aan ons is.
Soos laas week gesê, kom baie van ons ‘wonde’ uit ons kindertyd. Daardie eerste wond waar ons besef hoe party se liefde met voorwaardes en verpligtinge kom, en hoe ons moes leer dat verhoudings kan beide wond én genees.
ʼn ‘Wond’ wat diep sny, is om in die verwagtinge van ander te leef en steeds voel ons skiet tekort, en hoe daai patrone oorgedra word en ons dit weer met ander doen.
Die een ding wat min van ons ooit leer, is hierdie waarheid: ons HÉT wonde… ons ÍS nie ons wonde nie. Ons ÍS nie ons verlede, ons mislukkings, trauma, of ons emosionele pyn nie.
Tog lê daar 'n heilige paradoks in elke ‘wond’. Juis dit wat ons die seerste maak, wys dikwels wat ons die liefste het. Die diepte van ons hartseer openbaar die diepte van ons omgee. Daarom is 'n ‘wond’ nie net iets wat genesing nodig het nie; dit is ook 'n uitnodiging om met groter deernis, groter insig en groter menswaardigheid te leef.
Dit bring ons by WYSHEID. Wie is daar onder ons wat nie roep, smeek, vra, bid vir meer wysheid nie?
Ons soek nie nóg kennis nie; ons soek wysheid. Ons leef immers in 'n tyd waar inligting goedkoop en volop is, maar wysheid is skaars.
Ons verstand is oorlaai met data en verstik aan informasie. Ons weet meer maar verstaan minder. Ons het antwoorde vir als binne sekondes, maar kan nie sê hoe ons voel nie. Kennis vul die kop. Wysheid vorm die mens.
In die Ou Testament is WYSHEID (chokmah) en VERSTAANVERMOË (bi’nah) in mekaar geweef. Veral in Spreuke sien ons keer op keer dat wysheid en insig hand aan hand gaan. In die Zohar (Joodse Mistiek) lees ons:
“Chokmah (wisdom) is the seed and Bi’nah (understanding) is the womb. Wisdom receives. Understanding gives meaning.”
Mense met wysheid sien die groter prentjie. Hulle kan terug staan en dinge in perspektief sien. Wysheid sien nie stukke nie, maar hoe die stukke inmekaar pas. Wysheid onderskei wat tydelik en wat blywend is. Mense met wysheid koop nie in op aannames, persepsies, en projeksies nie, want wysheid staan in diens van wat waar en eerlik, eg en opreg is.
Wysheid is om in waarheid te leef. Nie pretensie of perfeksie nie, maar waarheid. Wysheid is om bewustelik, oplettend, en teenwoordig te leef. In harmonie tussen wat gebeur, wat ons dink, wat ons voel, en hoe ons reageer. Dit integreer ons gedagtes, kennis, begrip, ervaring, en emosies in ʼn ruspunt wat ons fokus op waardes soos liefdevolheid, nederigheid, geduld, en empatie.
HOE, Terblanche, hoe kan ons meer wysheid hê —
Dink oor die goed waaroor jy dink. Bly nuuskierig (curiosity). Lees wyd met meer belangstelling. Vra beter vrae. Wees oop vir ander insigte en verwelkom nuwe perspektiewe. Wees bereid om minder oppervlakkig en so klein bietjie dieper te leef.
In ons geestelike lewe: hê dissipline en toewyding met jou stiltetyd. Luister na die stilte; luister na jou water (intuïsie); luister na die natuur; luister na wyse mense; luister na GOD.
As ek dink aan emosionele wonde en wysheid dan dink ek aan die Japannese kuns wat bekendstaan as Kintsugi. Wanneer 'n bak breek, word dit nie weggegooi nie. Die krake word met goud herstel. Die breuke word nie weggesteek nie, hulle word die mooiste deel van die vaas of bak.
Wysheid is nie die afwesigheid van emosionele pyn nie. Wysheid vul jou krake en breuke met goud. Jou wonde verdwyn nie, hulle kry betekenis en die plek waar die lig die mooiste reflekteer.
Maak chokmah en bi’nah (wysheid en begrip) jou bondgenote, dan sal Spreuke 3:13-15 jou lewe verryk:
“Hoe geseënd is die mens wat wysheid (chokmah) vind, en die mens wat insig (bi’nah) verkry! Want haar wins is beter as die wins van silwer, en haar opbrings beter as fyn goud. Sy is kosbaarder as koraal; en niks wat jy begeer, kan met haar vergelyk word nie.”
Soos altyd.

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“Out of suffering have emerged the strongest souls; the most massive characters are seared with scars.”
― Kahlil Gibran ―
