INTROSPEKSIE – Van Vrees na Vrede

Potgooi:

 

“The most beautiful people we have known are those who have known defeat, suffering, struggle, loss, and have found their way out of those depths.”
— Elisabeth Kübler-Ross —

 

So lees ek weer die vers uit 2 Timoteus 1:7 raak wat sê, “Want God het nie vir ons 'n gees van vrees gegee nie, maar van krag, liefde, en gesonde verstand.”

Daar is by ons almal ʼn innerlike konflik wat ons saam met ons dra. Dis nie altyd chaos of ʼn krisis nie maar dikwels ʼn stille stryd net onder die oppervlak.

Soms lyk dit soos uitstel, en bly ons te lank in toksiese verhoudings of ongesonde verpligtinge. Soms soek ons na antwoorde in nóg ʼn artikel, nóg ʼn podcast — terwyl ons eintlik weet wat om te doen.

Ons sê: “Ek soek net sekerheid,” maar dikwels beteken dit eintlik: “Ek is bang vir wat verandering my gaan kos.”

Die meeste mense dink vrees is iets wat gebeur wanneer jou lewe fisies bedreig word, maar leef die meeste van ons met emosionele vrees: vrees vir mislukking, teleurstelling, en om nie goed-genoeg te wees nie.

Ons het uitstekende maniere om dit te vermom. Ons noem dit “wysheid,” ons noem dit “versigtigheid,” ons noem dit selfs “verantwoordelikheid.”

Met die gevolg dat ons nie eers besef hoe vrees stilweg elke aksie en reaksie in ons lewe bepaal nie — dit kies waar ons bly en wat ons vermy, dit besluit met wie en hoe ons ons weerloosheid gaan deel, dit kies wie ons sal liefhê en wanneer ons gaan baklei, dit bepaal self die diepte en omvang van ons geloof want so baie van ons glo omdat ons God vrees en bang is vir die hel.

Nog erger — baie mense glo dat hul vrese beteken hulle geloof is swak. Ek hoor dikwels hoe iemand sê, “My geloof skiet tekort en dis hoekom ek so angstig is.”

Paulus skryf aan die jong Timoteus wat waarskynlik geïntimideerd en oorweldig gevoel het deur die verantwoordelikheid wat op sy skouers geplaas is. Miskien sê Paulus eenvoudig: Moenie besluite neem uit vrees nie.

Vra jouself: Met watter gees neem ek my besluite? Uit vrees, skaamte, selfbeskerming, of ʼn gevoel dat ek nie genoeg is en het nie… of is dit vanuit krag, liefde, en gesonde verstand?

Krag beteken nie om ander te manipuleer of te domineer nie. Dit is die vermoë om anders te reageer ten spyte van vrees. Dit beteken jy kan moeilike besluite neem, grense stel, wegstap van dit wat nie jou siel voed nie, patrone breek wat bly herhaal, en jou integriteit behou as dinge moeilik raak.

Vrees vra altyd: Is ek veilig? En reageer dan met: veg of vlug; verdedig jouself; vertrou niemand nie.

KRAG sê, “Vrees gaan nie vir my besluit nie.”

LIEFDE sê: maak jou hart oop; wees meer liefdevol teenoor jouself sodat daardie sagtheid kan oorloop na ander; wees bereid om jou weerloosheid met ander te deel.

GESONDE VERSTAND kan verstaan word as: self-dissipline, selfbeheersing, nugter denke, innerlike wysheid, en om te weet wat maak sin en wat is onsin.

Dit vra eerlik: is hierdie vrees gebaseer op realiteit of jaag ek spoke op en gaan haal bobbejane agter die berg?

Hoekom doen ons dit aan onsself?

Miskien omdat ons alles oordink, of die werklikheid vermy deur in stories in ons kop te leef. Vermoedelik speel die trauma uit ons verlede ʼn groot rol: ʼn vorige verhouding of huwelik waar ons emosioneel geboelie is; ʼn ouerhuis waar liefde verdien moes word, of dalk ly ons aan perfeksionisme en people-pleasing. Ou wonde met nuwe gesigte.

Paulus herinner Timoteus dat ons hier is vir iets veel groter en meer betekenisvol as om te voel ons moet onsself konstant verdedig.

Emosionele volwassenheid is om eerlik te vra: is daar regtig gevaar, het my reaksie regtig te doen met die huidiglike situasie of is dit mý storie wat homself herhaal?

En dalk die moeilikste vraag van almal: wanneer ek sê ek beskerm myself... beskerm ek regtig my hart — of net my ego?

C. S. Lewis het geskryf:

“To love at all is to be vulnerable. Love anything and your heart will be wrung and possibly broken. If you want to make sure of keeping it intact you must give it to no one, not even an animal. Wrap it carefully round with hobbies and little luxuries; avoid all entanglements. Lock it up safe in the casket or coffin of your selfishness.

… en dan gaan hy verder:

“But in that casket — safe, dark, motionless, airless — it will change. It will not be broken; it will become unbreakable, impenetrable, irredeemable. To love is to be vulnerable.”

Dis hoekom Kübler-Ross se woorde soveel gewig dra. Die mense wat ons die meeste inspireer, is selde dié wat ʼn gemaklike lewe gehad het. Dis mense wat weet van verloor, van gebreek, van verdwaal in die donker — en steeds kies om beter te wees en nie bitter nie.

In plaas van om te sê, “Ek is bang, en weet nie wat om te doen nie…” sê eerder: ek is bang vir verwerping, bang vir seerkry, bang ek is nie goed-genoeg nie.”

Dít is eerlik. Dís dapper. Dít ontsluit krag, liefde, en gesonde verstand.

Ons hoef nie vir alles antwoorde te hê nie. Al wat dit vra is bereidwilligheid, want liefde en vrees kan nie in dieselfde huis woon nie.

Gaan doen dit en sien die seëninge van God wat die hele tyd daar is!

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“When we are no longer able to change a situation, we are challenged to change ourselves.”
― Viktor Frankl 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights