INTROSPEKSIE – Van Vrees na Vrede IV

20/05/2026

Potgooi:

 

“You cannot heal what you refuse to acknowledge.”
— Krista Tippett —

Kom ons sluit ons gesprek af oor die rol wat VREES speel in ons lewe. Nou vra ek weer — wat verstaan jy van die vers wat sê:

“Waar liefde is, is daar geen vrees nie, want liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie liefde nie.” — 1 Johannes 4:18

Of, wat hoor jy as jy lees:

“Love is what we were born with. Fear is what we learn. The spiritual journey is the unlearning of fear and prejudices and the acceptance of love back in our hearts. Love is the essential reality and our purpose on earth.” — Marianne Williamson

Of sal ons bly vashou aan die stories in ons kop oor goed wat ons DINK gaan gebeur, en toelaat dat vrees ons besluite bepaal? Verstaan ons dat —

“The stories you repeat in your mind will eventually shape the life you live.” — Pema Chödrön

Met die nodige dissipline en spirituele toewyding leer ons om ʼn perspektief te ontwikkel oor ons vrese. Om met eerlikheid ons vrese te herken en dan te erken waarvoor ons regtig bang is.

Byvoorbeeld: Ons kan sê dat ons bang is om na ander werk te gaan soek, óf ons kan erken dat dit ons soos ‘n mislukking laat voel. Ons kan sê dat ons bang is om ‘n destruktiewe verhouding/huwelik te beëindig, óf ons kan erken dat dit ons laat voel ons gaan nooit goed genoeg wees nie.

As ons hoor, “vrees is aangeleer” dan praat dit nie van ons natuurlike aanvoeling as daar gevaar is nie, maar van emosionele vrese wat geen verband hou met die werklikheid nie.

O, ons dink dit doen want in ons kop speel ʼn hele seisoen met tien episodes af van alles wat verkeerd gaan loop, alles wat moontlik gaan gebeur. Vrees voel ons verloor beheer... en glo my, die ego sal enige iets doen om in beheer te bly.

As ons groot word (in 'n ouerhuis of skool) met voortdurende kritiek, dan kweek dit ʼn vrees dat ons nie goed genoeg is nie. As ons groot word met vrees vir ʼn gesagsfiguur en dit verwar met respek, dan word vrees vir straf en verwerping soveel groter as om ʼn liefde te ervaar wat onvoorwaardelik is.

Dit is by name waar binne ons georganiseerde godsdiens, waar ons bang is vir God wat als opskryf wat ons verkeerd doen selfs al hoor ons dat liefde hou nie boek van die kwaad nie (1 Kor 13:5) en word geleer dat ons God moet vrees al hoor ons dat God nie vir ons ʼn gees van vrees gegee het (2 Tim 1:7).

In plaas van vrees, wat ʼn teken is van gevaar, word dit ʼn lens waardeur ons lewe. Ons word bang vir als en almal, want vrees se stem is soveel harder as liefde.

Vrees is die afwesigheid van liefde, soos duisternis die afwesigheid is van lig. Kies liefde en sien, hoor, ruik, proe, voel hoe die vrede wat alle verstand te bowe gaan ons vrese laat verdamp om plek te maak vir ʼn lewe met betekenis en vervulling.

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die VREDE van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” — Filippense 4:6-7

Dit beteken nie ons vrese verdamp en ons word nooit weer bang nie, maar nou het vrees nie meer die outoriteit in jou lewe nie. Dit is nie langer die krag wat jou besluite bepaal nie.

Daardie liefde, wat in sy doel geslaag het, soos die skrywer van die Johannes-brief daarna verwys, raak skielik nie so gou geïrriteerd net omdat ek nie my sin kry nie. Dit luister sagter sonder om te wil reageer. Dit bly vir so rukkie langer en vat ʼn hand as dit makliker sou wees om weg te loop.

Elke gebaar van liefde kyk vrees in die oë en sê, “Jy is nie in beheer van my nie.” As vrees sê, “Wat as ek verloor?” dan antwoord vrede, “Wat as ek gee?” As vrees sê, “Jy gaan dit nie maak nie,” dan antwoord liefde, “Miskien nie, maar ek sal steeds oukei wees.”

Liefde is nie naïef nie, maar dit is die enigste krag wat sterk genoeg is om vir vrees te sê waar dit hoort.

Vrede kom nie omdat ons storms kan beheer nie, maar omdat die storms nie langer óns beheer nie. Die vrede wat alle verstand te bowe gaan, plant jou wortels diep genoeg dat geen storm jou om kan waai nie. Ja, jy gaan takke breek en blare verloor, maar as die Lente kom, sal jy sterker as ooit weer vrugte dra.

Nou weet ons wat om te doen: noem jou vrees op sy naam, hou dit in jou hand en kyk daarna asof dit modder is op jou palm, was jou hande met die water uit die fontein van gebed, en kom terug na die hier en nou waar vrees nie kan woon nie.

Vrede is nie iets wat jy kry en dan het jy dit nie. Dit is iets waarnatoe jy terug kom, keer op keer, weer en weer. Só word vrede die teenwoordigheid van Liefde.

As vrees aan jou deur klop, kan jy dit innooi en vir ʼn rukkie daarmee sit om jou tafel sonder om dit te ontken of weg te steek. Jy sien dit vir wat dit is, en dan groet jy dit met, “Ek is genoeg. Ek is veilig. Ek is tevrede. Ek is geliefd.”

Vrede is ʼn keuse wat ons maak, elke dag.

Kies vrede! Laat gaan aan jou vrese, laat gaan aan jou beheer, laat gaan aan dit wat jou weerhou om die beste weergawe van jouself te wees.

Doen dit met liefde — soos altyd.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“There is a quiet, luminous place inside each of us that no storm can touch. Learn to live from there.”
―  John O’Donohue 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights