Potgooi:
“Regret is… insight that comes a day too late.”
— Joseph Campbell —
Daar is ʼn stem — ʼn stil fluistering wat jou in die vroeë oggendure laat wakker lê. Dis nie die wind teen die ruit of die kraak van ʼn houtvloer nie, dit is stiller, en aanhoudend. Daardie ‘as-ek-maar-net...’ gedagtes. Daai pad wat nie gevat is nie, ʼn besluit wat uitgestel is, ʼn waarskuwing wat geïgnoreer is.
Ons ken daai stem as spyt en selfverwyt, of wat die Engels noem: REGRETS.
ʼn Paar jaar terug het ek Daniel Pink se boek The Power of Regret gelees. Toe ek deur my Kindle-notas kyk, besef ek opnuut hoe swaar ons dra aan ons naberou. Meestal ʼn besluit wat NIE geneem is nie — dinge wat soveel anders, of beter kon wees — as ek maar net het.
In plaas van om hierdie emosies te erken en te probeer verstaan waarom ons so voel, kyk ons daarna asof ons ʼn teleurstelling en mislukking is. Al wat ons doen, is om ons duime nog vinniger oor ʼn skerm te vryf, die oorpluisies net nog dieper indruk om te sorg ons besig onsself genoeg uit vrees vir stilte, want ons wil nie deel met ons spyt en self-verwyt nie.
In ʼn kultuur vol bravade hoor ons die mantra asof dit ʼn medalje is, “I HAVE NO REGRETS!”
Daniel Pink het ʼn ander perspektief —
“Regret is not the voice of failure. It is the echo of what mattered most.”
Sy navorsing het gewys dat daar ʼn patroon is in al ons “wat as…”-oomblikke.
Dit kan in VIER groepe gekategoriseer word — nie as foute nie maar as landkaarte van die siel.
Hy noem dit: The Four Doorways of “If Only” —
1. Foundation Regrets: “If only I had done the work.”
Dit lê nie in een rampspoedige gebeure nie, maar in ʼn duisend-en-een klein oomblikke van nalatigheid. Daardie een duisend-en-twee keer wat jy ʼn keuse gemaak het om weg te kyk.
Byvoorbeeld: Om nie vroeg in jou lewe te spaar nie, wat later tot finansiële spanning lei. Om jou gesondheid af te skeep, wat voorkombare siektes kon vermy. Om studies op te skop of akademies nie jou beste te gee nie. Om goeie gewoontes soos lees, oefen, en stiltetyd uit te stel vir ‘n later wat nooit kom nie.
Die geestelike perspektief hiervan is die waarheid van alle eeue: wat ons saai, sal ons maai.
Die emosionele pyn van hierdie spyt, is: Ek het van beter geweet, maar het niks daaraan gedoen nie.
2. Boldness Regrets: “If only I had taken the chance.”
Dit is daardie lang skaduwees van ʼn lewe wat jy amper kon gehad het.
Byvoorbeeld: Die liefde wat jy vir iemand het en dit nooit gesê het nie. Die werksgeleentheid wat jy uit vrees van die hand gewys het. Om te lank in 'n toksiese verhouding te bly, want finansiële sekuriteit is belangriker as emosionele veiligheid.
Hierdie ‘regret’ gaan nie oor risiko’s wat misluk het nie, dit gaan oor die risiko’s wat jy nooit geneem het nie.
Die geestelike insig hiervan is die tragedie van ʼn man wat sy geldstuk (talent) begrawe het… nie omdat hy swak of sleg was nie, maar omdat hy bang was.
Hier klop ʼn pyn uit jou hart wat sê: Ek wonder wat kon gewees het.
3. Moral Regrets: “If only I had done the right thing.”
Dit is daai swaar klip op die bors oor die dinge wat jy gedoen of nie gedoen het nie wat mense seer gemaak het.
Byvoorbeeld: Daardie leuens uit vrees vir verwerping. Om vertroue te breek en ontrou te wees. Om stil te bly wanneer dit nodig was om op te staan vir wat reg is. Daardie goed wat gesê is in ‘n oomblik van woede sonder om te besef hoeveel skade dit maak.
Dit gebeur as ons ons morele kompas verloor en hierdie spyt bly die langste by ʼn mens.
In die spirituele psigoterapie praat ons van ‘geestelike verwonding’ — wat nie ʼn lys van sondes is nie, maar ʼn wond aan die siel. Die diepste pyn wanneer ons die Goue Reël verraai: Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.
Die eggo van hierdie spyt fluister: “Ek het iemand geword wat ek nooit wou wees nie.”
4. Connection Regrets: “If only I had reached out.”
Brené Brown het baie hieroor geskryf. Sy sê ondermeer —
“Connection is why we’re here. We are hardwired to connect with others; it’s what gives purpose and meaning to our lives, and without it there is suffering.”
Byvoorbeeld: Ons dra spyt oor verhoudings wat verwaarloos is. Om nie waardering of liefde te wys terwyl die persoon nog hier is nie, en dan as hul weg is, swaar dra aan ons skuldgevoelens. Om nie vrede te maak ná ‘n konflik nie en eerder die brug sal brand voor ons die les van vergiffenis leer.
So kom spyt te laat as ons besef: Ek wens jy was steeds deel van my lewe.
Wat maak ons dan met ons ‘regrets’? Spyt is nie ʼn straf nie, dit is daar om ons iets te leer. Dit is ʼn rigtingwyser wat wys wat werklik belangrik is. Dit is ʼn herinnering van die waardes wat ons verwaarloos het, en die moontlikheid om dit beter, en anders te doen.
Gister gaan nie verander nie, maar met spyt kom ʼn nuwe insig. Daar breek ʼn dieper waarheid deur wat môre met groter wysheid gaan hanteer.
As daar iemand is vir wie jy lief is, sê dit vandag. As daar vergiffenis is om te vra, vra dit. As daar ʼn droom is om uit te leef, begin klein, maar doen dit. Moenie wag tot die dag NÁ jy insig kry nie. Die tyd is nou. Die keuse is joune.
Want die enigste fout wat jy sal maak, is om niks te leer nie.
Soos altyd.

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
