INTROSPEKSIE – Van Spyt na Insig II

10/06/2026

Potgooi:

 

“Being wrong opens us up to the possibility of change. Being wrong brings the opportunity for growth.”
— Kathryn Schulz —

Ons gesels hierdie maand oor — Spyt bring Insig. Die afgelope Sondag het ek afgesluit met dié gebed, en ek sal graag vandag hiermee wil begin.

Liefdevolle God —Gee ons die wysheid om vandag te doen wat môre vrug sal dra. Waar ons uitgestel, vermy of ontken het, gee ons die moed om weer te begin. Wanneer die hart sê: "Ek het van beter geweet..." herinner ons daaraan dat U genade altyd groter is as ons foute, en dat vandag 'n nuwe begin kan wees.

Gee ons die moed om nie deur vrees beheer te word nie. Help ons om te onthou dat elke fout ook 'n leermeester kan wees. Wanneer my hart wonder: "Wat kon gewees het?" help ons om die geleenthede van vandag raak te sien en vertroue te kies.

Laat ons morele kompas altyd deur liefde, waarheid en deernis gelei word. Waar ons verkeerd gedoen het, gee ons die nederigheid om verantwoordelikheid te neem en die moed om reg te maak wat gebreek is. As ons sê, “Dis nie wie ek wou gewees het nie,” wys ons hoe om getrou te wees en daarom vertrou kan word. 

Leer ons om lief te hê in elke oomblik. Help ons om uit te reik na hulle vir wie ons lief is, en om nie die mense wat ons liefhet as vanselfsprekend te aanvaar nie. Wanneer die hart sê: "Ek wens jy was steeds deel van my lewe," gee ons die wysheid om ‘n brug te bou en saam nuwe voetpaadjies te stap. Amen.

Met Daniel Pink se boek, The Power of Regret laas week, ontdek ek toe vir Kathryn Schulz op YouTube. Sy het ʼn Pulitzer Prys gewen vir haar boek, Being Wrong (2010).

Sy wys daarop dat die brein se funksie nie is om te dink oor wat ons gelukkig sal maak nie, dit kan net reageer op die emosies wat ons NOU ervaar. Al wat die brein in sy primitiewe vorm kan doen is een van twee keuses: VEG of VLUG!

Die brein is spyt oor niks. Dit kan nie dink oor wat die beste vir my is oor ʼn jaar of vyf nie. Dit wil die ongemak wat ek NOU voel ten alle koste vermy — VEG of VLUG!

Dit pas by die mantra van ons moderne samelewing: LIVE WITH NO REGRETS!

Ons sien dit op sosiale media en hoor dit in motiveringspraatjies, asof dit ʼn medalje van dapperheid is, ʼn verklaring van vryheid, ʼn filosofie van ʼn suksesvolle lewe.

Schulz skryf dat die probleem is nie dat ons SPYT het in ons lewe nie, maar dat ons spyt is dat ons spyt het. Die brein wil nie dink oor die goed wat spyt bring nie, vir die brein is spyt ʼn fout.

Ons oortuig onsself dat spyt is ʼn teken van mislukking, ʼn swakheid. Ons wil deur die lewe gly, onaangeraak deur spyt en berou. Ons wil nie met teleurstelling deel of iets daaruit leer nie. Die reptiel brein sê: Basta met spyt — VEG of VLUG!

Spyt is ʼn merkwaardige menslike kwaliteit. Honde kan dit nie doen nie. Bome het dit nie, maar ons as mens het die vermoë om oor alternatiewe te dink.

Ons kan gister besoek en ʼn ander weergawe vir onsself voorstel. Ons kan na daardie kruispad kyk en wonder wat sou gebeur het as ek die ander pad gevat het.

So sit ons met al ons ‘WAT AS’-vrae — As ek nie so hardegat was nie? Meer dapper was met my liefde? Net kon vergewe het? Nie weggeloop het nie?

Dan lees ek waar sy skryf —

“Until we know we are wrong, being wrong feels exactly like being right."

Dit is ʼn stelling wat maklik verkeerd verstaan kan word en tog beskryf dit een van die diepste waarhede van ons bestaan. Niemand word soggens wakker met die bedoeling om foute te maak nie. Niemand sê, “Vandag gaan ek goed doen waaroor ek later spyt gaan wees” nie. Ons neem besluite om grond van hoe ons voel.

Ons reageer op grond van ons vooroordele en oortuigings, en soms is ons verkeerd. Hoe ouer ons word hoe duideliker word dit.

Ons kyk terug op ons lewe en onthou hoe ons, toe ons jonger was, so oortuig was van ons sekerhede. Ons was so seker oor ons vermoë om te oordeel oor wat reg en verkeerd is. Ons onthou die vrese wat elke besluit beïnvloed het, en ons geloof in alles wat ons wou hê en so passievol verdedig het.

Nou sien ons dit anders. Wat het verander?

Ons het geleer. Ons het gegroei. Ons het die vermoë ontwikkel om die groter prentjie te sien. Daarom skryf Kathryn Schulz —

“Wrongness is not merely an unfortunate part of life. It is one of life's greatest teachers.”

Dis menslik om foute te maak. Soms mis ons ons doel. Ons raak soms verdwaal in ons eie gedagtes en projekteer dit op ander asof ons kopiereg op die waarheid het.

Die siel verdiep en vergroot, nie omdat ons altyd reg is nie, maar omdat ons foute ons bring na ʼn plek van verandering  (i.e. transformasie).

Hoe hartseer as ons nie ʼn duit groei in ons emosionele en spirituele insig nie en steeds vasgevang is in die basiese instink van oorlewing. Nooit leer om anders te reageer nie, nooit bereid is om te groei nie, tevrede is met ʼn lewe wat gestagneer het tussen VEG of VLUG.

Natuurlik is daar spyt oor ons foute, die verkeerde keuses wat ons gemaak het, oor al die maniere wat ons anders kon reageer het. Om sonder spyt te leef, is om nooit enige iets buite jou gemaksone te gewaag het nie.

ʼn Lewe sonder spyt beteken: “You never loved imperfectly. Never ventured beyond certainty. Never lived fully,” skryf sy in haar boek.

Die Verlore Seun weet hy het ʼn fout gemaak. Hy het diep spyt en nog ʼn dieper berou. Hy sê, “Ek sal na my Vader gaan,” — wat hom met ope arms terug ontvang.

Miskien wil spyt ons leer om mooi te luister, want dit wil iets sê oor dit wat regtig belangrik is. Laat dit ons harte sagter maak en ons lei na groter wysheid, of sal ons maar net weer oor ʼn paar jaar sê, “Ek wonder wat kon gewees het.”

Want die diepste spyt gebeur waar ons dink: my enigste keuse was — veg of vlug.

Soos altyd.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“It ain't what you don't know that gets you into trouble. It's what you know for sure that just ain't so."
―  Mark Twain 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights