
Potgooi:
“Love is simple. Fear is complex. The spiritual journey is the unlearning of fear and the acceptance of love.”
— Marianne Williamson —
My woord (mantra) vir die jaar is: Simplisiteit.
Simplisiteit is om jou lyf, gedagtes, en siel te belyn sodat dit in balans sal wees met harmonie tussen wat jy voel, glo, en dink.
“Simplicity is the courage to let go of inner noise so that love, truth, and presence can move freely.” — Thomas Merton
Nog ʼn boek wat ek raakloop in die groot inpak, is Don Miguel Ruiz se ‘The Four Agreements wat ek in 2005 die eerste keer gelees het. Verstom kyk ek na my kantaantekeninge en besef hoe diep die waarheid van hierdie dun boekie lê.
Op een van die bladsye het ek in vet letters geskryf: MENTAL DETOX — want dit is hoe ek sy wysheid ervaar het.
Hier is die VIER OOREENKOMSTE waarvan hy praat:
“Your words create your inner world, use your words truthfully and lovingly. Avoid gossip, self-criticism, and manipulation—toward others and yourself.”
Interessant is dat die woord ‘impeccable’ kom van die Latynse woord ‘peccare’ wat beteken: om te sondig of jou doel te mis.
Ek IS nie sondig nie, ek DOEN soms sonde. Vandag verstaan ons ‘sonde’ as alles wat ons doen wat maak dat ons ons doel mis.
Gaan dink mooi oor hoe jou woorde (in gedagtes en wat ons sê) bydra dat ons ons lewensdoel mis en so ook die geskenk om ʼn lewe van vervulling te lei.
In elke aspek van jou lewe — tree met integriteit op. Geen verskuilde agenda, geen drama, geen strategiese half-waarhede, geen wegsteek of ontken as jy weet wat die waarheid is nie.
Om goed te oor-dink (over-thinking) of soms te veel praat, is beide ʼn bewys dat ʼn mens nie met jou voete geanker is op die grond nie. ʼn Mens fladder êrens tussen wolke en die diep blou see.
Wees gemaklik met stiltes. Maak ʼn pouse voor jy ʼn opinie of verwyt toeslinger. Vra jouself of wat jy sê enigsins waarde gaan toevoeg tot die ander persoon, en HOE jy dit sê enigsins daardie persoon gaan bring om te verstaan wat jy bedoel.
Woorde is óf vensters óf mure tussen mekaar. Wat en hoe ons dit sê, is ʼn spieël van die siel wat ons wonde of waardes op mekaar projekteer.
“Met die tong loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit behoort nie so te wees nie. 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde bron vars én brak water uitborrel nie.” — Jakobus 3:9-11
“What others say and do is a projection of their own reality. When nothing is personal, nothing has the power to wound you unnecessarily.”
Dit beteken nie dat jy onverskillig of gevoelloos is oor wat gebeur en gesê word nie, maar dat jy kies om nie ʼn slaaf daarvan te word nie.
As daar nou een ding is wat ek geleer het, is dit die feit dat ek ophou worry het oor wat ander mense van my dink omdat ek besef het hulle selde doen. Dis net ek wat dink hulle dink sleg van my — hulle is gewoon te besig om oor hulself te dink.
Ons almal projekteer ons issues op mekaar. Dis maklik om vinger te wys en te blameer en wanneer ander dit met ons doen, skop die ego in op vol volume. Vra eerder jouself: Wat is besig om te gebeur met hulle — nie met my nie?
Dit is nie ʼn verskoning vir ander om te doen en te sê wat hulle wil nie, maar ek vat dit nie langer vir my rekening nie.
Soos laas week gesê — simplisiteit is nie die afwesigheid van emosionele pyn nie, dit is die wysheid om dit nie groter te maak as wat dit is nie.
“Assumptions create misunderstanding and suffering. Ask questions. Communicate clearly. Check your stories. Respond, don’t react.”
Gaan kyk hoe kompleksiteit floreer op aannames, asof die ego net weet van aannames omdat te lui is om vrae te vra wat sal lei tot insig en begrip. Dit begin met die aanname dat almal die lewe sien soos ek doen, of dat ander gelukkig sal wees as hulle doen wat ek wil hê.
Daarbenewens is dit ook waar dat ons aannames gebore word uit ons eie ongelukkigheid. Aannames lei tot persepsies wat lei tot projeksies. Die vinger wat wys na jóú foute mis die drie vingers wat wys na my eie wonde.
In plaas van om behoeftes duidelik te kommunikeer, maak ons aannames dat die ander persoon net moet weet wat dit is. As ons eerlik genoeg met onsself is, sal ons erken dat die meeste van ons konflik is as gevolg van aannames.
Wat lê agter ons aannames? Vrees — wat dink dit is wysheid en insig.
“Suffering is not caused by life itself, but by the unconscious agreements we make with fear.” — Don Miguel Ruiz
Wees sagter met jou aannames en vooroordele want dit sê meer van jou as van my.
“Your best today may not be your best tomorrow. When you do your best, you are free from regret and self-judgment. Doing your best is an act of self-respect, not self-punishment.”
Party dae is ‘doen jou beste’ daardie deurbraak ná maande se harde werk. Ander dae is ‘doen jou beste’ om net deur die dag te kom met moed en dankbaarheid.
“Ons spandeer hopeloos te veel tyd op wat dringend is en nie naastenby genoeg tyd op wat belangrik is ʼn nie,” het Stephen Covey gesê, en dan wonder ons hoekom ons kronies moeg en oorweldig voel.
Om jou beste te doen, beteken nie jy moet MEER doen nie asof ons altyd-besig ʼn bewys is van ons waarde nie.
Daarom omring ek my met mense wat my inspireer en kan help om hierdie vier ooreenkomste te ontgin en daarin te kan floreer.
"Wat jy ook al doen, doen dit met jou hele hart asof vir die Here en nie vir mense nie." — Kolossense 3:23
Kom ons kyk Sondag na hierdie VIER OOREENKOMSTE en wat die invloed daarvan is op my familie, werk, huwelik, en geestelike lewe.
Soos altyd

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
