Filippense — Geloof in Aksie

Potgooi:

 

“Oktobermaand, die mooiste mooiste maand, want al die veld is vol van blom en geur.” 
— Louis Leipoldt —

Maand na maand is daar ʼn geboorteproses om ʼn tema te vind wat relevant en toepaslik is in ons dag tot dag se lewe. Keer op keer is ek verstom hoe ʼn tema mý vind en al wat ek moet doen is om oop en ontvanklik daarvoor te wees.

So sit daar laas week iemand op my bank wat, soos soveel ander voor hom sê, “Ek weet nie meer HOE om te glo nie. GELOOF maak nie meer vir my sin nie.”

Uiteraard van die saak kan ek net antwoord vanuit my eie verwysingsraamwerk en sê toe dat geloof is nie ʼn ding vir die brein nie, en veral nie vir daai klein blerts in die brein wat ons ken as die EGO wat dink dis die somtotaal van ons bestaan nie.

Die brein (EGO) weet net van vergelyk, kompartementaliseer, fragmenteer, en kronies besig om te pendel tussen reg of verkeerd, goed of sleg, wit of swart.

Die teenoorgestelde van geloof is nie ongeloof nie, ook nie twyfel nie — maar BEHEER. Die verstand wil in beheer wees. Alles op ʼn rytjie sit, vir alles ʼn etiket gee en dan tot ʼn logiese gevolgtrekking kom. Wat ons nie verstaan nie, sal ons ontken en so hardloop die verstand draaie om jou hart.

Maar wat verstaan die brein van liefde, uit watter laai sal dit ʼn definisie gaan haal sonder om te besef wat dit regtig beteken om iemand meer lief te hê as jouself?

Wat verstaan die intellek van dood en lyding? Hoe hard probeer die EGO om ons eie sterflikheid te ontken, en as daar pyn is, moet iemand die skuld kry.

Hoor hoe stotter die brein om die begrip ‘ewigheid’ te verstaan of om ʼn prentjie te vorm van hoe groot die heelal is, want die EGO dink dit staan in die middel van die kosmos en alles draai om MÝ — dis totaal onbewus van die feit dat lank voor my was die wêreld hier, en lank na my sal die heelal steeds besig wees om uit te brei en te vergroot.

Nou wil ons met die brein probeer verstaan wat ons bedoel as ons praat van ‘GOD’ — iets wat die hart en siel net instinktief weet — dat daar 'n Lewe en Liefde is wat in en deur ons vloei wat nie VAN ons is nie.

Toe vertel ek hom van ʼn warm agtermiddag wat ek aangekom het in die stad Kavala in die Noord-Ooste van Griekeland, nie vêr van Turkye in die Ooste en Bulgarye in die Noorde nie. Die vriendelike man wat vir ons gereël is, vat ons met sy stokou stasiewa oor die berg na die dorpie Philippoi.

Nadat ons ons spulle neergesit het in die een ster gastehuis stap ons na die opelug teater wat gebou is in die 4de eeu voor Christus deur Phillip II wat die pa van Alexander die Grote was en die koning van Macedonië.

Daar sit ek in die snikhete middagson met ʼn Gideon’s Bybel wat my pa skelm in my tas geglip het en ek lees die Brief aan Filippense.

Dis net 4 hoofstukke wat jou 10 minute vat om deur te lees en geskryf is kort voor Paulus se dood in Rome êrens tussen 62-64CE.

Ek sien hom daar aankom met Silas en Timoteus, en hoe hy ʼn welgestelde en invloedryke vrou met die naam Lydia by die rivier ontmoet en hoe sy na alle waarskynlikheid die eerste persoon in Europa was wat ʼn volgeling van Jesus geword het want dit was die eerste gemeente daar.

Ek haal ʼn Bybel langs my uit en vra of ek vir hom iets uit hierdie brief kan lees. Hy knik instemmend, en ek maak dit oop by Filippense 2:1-2 

“As daar enige aanmoediging in Christus is, as daar enige troos van liefde is, as daar enige gemeenskap van die Gees, enige meegevoel en ontferming is; maak dan my blydskap volkome, sodat julle dieselfde ingesteldheid, dieselfde liefde sal hê, een in gees, en dieselfde gesindheid openbaar.”

Die Engelse vertaling is nader aan wat daar in die oorspronklike Grieks staan:

“… fulfil my joy that you may be of the same mind, having the same love, being united in spirit, of one mind.”

Wat is hierdie ‘MIND’ waarvan Paulus 50x praat in sy briewe?

In Afrikaans sal ons ‘MIND’ besmoontlik kan vertaal met jou hartgesindheid, in ʼn sekere konteks ook jou ‘ingesteldheid’ en ‘denkwyse’. Paulus verwys soveel keer na, ‘to have the mind of Christ’ — wat beteken dit?

“The mind of Christ is not a set of beliefs, but a way of seeing.” — Richard Rohr

As iemand sê, “Ek weet nie meer HOE om te glo nie,” is dit belangrik om te hoor dat dit nie ongeloof is nie maar ʼn eerlike soeke na sin en betekenis. Sy ‘GELOOF’ is nie weg nie maar het geskuif van verstandelike sekerheid na ʼn dieper dimensie van vertroue, liefde, en lewe.

Hierdie ingesteldheid (“mind of Christ”) is nie ʼn intellektuele konsep wat ʼn mens uit ʼn boek kan leer nie. Dit is ʼn spirituele perspektief en insig. Dis ʼn manier van leef, ʼn innerlike oriëntasie wat sien “die veld is vol van blom en geur.”

Om die fokus te skuif van onsself na ander, om bereidwillig te wees om iets op te offer vir iemand anders sonder om enige iets terug te verwag, om liefde te kies bo vrees — kom uit ʼn hele ander sfeer van ons menswees.

GELOOF is nie om vir elke vraag ʼn antwoord te hê nie, maar beteken jy kies om LIEFDE en LEWE toe te laat om deur jou te vloei.

Dit maak die teenwoordigheid van God tasbaar, aanvoelbaar, relevant tot elke aspek van jou lewe. Só ontdek ons dat liefde, vreugde, vrede, is ʼn vorm van geloof. Elke asemteug, elke gebaar van gee en omgee, is ʼn manifestasie van geloof. Dit is die energie wat vir ons purpose in ons lewe gee en daarom ook vervulling.

In daardie antieke amfiteater in Philippoi het dit vir die eerste keer in my lewe regtig sin gemaak.

Toe belowe ek hom om die volgende twee Sondae te praat oor die Brief aan Filippense en te gaan kyk wat sê hierdie roerende brief oor GELOOF.

  • Hoe vind 'n mens jou geloof in twyfel?
  • Hoe versterk 'n mens jou geloof wanneer ons kwesbaar en weerloos voel?
  • Hoe lyk geloof in jou gesin, by die werk, en in ons verhouding met God?

Hoop om jou Sondag in ons Kapel te sien.

Met liefde

Terblanche

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights