ESSENSIE – Begin by die BEGIN III

Potgooi:

 

“Fear is a reaction.
Courage is a decision.”

― Winston Churchill —

Soos Paasfees nader kom, onthou ons nie net 'n gebeurtenis van lank gelede nie maar dink oor die betekenis daarvan op ons lewe vandag — hier en nou: by die werk en ons gesinne, in ons geestelike lewe, en verhouding met God.

Die verhaal van die kruis en opstanding hou ʼn spieël voor ons op. Dit help ons om te sien wie ons werklik is, en openbaar iets oor die kern van ons menswees — hoe ons leef, waarom ons reageer soos ons reageer, en wat die diepste waarheid van ons bestaan is.

Die meeste mense leef vanuit ʼn oorlewingsdrang. Dit is die weergawe van onsself wat probeer navigeer deur ʼn komplekse wêreld. Dit leer vinnig hoe om te beskerm en te verdedig. Dit leer wat goedkeuring bring en wat die risiko loop om gekritiseer te word.

Hierdie basiese instink van oorlewing is geheel en al vrees-gedrewe. Ons glo uit vrees, neem besluite uit vrees, reageer uit vrees, omdat ons bang is vir verwerping, bang is vir mislukking, bang ons is nie goed genoeg nie.

Ironies genoeg wys navorsing dat die oorgrote meerderheid van ons vrese nooit werklik gebeur nie, maar dit stop ons nie om deurweek van vrees te leef nie.

Vrees is ʼn monster wat jou stuk-stuk opvreet tot jy later glad nie meer weet wie jy is, wat jou drome en ideale is, of wat waarde toevoeg tot jou lewe nie. Ons vergeet wat vir ons vreugde en betekenis in die lewe gee. Al wat oorbly, is die konstante bekommernis oor alles wat moontlik verkeerd kan gaan.

“He who has overcome his fears will truly be free.” — Aristotle

Natuurlik is daar situasies en omstandighede waar vrees verstaanbaar is — jy verloor jou werk; jy gaan deur ʼn egskeiding; jy of ʼn geliefde word gediagnoseer met ʼn ernstige siekte, maar die grootste gedeelte van ons vrees lê in ons gedagtes en nie in die werklikheid nie.

Vir seker kan dit nie ons lewensdoel wees om die hele tyd in vrees te leef nie, of om die hele tyd op ons vrese te reageer nie.

Vrees is 'n Masker

Vrees beskerm die ego, liefde beskerm die siel.

Oor en oor in al die Evangelies hoor ons die refrein — “Moenie bang wees nie.” Soms sê dit, “Hou moed!” en ander kere, “Vrede vir julle.” Dit is die kern van Jesus se uitnodiging — moenie bang wees nie.

Vrees vorm en vervorm elke aspek van ons lewe. Dit beïnvloed ons besluite by die werk, ons gesprekke by die huis, en ten diepste ons verhouding met God.

Van kleinsaf is ons geleer om God te ‘VREES’ en hoe pas liefde in dié Godsbeeld?

Dink aan ’n eenvoudige situasie by die werk. Jy sit in ’n vergadering waar ’n belangrike besluit geneem moet word. Jy weet die plan gaan waarskynlik nie werk nie, maar jy bly stil. Nie omdat jy niks het om te sê nie, maar omdat jy bang is om op tone te trap of arrogant oor te kom.

Dink aan ʼn huwelik waar albei die disconnect voel, maar niemand praat daaroor nie. Die een is bang vir konflik, en die ander een vir verwerping. Die lewe gaan beleefd voort maar intimiteit verdamp in die voorgee dat alles okay is.

Selfs vriendskappe is nie immuun teen vrees nie. Ons dra maskers om aanvaar te word en sal dit nie waag om ons ware self of weerloosheid te wys nie, want ons vrees veroordeling. Almal ken ʼn weergawe van mekaar en alles is oppervlakkig.

Kyk na die nuus en sosiale media en jy sien hoe maklik vrees versprei. Die wêreld word verdeel in “ons” en “hulle”. Reaksies volg op reaksies. Mense sê dinge op ’n skerm wat hul nooit die moed sou hê om in iemand se gesig te sê nie.

Dit laat ons voel of Jesus se boodskap om nie bang te wees nie, onmoontlik is. Tog is die essensie van Paasfees se boodskap dat opstanding plaasvind waar ons liefde kies bo vrees, dit gebeur wanneer ons opstaan uit die graf van ons aannames, uit die illusie dat dinge nooit gaan verander nie. Die hele skepping is immers ’n getuie van herlewing — na elke winter kom die lente, na elke nag kom ʼn nuwe dag.

Skaamte is 'n Sluier

In Genesis 3 lees ons hoe die mens vir God wegkruip en as God hom vind dan sê, “Ek was bang, want ek is kaal.” Dan vra God, “Wie het vir jou gesê jy is kaal?”

Hierdie vraag eggo deur alle eeue! Ons is bang want ons is kaal, en omdat ons skaam is, kruip ons weg.

Die Engelse woord ‘SHAME’ (skaamte) kan in Afrikaans ons ‘skande’ en ‘self-veroordeling’ beskryf wat vloei uit ons vrees vir verwerping en vernedering en oorloop na skuldgevoel en selfverwyt.

Skuldgevoel sê, “Ek het iets verkeerds gedoen.” Skaamte sê, “Daar is iets verkeerd met mý.”
Skuldgevoel sê, “Ek het misluk.” Skaamte sê, “Ek ís 'n mislukking.”
Skuldgevoel sê, “Ek doen nie genoeg nie.” Skaamte sê, “Ek is nie goed genoeg nie.”

Natuurlik gaan maak ons reg waar ons verkeerd gedoen het. Ons het berou waar ons iemand seermaak en verander ons gedrag want dit is wat liefde doen.

“Wie het vir jou gesê jy is kaal?” as ons geskape is in die Beeld en Gelykenis van God, en die Asem van God asem.

“Shame makes us perform; love makes us present.” — Brené Brown

Waar ons wegkruip vir onsself, ons medemens, en vir God, leef ons vanuit ’n verdraaide beeld van onsself, en word ons ʼn karikatuur van wat ons sê ons glo.

Soos die Fariseërs en Priesters kruip ons weg agter die Wet sodat ander nie ons kwesbaarheid sien nie. Ons gebruik die mag en korrupsie van die regering (i.e. Romeine) om ontslae te raak van almal van wie ons nie hou nie, en ons moedig die gepeupel aan om te skree, “KRUISIG HOM!” sodat ons nie verantwoordelikheid hoef te vat vir ons vooroordele en selfgeregtigheid nie.

Paasfees bring ʼn radikale boodskap — aan die einde van die verhaal het vrees en skaamte nie die laaste woord nie. Die kruis van veroordeling, vernedering, en verwerping maak plek vir ʼn lewe van vernuwing, herlewing, en verandering.

Die essensie van ons menswees is nie bedoel om net te gaan oor oorlewing nie, maar om voluit te leef in die volle spektrum van LEWE as ʼn uitdrukking en ervaring van wat dit beteken om Geliefdes van God genoem te word.

Want dit wat deur God ingeasem word, bly nie in die graf nie.

Dit staan op.

Weer en weer.

Altyd.

Met liefde

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Where fear rules, people defend themselves. Where love rules, people reveal themselves.”
― Henri Nouwen 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights