Drempels — en die Tussen-In-Tyd III

Potgooi:

 

“Inner peace is impossible without patience. Wisdom requires patience. Spiritual growth implies the mastery of patience. Patience allows the unfolding of destiny — there's no advantage to hurrying through life.”
― Brian Weiss ―

Die lewe gebeur nie alles op een oomblik nie. Dit skuif een sentimeter, een millimeter op ʼn slag, deur keuses en besluite wat onbewus gemaak word.

ʼn Pouse wat eers diep asemhaal voor jy reageer; ʼn liefdevolle woord in plaas van ʼn verwyt; ʼn oomblik nadink voor jy sê wat jou behoefte is.

Elkeen van hierdie klein momente is ʼn drempel van die persoon wie jy was en die een wat jy besig is om te word. Hulle kom in die kombuis, in die verkeer, by die werk, in ʼn WhatsApp-boodskap, en in die gesprek met jouself teen 3 uur in die môre. Dit vra keer op keer: gaan ek stilstaan, of oor die drempel stap?

Die grootste insig en die diepste ontdekking van spirituele groei, speel nie af in katedrale nie, maar by die drempels van daai tussen-in-tyd. Dit gebeur in elke beweging van vrees na liefde, van verwydering na versoening, van skuld na vergiffenis, van konflik na vrede.

Kom ons kyk na ʼn paar drempels wat elke dag oor ons pad kom en hoe ons die keuse kan maak om met vrede en gemoedsrus oor elke drempel te kan stap.

Van Frustrasie na Geduld

Frustrasie voel altyd geregverdig. Iets is te stadig, te veel van te min en dan skop die ego in met irritasie wat sê, “dis nie wat EK wil hê, soos ek dit WIL hê nie!”

Die oomblik as ongeduld die vertrek instap, val die temperatuur met 10 grade. Jou kakebeen kners, jou bloeddruk styg, jou tong klap, en jou goeie oordeel vat die pad.

Geduld is nie ʼn deurmat waaroor almal kan loop nie en keur nie swak gedrag goed nie, maar dit kies om oop en aanpasbaar te bly as omstandighede verander. Dis ʼn innerlike krag wat met sagmoedigheid na ʼn situasie kyk.

Om oor hierdie drempel te stap, vat moed en moed is die hoofslagaar van geduld. Geduld beskerm verhoudings teen die geweld om iets te breek eerder as te bou — en die meeste van die tyd kan dit enige situasie in sekondes transformeer.

Geduld is nie om te sit en wag voor die drempel nie. Geduld is om kalm te bly, maak nie saak wat gebeur nie, en konstant besig om elke situasie te verander in ʼn geleentheid vir groei.

Ons stap oor daai drempel met vertroue dat alles sal bymekaar kom soos dit moet en as dit nie doen nie, sal ek steeds okay wees.

“Why is patience so important? Because it makes us pay attention.” ― Paulo Coelho

Van Beheer na Oorgawe

Ons dink as ons in beheer is van alles, kan ons die uitkoms beter bestuur. As ons alles kan reguleer en kontroleer, dan sal daar nooit chaos wees nie.

Maar die lewe werk nie so nie.

‘Oorgawe’ is nie opgee nie, en beslis nie passief nie. Dit is die moed om die pas en ritme van die natuur te herken, dapper om die werklikheid te erken, eerlik genoeg om onsself te ken.

Om oor hierdie drempel te stap is om jou gebalde vuiste oop te maak en te sien dat net ʼn oop hand kan ontvang.

Ons doel is om getrou te wees en nie waarborge te soek dat als presies moet wees soos ek wil nie. Laat los die behoefte om van als en almal in beheer te wees.

In plaas van om iets in ʼn rigting te forseer, probeer eers verstaan en wees oop om iets te leer en daardeur te groei. As angstigheid jou aan die keel gryp, word ʼn oomblik stil — maak jou hande fisies oop, haal diep asem, en laat gaan daai prentjie in jou kop van hoe goed MÓÉT wees.

“All great spirituality is about letting go.” — Richard Rohr

Van Isolasie na Konneksie

As ons seerkry, onttrek ons. As ek nie my sin kry nie, bou ons ʼn muur, en vergeet dat elke drempel is ʼn brug.

Om stil te gaan staan, of om te draai en weg te stap, mag miskien in die oomblik voel jy neem beheer, maar besef nie hoe dit ons isoleer nie en isolasie vreet jou energie, kreatiwiteit, lewenslus, en vreugde stuk-stuk op.

Konneksie is hoekom ons hier is — dit gee vir ons doel en betekenis in die lewe. Ons hunker na aanvaarding en erkenning.

Ons almal wil van geweet wees. Ons wil voel ons behoort. Ons wil nie net inpas nie want dis nie wat ‘belonging’ beteken nie. Ons onderskat die krag van om aan mekaar te raak, ʼn glimlag, ʼn liefdevolle woord, en ʼn knipoog wat sê: Ek sien jou!

Hierdie drempel onderskei die kaf van die koring, die muis van die man, die modder van die leivoor, die lafaard van die hero.

Die wêreld het genoeg beterweters wat koning kraai op hul eie puinhoop. Wat ons kort, is mense wat dapper genoeg is om konneksies te bou en nie terugdeins as die drempel soms duwweltjies of soms ʼn vuur is nie.

“We’re all just walking each other home.” — Ram Dass

So, kom ons vat Sondag ʼn handvol van hierdie drempels en kyk wat verander:

Van gebrek na genoeg, van vergelyk na tevrede, van bitterheid na compassion; van onvergenoeg na dankbaar, van twyfel na vertroue, van verwyt na vergewe.

Waar is God in dit Alles?

Ons dink dat God is die beloning as ons oor die drempel stap. As ons geduld het, met oorgawe leef, en konneksies bou, DAN sal God ons raaksien.

Nee, God is die drempel — daardie wag voor jou mond voor jy iets kwetsend sê; daardie diep asemteug voor jy 'n groot besluit maak; die kalmte as jy voel als tuimel inmekaar.

God is die teenwoordigheid wat by elke drempel jou nooi om die stap te vat. Selfs al kies ons om om te draai en terug te kruip na vrees, konflik, skuldgevoel, en kwaad, bly die drempel (i.e. God) presies waar dit is. In die Christendom noem ons hierdie drempels, GENADE.

Whatever you do, choose GRACE.

Altyd

Met liefde

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“I do not at all understand the mystery of grace — only that it meets us where we are and does not leave us where it found us.”
― Anne Lamott 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights