Vier Vroue — Die Verhaal van Rut

12/08/2026

Potgooi:

 

“Belonging is not about fitting in. It is about being accepted for who you are.”
— Brené Brown

In Vrouemaand sit ons ons gesprek voort oor vroue in die Bybel wat Spreuke se ‘Lady Wisdom’ vergestalt.

Ons het begin met Hagar, ʼn Egiptiese slavin wat vra: “Sien enige iemand my?”en dan die eerste persoon word wat vir God ʼn naam gee as sy sê: “El Ro’i”(die God wat my sien)as sy besef: Wysheid laat ons sien.

Toe het ons gesels oor Deborah wat vra: “Wie sal opstaan vir die Waarheid?” en dan sê: “Ek het 'n stem, en ek sal dit gebruik,” as sy besef: Wysheid vat leiding.

Vandag ontmoet ons Rut, die vreemdeling wat vra: “Is daar vir iemand soos ek 'n plek?” — en ontdek: Wysheid bring 'n sin van behoort (Wisdom creates belonging).

Die boek Rut in die Joodse Bybel is deel van die Vyf Megillot — die vyf boekrolle — saam met Hooglied, Klaagliedere, Prediker en Ester. Rut word gelees tydens Shavuot (die fees van die Oes) wat later duidelik sal word hoekom.

Die historiese Rut het geleef in die tyd van die ‘Rigters/Regters’ 1200 en 1050 v.C. maar die boek Rut is eeue later geskryf aan die einde van Ballingskap rondom 500 — 400 v.C.

Hoe weet ons dit? Wel, eerstens kan jy dit in die taalgebruik sien as iets baie later geskryf is net soos die Afrikaans vandag verskil van die Afrikaans ʼn 100 jaar terug; tweedens is die Babiloniese / Persiese invloed duidelik in die woordeskat en simboliek; en derdens is die motiewe van skrywers ná ballingskap duidelik in vrae rondom vreemdelinge, identiteit, huwelike, etnisiteit, en wie behoort aan die ‘volk van God’. Alles vrae wat direk aangespreek word in die verhaal van Rut.

Daar was dalk ’n ou Israelitiese tradisie dat ’n Moabitiese vrou met die naam Rut deel geword het van die familiegeskiedenis van Dawid. Geslagte later neem ’n verteller hierdie tradisie en vertel dit in ’n sorgvuldig literêre verhaal met ʼn sterk teologiese ondertoon.

Dit beteken NIE Rut is ʼn fiktiewe karakter nie, dit beteken dat ons nie met sekerheid die historiese persoon agter die verhaal kan rekonstrueer nie.

Die verteller vra dus nie: “Wat het gebeur?” nie. Hy vra: “Wat beteken dit wat gebeur het?” Ons moet ʼn duidelike onderskeid maak tussen die twee.

Die name in die verhaal word deel van die literêre kunswerk.

Hulle kom van Bethlehem wat beteken: ‘huis van brood’ waar nou geen brood is nie. Die hoof van die huishouding is Elimeleg (beteken: my God is koning) wat sterf in ʼn vreemde land. Daar is Naomi (my lieflike / my delight) wat later haar naam verander na Mara (bitterheid). Hulle het twee seuns: Mahlon (te doen met sieklikheid) en Kiljon (te doen met swakheid) wat beide sterf.

Naomi het twee Moabitiese slavinne: Orpa (agterkant van nek) en Rut (metgesel / companion) vir wie Naomi sê om terug te gaan na hul mense en hul gode. Orpa vertrek maar Rut maak ʼn besluit met ʼn verklaring aan haar skoonma:

“Waarheen jy gaan, sal ek gaan; en waar jy oornag, sal ek oornag. Jou volk is my volk, en jou God is my God. Waar jy sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word. So mag Adonai met my doen, en so mag Hy nog meer doen, as enigiets behalwe die dood ons van mekaar skei.”— Rut 1:16-17 (direkte vertaling)

Naomi besluit om terug te gaan na Bethlehem waar ʼn welgestelde familielid ʼn plaas het. Dit was die gebruik vir boere om van die oes agter te los op die landery sodat minderbevoorregtes dit kan optel. Die naam van die man is Boas (beteken: in hom is krag). Volgens Matteus se geslagsregister was hy die seun van Ragab, die Kanaänitiese prostituut in Jericho wat Joshua se spioene help wegkruip het.

Boas sien die mooi jong vrou wat gerwe optel en hy doen navraag oor haar. Hy vra sy voorman wie dit is, wat antwoord: “Sy is 'n Moabitiese vrou wat van Moab teruggekom het saam met Naomi.” Hy gee opdrag dat ekstra gerwe vir haar gelos moet word asook water. Boas gee nog ʼn dimensie aan wysheid: wysheid herken die menswaardigheid van weerloses.

Dan gebeur iets wat ons Sondagskooljuffrou nooit vir ons vertel het nie. Naomi sien dat Boas van Rut hou en dan sê sy vir haar skoondogter: “Was jouself, sit parfuum aan, trek jou beste klere aan. Wanneer hy gaan lê ná die fees van die oes (onthou vroeër) dan gaan lê jy by hom en maak sy voete oop.” (3:3) Dit is doelbewus dubbelsinnig.

In die middel van nag word Boas wakker en ontdek ʼn vrou wat langs hom lê. Hy vra wie sy is en sy antwoord: “Ek is Rut, u diensmaagd. Sprei dan u soom/vleuel oor u diensmaagd, want u is 'n verlosser/beskermer.” (3:9)

Die woord ‘kanaf’ wat vertaal word met ‘soom van 'n kledingstuk’ of ‘vleuel’ is mooi want vroeër in die verhaal as sy die gerwe optel, sê Boas vir haar: “Mag Adonai, die God van Israel, onder wie se vleuels (kanaf) jy kom skuil het, jou volle beloning gee.” (2:12)

Wat Rut eintlik vra, is: “Jy het gesê ek het onder God se vleuels kom skuil — sal jy nou die mens wees deur wie God daardie beskerming vir my gee?”

Ná ʼn ruk trou Boas met Rut, sy gee geboorte aan ʼn seuntjie wat sy Obed noem (beteken: die een wat dien). Sy sit die seuntjie in haar skoonma Naomi se skoot en sê: Jy het jou twee seuns verloor, hier is vir jou 'n seun.

Obed was die oupa van Dawid.

Wat Matteus Evangelie wil sê, is dit: uit die geslag van Ragab (Kanaänitiese vrou) en Rut (Moabitiese vrou) loop die bloedlyn van Jesus.

Wat maak Rut so merkwaardig en hoekom plaas ek haar in die groep van vroue met wysheid? Sy weet wysheid is lojaliteit, en dat getrouheid opoffering vra; sy weet wysheid is dapperheid as dit makliker is om aan vrees oor te gee; sy weet wysheid is die liefdevolle goedheid waarmee ons gee; en sy weet dat wysheid deur heinings breek en oor mure stap wat mense gebou het om te bepaal wie behoort en wie nie.

Die boodskap van Rut is opvallend eenvoudig: die vreemdeling word verwelkom. Dit praat van ʼn wysheid wat ʼn gevoel van behoort skep.

“To be rooted is perhaps the most important and least recognized need of the human soul.” — Simone Weil

Die novelle van Rut is ʼn verhaal van ʼn Moabitiese weduwee wat ʼn moeder van Israel word. ʼn Vrou uit ʼn vreemde land wat geen huis of beskermer het nie word deel van ʼn koninklike bloedlyn.

In Suid-Afrika resoneer hierdie storie met ons eie verhaal. Ons eie geskiedenis is gelaai met vrae oor identiteit — wie behoort en wie nie; wie is uitgesluit en wie nie; wie is “een van ons” en wie is nie; wie word verwelkom en wie word weggewys?

Hierdie is nie abstrakte teologiese vrae nie, dit is deel van ons daaglikse realiteit in ons familie, gemeenskap, werksplek, en nasie.

Rut gee nie eenvoudige antwoorde nie maar ʼn treffende beginsel: die vreemdeling is nie 'n probleem wat opgelos moet word nie, maar iemand wat die toekoms in hul dra wat ons nog nie kan sien nie.

Soos altyd, met liefde

 

Gedagte vir die Week

“We need one another. We need each other’s stories, each other’s strength, each other’s courage.”
 Brené Brown 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights