BOEKE wat deur Terblanche aanbeveel word 

INTROSPEKSIE – Van Wonde na Wysheid

Potgooi:

 

“Die eerste ding is dit: verwerf wysheid, met alles wat jy kan bekom, kry insig.”
— Spreuke 4:7 —

Twee woorde in Spreuke wat hand aan hand gaan is: Wysheid (wisdom) en Begrip (understanding). Die twee woorde in Hebreeus is: chokmah en binah — albei vroulike woorde, met ʼn ryk betekenis in die Joodse Mistiek. Wysheid is wat jou laat sien, en begrip is om wat jy sien toe te pas op ʼn betekenisvolle lewe.

In Mei het ons gesels oor: Van Vrees na Vrede en in Junie oor: Van Spyt na InsigHierdie maand gesels ons oor: Van Wonde na Wysheid (om te leer uit dit wat seer is).

Om mens te wees, is om wonde saam te dra. Die meeste is onsigbaar. Sommige het gister gebeur en ander ʼn dekade, of selfs langer gelede. Stil-stil het dit ʼn invloed op hoe ons praat, kyk, lief, vrees, hoop, vertrou, en reageer op dit wat met ons gebeur.

Ons almal gaan deur die lewe met ʼn rugsak vol stories. Niemand gaan deur die lewe onaangeraak nie. Sommige verhale voed ons, ander los ʼn blou kol. Almal wat ons ontmoet, dra ʼn wond wat ons nie kan sien nie.

Die vraag is nie of ons wonde het nie. Die vraag is, wat doen ons daarmee? Word dit mure of vensters? Word dit ʼn loopgraaf vir elke geveg, of ʼn leivoor na ons tuin?

Die reis van verwonding na wysheid is een van die mens se oudste verhale. Die filosofie (liefde vir die wysheid) praat daaroor. Die sielkunde bestudeer dit. Spirituele tradisies eer en respekteer dit.

ʼn Wond is enige ervaring wat ʼn letsel laat op die manier hoe ons onself, ander, en die lewe ervaar. Emosionele wonde is nie ʼn spesifieke gebeure nie, maar wat oorbly ná iets wat gebeur het.

Hoe baie het ek al gesien dat twee mense deur dieselfde ervaring gaan en totaal verskillend daarop reageer. Die een word gevul deur liefde, en die ander een met vrees. Die een se hart gaan oop, die ander een bou ʼn muur.

Wonde vanweë verhoudings sny waarskynlik die diepste — verwerping, verraai, verwaarlosing. Baie van ons wonde kom uit ons kinderdae — liefde moet verdien word, moenie teleurstel nie, doen wat van jou verwag word en nie wat vir jou belangrik is nie.

Daar is wonde van ʼn gebroke huwelik, geleenthede wat deur jou vingers geval het, ʼn droom wat verpletter is. Die wond van mislukking wat fluister: “Miskien is ek nie wie ek gedink het ek is nie,” en dan kwetsend sê: “Daar is iets fout met my.”

Daar is wonde wat nie deur mense veroorsaak word nie maar deur die lewe self. Die wond van ons eie sterflikheid, van onsekerheid, die ontdekking dat nie alles altyd sin maak nie. Die wond dat ons nie van alles in beheer is nie.

Nie alle wonde is as gevolg van ʼn tragedie nie, maar weens ʼn duisend-en-een klein oomblikke, oor jare, van voel jy word nie gehoor of gesien nie, aanhoudende kritiek, of soms omdat aannames en persepsies nie strook met die werklikheid nie.

Die diepste hartseer is dat die meeste mense word hulle wonde. Ons sê vir onsself: mense stel teleur; moenie ander vertrou nie; ek het niemand nodig nie. Later kan ons nie eers meer onderskei wie ek is as mens en wie ek is met my wonde nie.

Wat is wysheid?

Ons verwar dikwels wysheid met intelligensie. Dit is nie dieselfde nie. Kennis maak inligting bymekaar. Intelligensie los probleme op. Insig sien die patrone, maar wysheid, wysheid gaan dieper — dit sien die groter prentjie, verstaan ons plek daarin, en gee sin en betekenis aan die soet en suur, goed en sleg van die lewe.

Wysheid is die vermoë om met waarheid te leef. Wysheid verstaan wat realiteit beteken, dit wéét wat belangrik is en hoe om gevorm te word deur dit wat regtig saak maak.

Wysheid gee perspektief, en die vermoë om die konteks van goed te verstaan; dit sluit in ʼn onderskeidingsvermoë om te weet wat is reg en wat is verkeerd, wat is sinvol en wat is onsin; dit ontsluit kernwaardes soos: nederigheid, geduld, empatie.

ʼn Wyse persoon is nie die een wat alles weet nie. ʼn Wyse persoon weet wat verdien ons aandag — wat om vas te hou en wat om te laat gaan, wanneer om te praat en wanneer om stil te wees, wat nodig is om voor te baklei en wat om oor te gee.

VERSTAAN vra: “Wat het gebeur?” WYSHEID vra: “Hoe sal ek hierop reageer?”

Ken Wilber vat dit mooi saam:

“Understanding observes. Wisdom integrates. Understanding explains, wisdom transforms.”

Dit sluit aan by ons gesprek laas week oor INSIG toe ons gesê het: Intellektuele insig is om te verstaan wat gebeur het. Emosionele insig verstaan hoekom ons voel soos ons voel oor wat gebeur het. Spirituele insig weet hoe om te reageer hierop.

“Wisdom requires truth. Not perfection. Not performance. Truth.” — Richard Rohr

Hoe kweek, koester, en kultiveer ons meer wysheid?

  1. Self-Refleksie vra: wat is besig om te gebeur; wat is belangrik; wat kan ek leer?
  2. Eerlike Introspeksie vra: waarvoor is ek bang; wat probeer ek vermy?
  3. Wyse mense luister na die stem van die siel, na Lewe, na stilte, na insig want wysheid maak jou oop om te leer, vrae te vra, en aan te hou groei.
  4. Bly Nederignie minder dink van jouself nie maar minder net aan jouself dink.
  5. Leer die dissipline van Geduldwysheid gebeur nie oornag nie — dit plant, dit skiet wortel, dit groei, dit dra vrug, en herhaal die proses.

Die lewe maak soms ʼn wond. Liefde stel teleur. Drome misluk. Mense verlaat ons. Ons liggame verouder. Ons sekerhede en oortuiging tuimel soms in duie.

Miskien is wysheid nie iets wat die lewe ons gee ná ʼn wond nie, miskien is wysheid iets wat verskyn as ons ophou weg hardloop van ons wonde.

Wonde wys nie net wat seer is nie, maar wat saak maak. Wysheid gee elke wond lig en lug — en miskien is dít die Lewe se grootste geskenk: nie om ons wonde te ontken of weg te steek nie, maar deur ons wonde te leer om ten volle MENS te wees.

Ek klim Maandagaand in die bed ná ʼn dag van lees oor wat beteken WYSHEID. Na ek die lig afsit hoor ek ʼn uiltjie net buite my ruit wat roep, roep-roep. Ek glimlag omdat ʼn uiltjie die argetipe van wysheid is — nie omdat hy ʼn bril dra en boeke lees nie, maar omdat hy in die donker kan sien.

Soos altyd.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“There is a sacredness in tears. They are not the mark of weakness, but of power. They speak more eloquently than ten thousand tongues. They are the messengers of overwhelming grief, of deep remorse, and of unspeakable love.”
―  Washington Irving 
BOEKE wat deur Terblanche aanbeveel word 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-oarrow-circle-right
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights