INTROSPEKSIE – Van Spyt na Insig IV

24/06/2026

Potgooi:

 

“The only calibration that counts is how much heart people invest… the only thing people regret is that they didn't live boldly enough, that they didn't invest enough heart, didn't love enough. Nothing else really counts at all.”
— 
Ted Hughes —

Hoe verdrietig is dit as iemand sê: “Ek het nie spyt oor enige iets nie,” want dit beteken jy het nog niks in jou lewe geleer, nog nie ʼn duit gegroei nie, en weet glad nie hoe om weerloos tot die insig te kom dat iets moet verander nie.

Vir ʼn maand lank het ons gesels oor: SPYT BRING INSIG. Vandag sluit ons die gesprek af en staan vir ʼn oomblik stil by: wat beteken ‘INSIG’ en hoe ontgin ons dit?

In al die studies wat gedoen, en boeke wat geskryf is, staan daar een spyt uit soos ʼn paal bo water: ek wens ek kon meer myself wees.

Die spyt dat ons ons lewe leef in die verwagtinge van ander. Die rolle wat ons speel en die maskers wat ons dra om ander gelukkig te hou. Later weet ons nie eers meer wie ons is, en wát ons gelukkig maak nie, solank almal om ons gelukkig is.

Daar is dikwels spyt oor geleenthede wat gemis is. Soos reeds gesê: ons is meer spyt oor risiko’s wat NIE geneem is nie as die risiko’s wat gevat is en gefaal het.

Dit sluit seker aan by die spyt oor uitstel. Ons dink later, as dit beter, rustiger, meer geleë is, DAN sal ons uitreik na hulle vir wie ons omgee, dan sal ons ons drome uitleef, dan sal ons tyd hê om te doen wat ons nog altyd wou doen.

Ons dra diep spyt oor ons vrese wat vir ons besluit het. Vrees vir verwerping, vrees vir teleurstelling en mislukking, vrees om nie goed-genoeg te wees nie… en hoe ons toegelaat het dat vrees ons kompas geword het, en nie liefde nie.

Dan is daar die spyt dat ons sukses belangriker geag het as 'n betekenisvolle lewe. Wat ons bereik in die lewe (prestasies) kan nie kompenseer vir die gebrek aan konneksie, vrede, lewensdoel, en vreugde nie.

Hoe maak ons ons spyt ligter?

Ons kan die spyt erken en dit sien vir wat dit is — ʼn geleentheid om met eerlikheid te besef waar het ʼn aksie (óf reaksie) gemaak dat ons ons doel mis; waar het ons ʼn fout of verkeerde keuse gemaak; en hoe kan ons NOU dat ons dit weet, dit anders en beter doen?

Oor en oor in my eie lewe het ek gesien hoe dankbaarheid die INSIG bring wat spyt verlig. Trouens, dankbaarheid het die vermoë om baie goed in perspektief te plaas. Dit het die krag om jou uit enige gat te lig, en om die donker kamers in ons kop te verlig. Dit vat die modder van spyt en maak dit klei en uit klei die engele.

INSIG is een van daardie woorde wat ons dikwels gebruik maar selde vir ʼn oomblik dink wat dit regtig beteken.

INSIG is nie informasie, of intelligensie, of kennis nie. Ons kan baie dinge weet, nog meer goed onthou, en steeds geen INSIG hê nie.

INSIG is om IN te SIEN. INSIG is wanneer die werklikheid om bring om te verstaan en verstaan (begrip) lei tot verandering (i.e. transformasie).

Die Deense filosoof en teoloog, Søren Kierkegaard het gesê:

“Insight is the ability to perceive meaning, patterns, causes, and truths that were previously hidden — and then live differently because of what was seen.”

INTELLEKTUELE INSIG is die besef: “Nou verstaan ek.” Dit antwoord opreg en eerlik, wat die oorsaak van ons spyt is, watter patrone in my lewe bly hulself herhaal, en watter aannames het my sekere besluite laat neem?

EMOSIONELE INSIG is die wysheid wat sê: “Nou verstaan ek wat ek voel en hoekom.” Baie mense voel emosies, maar verstaan nie hoekom hulle dit voel nie. Dit beteken: ek blameer minder. Daar is minder projeksie en groter compassion — reaction becomes response.

SPIRITUELE INSIG is die groter waarheid wat sê: “Nou sien ek die werklikheid uit 'n ander hoek.” Spirituele insig vra: wat maak regtig saak; wat sal verander as my ego uit die pad is; wat wil spyt my leer oor dit wat gebeur het?

Die belangrikste ontdekking van my lewe was die INSIG dat elke mens kan sy lewe verander deur sy reaksies en gesindheid te verander.

Hoe manifesteer INSIG in SPYT?

  • Fase 1: Pyn — “Ek wens dit het nooit gebeur nie.”
  • Fase 2: Introspeksie — “Wat is my aandeel hierin?”
  • Fase 3: INSIG — “Wat sê dit van my?”
  • Fase 4: Integrasie — “Hoe gaan ek dit anders doen? Bitter of beter?”

Hoe koester, kweek, en kultiveer ons meer INSIG?

  • Self-refleksie — nou vra ons nie meer: “Hoekom het dit gebeur?” nie, maar: “Wat beteken dit wat gebeur het, en hoe kan/kon ek dit anders doen?”
  • Eerlikheid — die grootste insigte kom wanneer ons kan sê: “Ek het gedink ek weet… en ek was verkeerd.”
  • Praat daaroor — dink oor die goed waaroor ons dink, en deel dit met 'n vertroueling, 'n mentor, 'n geestelike begeleier, 'n terapeut, of net 'n dagboek.
  • Oplettendheid — ons sien nie wat voor ons is nie, ons sien net waarop ons fokus; INSIG is die hele tyd daar — ons is net te besig, te bang, te seker ons is reg om dit te sien.

Die konklusie is: refleksie bring verstaan; eerlikheid gee perspektief; om te praat gee emosies woorde; oplettendheid kweek ʼn bewuste teenwoordigheid wat vra: “Wat probeer die lewe al lank vir my wys wat ek nog nie raaksien nie?”

Vir die grootste gedeelte van my lewe het ek gesoek na nuwe landskappe, ʼn ander horison, nog ʼn bergpiek om te verower.

Vandag vra ek vir nuwe oë om te kan SIEN.

Soos altyd.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Experience is not what happens to you; it is what you do with what happens to you.”
―  Aldous Huxley 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights