Potgooi:
“If not now, when? If not here, where? If not me, who?"
— Joodse Gesegde —
Ons sit ons gesprek voort oor: Spyt bring Insig. Vandag staan ons stil by die boek ‘The Top Five Regrets of the Dying’ geskryf deur Bronnie Ware.
Vir meer as ʼn dekade het sy as Palliatiewe Versorger by mense gesit in die laaste weke van hul lewe. Langs hospitaalbeddens en in Hospice kamers het sy hulle wat sterwend is se hande vasgehou.
Wat sy oor en oor, van oud of jonk, en verskillende agtergronde gehoor het, was dieselfde spyt en naberou. Om jou eie sterflikheid in die oë te kyk, bring ʼn diep besef wat regtig saak maak en alles wat onbelangrik is, verdamp. Voorgee verdwyn, status word irrelevant, en die stories wat ons onsself vertel van wat nodig is om te oorleef, verdwyn soos mis voor die son.
Wat bly oor? Nie spreadsheets of trofees of nog ʼn foto op FB nie maar nakend eerlik, amper heilige vrae:
My eie ervaring van meer as 30 jaar se doodsbegeleiding stem presies ooreen met haar bevindings. Niemand — niemand, het nog ooit gesê dat hul wens hulle het meer geld of 'n groter huis gehad, of was meer suksesvol nie. Wat ek wel gesien het, was verdriet oor ʼn onvervulde lewe. Berou dat nooit gesê is waarna hul regtig verlang het, en nie meer teenwoordig was vir hul kinders en man/vrou nie.
Dit alleen is genoeg rede om ons SPYT met meer respek te behandel. Om op te hou om onsself te kruisig tussen skuldgevoel oor gister en vrees oor môre. Om te sien dat SPYT nie ʼn teken van swakheid is nie, maar ʼn teken dat ons nog voel, bereid is om te leer, en besef wat regtig belangrik is. Dit beteken jy het ʼn geleentheid om nou dat jy dit weet, dit wel te doen — terwyl daar nog tyd is.
Hier is die gevolgtrekking waartoe Bronnie Ware kom in haar, ‘Five Great Regrets’ —
Volgens haar is dit die grootste en mees algemene spyt wat sy waargeneem het. Dit sê NIE: “Ek wens ek het harder gewerk,” of “Ek wens mense het my meer aanvaar,” nie. Dit sê: “Ek wens ek het my eie lewe geleef.”
Dit gaan oor hoe ons onsself verloor langs die pad. Dit is nie een oggend, skielik, wat ons ons siel verloën nie. Dit lê in daardie duisend en een oomblikke waar ons uitstel. Ons word wat ‘ander verwag’; ons word ons verantwoordelikhede en verpligtinge… en op 50 weet ons nie eers meer wie ons is nie.
Let wel, dit sê nie dat hul spyt is oor hul werk nie. Hulle is nie spyt oor die diens, bydrae, inisiatief en kreatiwiteit wat hul gelewer het nie. Waaroor hul spyt is, is die wanbalans — die stadige, onsigbare oplos van jou lewe in jou werk.
Ons samelewing is obsessief oor ambisie en prestasie — we have become human doings en het vergeet, we are human beings. Ons BESIG onsself in die maalstroom van altyd soek na MEER uit vrees ons gaan uitmis.
Maak geen fout nie — werk is belangrik, om te voorsien is belangrik, maar om ʼn betekenisvolle lewe te hê, is belangriker.
Hoeveel mense leef in hul koppe? We overthink everything — jaag spoke op wat daar nie is nie en gaan haal bobbejane agter die berg oor goed wat nooit manifesteer nie?
Die somtotaal van ons emosies kan opgesom word met: Mad. Glad. Sad. Ons het nie ʼn idee wat of hoe ons voel nie. Van kleinsaf gehoor dat ʼn mens nie praat oor jou emosies nie en daarom het ons nooit geleer om te sê:
Hoe baie het ek dit al gehoor: “As ek net gesê het hoe ek VOEL…”
In ons malle gejaag, is vriendskappe die eerste ding wat in die slag bly. Dit is nie ons intensie nie, maar tussen werk, kinders, finansiële verpligtinge, en take in om die huis, is vriendskappe nie ʼn prioriteit nie. Ons dink: “Ek sal volgende week bel,” of daai goedkoop belofte: “Ons moet bymekaar uitkom.”
Vriendskappe is nie ʼn as-ek-tyd-het nie, dit is voedsel vir die siel. Bronnie Ware het gesien dat mense onthou tyd met vriende meer as promosies, etes met geliefdes om ʼn tafel van genoeglikheid meer as prestasies.
Ons dink, om gelukkig te wees hang af van omstandighede. Ons wag dat dit met ons gebeur — as ek suksesvol is, as ek afgetree het, op daardie droom vakansie gaan, my kinders uit die huis is, DÁN sal ek gelukkig wees.
In jou laaste dae sal jy besef dat VREUGDE het nie jou permissie nodig gehad nie. Die vervoering en verwondering oor die buitengewone in die gewonigheid van elke dag was meer as genoeg om met dankbaarheid net… wel, HAPPY te wees.
“Many did not realise until the end that happiness is a choice.” — Bronnie Ware
Miskien beteken dit in ander woorde: om meer TEVREDE te kon wees sodat ʼn diep vreugde van binne kon oorloop. Nie omdat als perfek is nie, maar omdat ons teenwoordig is, en wat waarde toevoeg in ons rugsak pak vir ons lewensreis.
In die wysheid van jou laaste asem, sal die enigste vraag wees: Het ek werklik geleef? Het ek liefgehad? Het ek opgelet hoe mooi die wêreld regtig is?
Miskien lê die antwoord nie in ʼn ‘eendag’ nie — dalk begin dit vandag met ʼn sagte, maar duidelike: Jy is nog hier. Jy hét nog asem. Jy kán nog kies. Leef terwyl jy lewe.
“If not now, when?
If not here, where?
If not me, who?"
Soos altyd.

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
