Potgooi:
“It is through the lens of the ego that we interact with the world, but it is with the guidance of the essence (of the soul) that we navigate it with grace and purpose.”
― Kevin L. Michel —
Lydenstyd is die heiligste tyd op ons Christenkalender. Tog, soos ek laas week gesê het, sal baie van ons vir ʼn oomblik oor die betekenis van Paasfees ‘DINK’ maar meer uitsien na die langnaweek as na innerlike transformasie.
Om oor die invloed van Paasfees te besin, moet ʼn mens net eers vir ʼn oomblik nadink oor die essensie van ons menswees.
Wat bedoel ek met ‘ESSENSIE’?
Essensie is jou WARE SELF — die kern van wie jy is voor die wêreld jou begin inkleur het. Die meeste mense weet intuïtief dat daar ’n verskil is tussen wie hulle voorgee om te wees en wie hulle werklik is.
Ons almal dra ons maskers. Ons leer vroeg om rolle te speel. Ons steek ons wonde weg — ons seer, mislukkings, teleurstellings — omdat ons bang is dit maak ons onaanvaarbaar. Ons probeer voldoen aan ander se vereistes, en stadig maar seker raak ons vervreemd van onsself tot ons later glad nie meer weet wie ons is nie want ons ganse lewe is ʼn spieël van ander se verwagtinge.
Paasfees is die simboliese én geestelike dood van die Vals Self — die ego wat teer op vrees en verdeeldheid — en die opstanding van die Ware Self in Christus.
Ons kan ook praat van jou WARE IDENTITEIT. Dit is nie identiteit soos ons kultuur dit definieer nie maar wie jy is in God.
Van kleins af word identiteit nie gekies nie maar oorgedra. Nog voor ons kan praat, word ons die refleksie van ander se identiteit.
Maar as liefde voorwaardelik is, as aanvaarding gekoppel word aan prestasie, gehoorsaamheid, en konformiteit, dan kweek dit ʼn Vals Self — ʼn weergawe van jouself wat enige iets sal doen om net te oorleef selfs al verloor jy jou Self.
Helaas leef ons in ʼn samelewing wat vir jou sal sê wie jy is. Ons word geleer dat materiële sukses ons waarde bepaal; dat geslag en status ons invloed definieer; dat spiritualiteit beteken om seker te wees en nooit te twyfel nie.
Godsdiens strukture sal vir jou sê wat jy moet glo. As jy van kindsbeen af hoor jy is in sonde ontvang en gebore, inherent verlore, en moet in skaamte leef, vorm dit ons Godsbeeld en die bril waarmee ons na die wêreld kyk.
Maar wat as die essensie van jou menswees berus op die feit dat jy geskape is as Beeld en Gelykenis van God (Gen 1:26), dat jy die Asem van God asem (Gen 2:7) en dat ons geliefde seuns en dogters van God is in wie Hy 'n welbehae het (Markus 1:11)? Dit verander tog ons hele perspektief op wie ons werklik is!
Daarom is dit nie vreemd dat soveel mense sukkel met identiteit nie, want ons word kronies verkeerd gediagnoseer deur ʼn samelewing wat wil dikteer wie jy is en moet wees. Hoe op dees aarde moet ons dan weet wat is ons lewensdoel (purpose) en hoe om ʼn lewe van vervulling te leef?
Om die kern van jou menswees te vind moet ons ʼn 30 cm skuif maak van kop na hart — van ego-denke na siel-denke — van skuld na vergiffenis, van vrees na liefde.
“To align the ego with the essence, one must first recognize their distinct voices. The ego, often loud and insistent, speaks in tones of desire and doubt, pride and prejudice, shaped by the external world and its ceaseless demands. The essence, on the other hand, whispers in the language of intuition and inner truth, a language as old as the universe itself, resonating with the frequencies of love, compassion, and authenticity.” ― Kevin L. Michel
Om by die hart van jou menswees uit te kom, moet jy die EGO tem. ʼn Mens kan nie meer fladder tussen aksies en reaksies nie. Êrens moet ons voete die grond raak en jy jouself vra: wie is ek wat my aksies bepaal, en wie is ek in daai split-sekonde voor ek reageer?
Nog meer belangrik — uit watter gedeelte van my menswees vloei my integriteit, eerlikheid, en betroubaarheid?
Vandag weet ek dat my beperkinge is nie tekortkominge nie, en maak my nie ʼn mislukking nie. Om elke dag, elke oomblik te onthou dat ons beeld en asem van God is, is om die fokus te draai na ʼn geïntegreerde lewe.
God staan nie buite ons ervaringswêreld nie. God is nie ʼn aktiwiteit wat jy beoefen in ʼn kapel of so nou en dan in gebed nie. As ons dink ons kan God by die huis los as jy werk toe ry, of êrens weer gaan soek as ons verdwaal, is om gefragmenteerd te leef en so die essensie van ons menswees te ontken.
God is in jou werksetiek, jou besigheidsbesluite, jou interaksie met mense. God is in ons vreugde en verdriet, ons suksesse en terugslae, ons kniel en ons dans.
Paasfees is die uitnodiging om jou weer te belyn met hierdie Heilige Waarheid.
Voor jy enige besluit maak, voor jy enige iets bereik, voor jy jouself moet verdedig of regverdig, is daar ʼn Stem. Nie die stem van skaamte of van vrees nie, maar ʼn dieper Stem wat sê, “Jy is geliefd. Jy maak saak.”
Altyd

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
