ESSENSIE – Begin by die BEGIN

Potgooi:

 

“The unexamined life is not worth living.”
― Socrates ―

Dit is die Heiligste maand op ons Christen-kalender. Die seisoen van self-refleksie en introspeksie wat ons vat na Paasfees. In die Katolieke, Ortodokse, en Anglikaanse tradisie is daar veel meer toewyding en dissipline as dit kom by Lydingstyd. Baie van ons sal vir ʼn oomblik oor die betekenis ‘DINK’ maar sien meer uit na die langnaweek as na innerlike transformasie.

Mag ek jou nooi om saam met my hierdie maand te reis na ʼn soeke wat die ESSENSIE van Paasfees is, en daarmee saam die WESE van ons geloof as Christene.

Om by die KERN van Paasfees se betekenis uit te kom, moet ons net eers vir ʼn oomblik stilstaan by die ESSENSIE van ons menswees.

“Knowing yourself is the beginning of all wisdom.”
— Aristotle

As ek praat van ‘essensie’ dan is dit nie iets abstraks, filosofies, of deel van die mistiek nie. Waarna ek verwys, is iets konkreets, meer eerlik en eenvoudig.

‘Essensie’ is wie ons is as die geraas om ons stil word. Ons vat dit saam na ons gesin, werk, en vriendekring, maar dit is nie jou werk, suksesse of mislukkings nie. Dit is nie jou trauma nie, al sou dit ʼn invloed hê in wie jy vandag is. Dit is nie jou karakter, wat meestal aangeleer is, of jou godsdienstige strukture nie.

‘Essensie’ is wat onder dit alles lê, en wat die hoekstene vorm waarop jy jou lewe bou. Die meeste van ons leef op die oppervlakte van onsself. Daar waar ons die hele tyd rolle speel — as 'n ouer, werker, versorger, eggenoot, en broodwinner.

Hierdie rolle is REAL en vra oomblik tot oomblik sekere aanpassings, maar dit is nie die hele storie van wie jy is as mens nie. Die meeste hiervan is reaksies op dit wat elke dag met ons gebeur — ESSENSIE is wie jy is vóór enige reaksie.

Stel jou voor jy staan op die rand van ʼn meer. Wie ons dink ons is, is meestal op die oppervlakte van die water. Konstant besig om te beweeg, altyd besig om die son of maan, wolke en berge te reflekteer.

‘Essensie’ is wat onder die oppervlakte gebeur. Die diepte wat nie ontsteld raak as die wind ruk en pluk nie. Dit val nie uitmekaar as ʼn storm verby beweeg nie. Dit is wat dit IS — en dít is wat ek bedoel met ESSENSIE.

Hoekom is dit belangrik om vir oomblik hierby stil te staan voor ons kyk na die invloed van Lydenstyd op ons menswees?

Ons leef in ʼn tyd waar ons identiteit grotendeels gevorm word deur reaksies. Ons reageer op politiek, sosiale media, groepsdruk, en familieverwagtinge. Ons is meesters van reaksies.

Die oomblik as iemand vra: WIE IS JY onder al die omhangsels, maskers, rolle, en voorgee, dan slaan ons stom. So, hoe keer ons terug en heroriënteer ons onsself sonder om te reageer?

Miskien kan ʼn mens op ʼn sagte, meer liefdevolle manier jouself vra:

  • Wie is ek as ek nie so bang is vir alles en almal nie?
  • Wie is ek as ek nie myself moet verdedig nie?
  • Wie is ek as ek nie so hard moet probeer om ander te beïndruk nie?

Ons is totaal onbewus van hoe hierdie verdedigingsmeganismes lank gelede in ons vasgelê is deur ʼn ouerhuis, opvoeding, kerk, en sosiale kringe. As ons emosies dan net reaksies is, het ons tog sekerlik die oordeelsvermoë om anders te reageer?

Almaas (Hameed Ali) het baie navorsing gedoen en geskryf oor wat die ‘ESSENSIE’ van ons menswees is vanuit die spirituele psigoterapie.

“Essence is not something we create. It is something we uncover — think of a sculptor who sees a form within a block of marble. The sculpture is not invented; it is revealed by removing what does not belong. In many ways, life is chiselling. Experiences, losses, disappointments — they remove illusions. If we cooperate with that process instead of resisting it, we begin to glimpse what is indestructible within us.”
 Almaas

Met ander woorde — daar is ‘IETS’ in almal van ons wat standvastig en vasberade bly. Onder al ons suksesse en teleurstellings, ons gesondheid en siekte, ons jeug en oud word, ons lof en kritiek, is daardie ‘IETS’ nie broos en swak nie, en word nie bepaal deur ons omstandighede nie.

Vir Paasfees om werklik sin te maak, moet ons begin by die BEGIN —

Hoe oud was jy toe jy die eerste keer gehoor het dat Genesis 1 en Genesis 2 is twee verskillende skeppingsverhale wat geskryf is ± 400 jaar uit mekaar deur verskillende outeurs met sterk kontradiksies tussen mekaar?

Genesis 2 was eerste (1000-900BCE) en geskryf deur die Yahwist Tradisie wat die Godsnaam YHWH (Adonai) gebruik. Die Aarde was eerste en toe die man, gevolg deur plante en diere, en laastens die vrou. Die mens is gemaak uit grond en God blaas sy asem in die mens.

“Toe het die Here God die mens gevorm uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas.” — Genesis 2:7

Genesis 1 (587-539BCE) is geskryf tydens of net na die Ballingskap deur die Priester Tradisie en gebruik die Godsnaam ELHOHIM. Lig was eerste en toe lug, toe land en planteryk gevolg deur son, maan en sterre. Visse en voëls daarna, en toe diere op land, gevolg deur die mens (man en vrou) gelyktydig.

 “Laat Ons mense maak na Ons beeld, na Ons gelykenis…” — Genesis 1:26

Genesis 2 is storievertelling en lê klem op 'n aardse intieme verhouding met God. Genesis 1 is 'n geloofsbelydenis wat klem lê op die kosmiese teenwoordigheid van God.

As Christene sou ons kon sê dat ons ESSENSIE is gewortel in die Imago Dei (Beeld van God). Nie morele superioriteit nie, maar ʼn refleksie van God self. Ons kapasiteit om lief te hê, medelye te toon, bewustelik te leef, en as mens ons lewensdoel te laat vloei as geskapenes in die beeld en asem van God.

Nou vra ek weer:

  • As alles wat jy doen wegval — jou rolle, titels, prestasies — en jy niks het om te bewys nie, wat bly oor en wie is jy?
  • Wat in jou het konstant gebly deur elke seisoen van jou lewe?
  • Watter gedeelte in jou voel die meeste REAL — en kan nie uitgevee word deur mislukking, verwerping en verlies nie?

Pas nadat ons hierdie vrae vir onsself geantwoord het, sal die LIG van Paasfees deurbreek in ons lewe en niks sal ooit weer dieselfde wees nie!

Doen dit, doen dit met liefde.

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“I saw the angel in the marble and carved until I set him free.”
― Michelangelo 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights