Drempels — en die Tussen-In-Tyd II

Potgooi:

 

“It is in losing ourselves that we find ourselves.”
— Francis of Assisi —

Ons gesels hierdie maand oor DREMPELS — daardie tussen-in-tye waar ons van daar na hier, van buite na binne, van toe na nou kom.

Elke oomblik van die dag stap ons oor fisiese drempels, maar wat van daardie emosionele drempels wat aan die binnekant lê?

Waar ons vandaan kom — ouerhuis, skool, godsdiens — bepaal hoe ons reageer as ons by drempels kom, en ook nie bewus is hoe ons bagasie (wat ons verwar met verantwoordelikhede) ʼn invloed het op die keuses wat ons maak nie.

Ons dra swaar aan ons skuldgevoelens en vrees, ons spyt en verwyt. Ons dink, hoe swaarder die tasse is, hoe meer bewys is dit hoe sterk en goed ons is, en besef nie eers hoe baie bokse gepak is met goed wat ons nie wil LET GO nie.

ʼn Ander aspek van ons innerlike bagasie is hoe ons ons wonde en kwesbaarheid ontken en wegsteek. Die rolle wat ons speel sodat die EGO se illusie van ‘separation and control’ tog net in plek kan bly. Ons teater van voorgee sonder om ooit eerlik met onsself te wees. Die maskers wat ons dra om weg te kruip vir onsself, ons medemens, en vir God.

Die tragedie is dat ons later hierdie innerlike bagasie verwar met identiteit. Waardeur ons is, wat met ons gebeur het, sê niks van wie ons IS as mens nie. Ons IS nie ons seer en swaar, ons teëspoed en teleurstellings nie — ons is liefde, vreugde, vrede, en soveel meer.

Daarom herinner ek dikwels dat dit nie is wat met ons gebeur wat belangrik is nie, maar hoe ons daarop reageer. As ons klippe gooi, bly die water troebel, maar as ons leer om die klippe (bagasie) te verwyder, vloei die leivoor weer skoon.

“If you do not go within, you go without” — Neale Donald Walsch

Die geestelike drempels van ons lewe is elke Heilige Oomblik waar ons liefde kies bo vrees. Daardie klein wonderwerke waar ons die buitengewone in die gewonigheid van elke dag vind.

Dit stel ons in staat om hoop en vertroue oor ons drempels te dra wat gevestig is in die bewus wees van God se teenwoordigheid in ALLES wat ons is en doen. Dit moet tasbaar word in jou lewe — veral in konflik — om bewus te wees van God (hoe jy ook al God verstaan, of God ervaar).

Om vir ʼn oomblik bewus te word van die tussen-in-tyd beteken nie ons verlede word negeer nie. Ons gooi nie alles weg wat ons gebring het tot op hierdie punt nie, maar besef dat wat ons tot hier gebring het, is nie noodwendig goed om saam te neem nie. Ons maak sin van alles, sien dit in perspektief en vind weer ons waarde as MÉNS — en wat betekenis gee aan ons lewe.

Word lig sonder om leeg te loop.

Om lig te reis beteken nie jy het niks nodig, of voel niks nie. Die illusie van ‘NIKS’ is nie vryheid nie, maar ʼn slaaf van die EGO met géén konneksie nie. ‘LEEG’ lei tot oppervlakkigheid in al ons verhoudings, by name ons spiritualiteit. ‘Niks’ lei tot ‘leeg’ lei tot ‘KAAL’ waar ons skaamte (shame) ontbloot — en wie wil kaal deur die lewe reis?

Daardie skaamte maak dat ons alles en almal wil beheer, en wat is beheer anders as ontkenning van ons eie wonde en tekortkominge wat ons dan op ander projekteer. Dit is onvolhoubaar en tap ons selfwaarde en selfrespek.

God is nie beïndruk met hoe IN BEHEER jy is nie, maar of jy LIEFDE kies bo vrees, vrede bo konflik, versoening bo disconnect, vergiffenis bo verwyt.

Paulus praat oor die ‘verlies’ en ‘gewin’ in sy lewe wat daartoe lei dat ons ons lewensdoel en vervulling vind IN Christus.

“Wat ek vroeër as bate gesien het, reken ek nou as 'n verlies, omdat Christus vir my alles geword het.” — Filippense 3:7

Drempels voel dikwels of ons iets verloor sonder om te sien wat ons in die proses as wins en voordeel kry. Ons hou krampagtig vas aan ou patrone wat hulself oor en oor herhaal want ons dink om te laat gaan, gaan beteken ons verloor iets van onsself.

Vir Paulus is daardie drempel van transformasie juis die plek waar ons besef die lewe wat vroeër was, dra nie meer waarde nie. Die stofpad van die verlede het nog sy grond en modder onder ons skoene, maar nou trek ons dit uit om plek te maak vir iets nuuts.

Hy skryf ʼn brief terwyl hy in groot onsekerheid in ʼn tronk sit, en maak ʼn kolom waar hy items van links na regs skuif — status, herkoms, intellektuele sekerhede, godsdienstige rituele en oortuigings, word nou heroorweeg om plek maak vir wat dit beteken om IN Christus te leef… om te WEET hoe hoog en hoe diep die liefde van Christus strek, en omdat God se liefde onvoorwaardelik is, wie is ek om dit van jou te weerhou.

‘IN Christus’ beteken dat liefde nie met ʼn agenda (voorwaardes en verpligtinge) kom nie, maar dat daardie liefde in diens staan van my hede, en daarom deel is van my toekoms. Nou kan ʼn mens strikkies in jou geheue maak van al ons mooi herinneringe en daarmee ons hande en harte oopmaak vir ʼn hele nuwe manier van na die lewe in die algemeen, en mý lewe spesifiek, kyk.

Ek het al dikwels in my lewe gesien dat waar dit lyk of goed uitmekaar val, is alles juis besig om in plek te val — en wat my hier gekry het, gaan my nie noodwendig dáár kry nie. Ek MÓÉT my ego by hierdie drempel neersit.

Wat as die drempel waarvoor jy nou staan nie ’n einde is nie, maar ’n uitnodiging? Wat as die goed waaraan jy so swaar dra, nooit bedoel was om in te pak nie?

Miskien wag daar aan die ander kant ’n ontmoeting met die Een wat jou naam ken sonder jou maskers, sonder jou prestasies, sonder jou verlede se etikette. Miskien is die asem wat jy ophou presies die asem wat Hy in jou wil terug blaas.

En dalk, net miskien, ontdek jy dat wat jy gevrees het om te verloor, die einste ding is wat jou verhinder om weer betekenis en waarde te vind.

Kom staan Sondag saam op die drumpel. Kom kyk wat gebeur wanneer ons nie terugdraai nie, maar instap!

Met liefde

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“To gain that which is worth having, it may be necessary to lose everything else.”
― Bernadette Devlin 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights