Geskenke vir 2026 - Keuses vir Verandering IV

Potgooi:

 

“The quality of our relationships determines the quality of our lives.”
— Esther Perel —

Dit is die laaste keer wat ek uit Tamboerskloof skryf. Vir 26 jaar was hierdie huis ʼn veilige hawe. Daar was gelag en gehuil, gedans en getreur. Oor meer as twee dekades het letterlik honderde mense op my bank gesit vir raad en advies hoe om sin te maak van dié lewe. Die uitsig oor die stad en Tafelberg het keer op keer insig gebring. Voorwaar, ek los ʼn stukkie van my siel in die grond en wortels van hierdie stukkie aarde.

Soos ek terugdink aan die laaste 26 jaar besef ek hoe hierdie huis inhoud en betekenis gegee het in my lewe, en as ‘SIMPLISITEIT’ die woord, die mantra, die ritme van 2026 is, wil ek ons tema vir die maand afsluit deur vir ʼn oomblik te besin oor die SEWE basiese verhoudings waarin ons as mens staan —

Verhouding met Myself

Die meeste mense weet nie WAT hul wil hê, HOE hul dit wil hê, en WANNEER hul dit wil hê nie omdat ons die verhouding wat die belangrikste is, verwaarloos: ons is nie regtig lief vir onsself nie en is geweldig krities op onsself. Ons is nie sagmoedig of geduldig met onsself nie en wil altyd meer, en nog hê.

Simplisiteit nooi ons om tot rus te kom en lank genoeg stil te staan sodat ons onsself die ongemaklike vraag kan vra: Wie is ek sonder al die lawaai om my?

Simplisiteit begin deur die waarheid van myself, VIR myself te kan sê, met eerlikheid oor my beperkinge, behoeftes, wonde, vrese, en hartsverlange.

Wat ons noem, ‘kompleksiteit’ is eintlik net camouflage. Ons bly besig om ons wonde te vermy. Ons gee voor om ander te beïndruk, en is ontrou aan onsself.

Simplisiteit vat daardie maskers weg en bring ons saggies, met deernis, weer tuis vir ons Self — waar ons onsself volkome aanvaar en sien soos God ons sien.

“Talk to yourself like someone you love.” — Brené Brown

Verhouding met my Medemens

Ons maak hierdie verhouding meer gekompliseerd as wat dit nodig is — nie omdat mense moeilik is nie, maar omdat ons soveel verwagtinge na die tafel bring.

Ons verwag ander moet ons emosionele behoeftes bevredig, ons identiteit bevestig, ons insecurities balsem, en ons gebrokenheid omsoom.

Simplisiteit roep ons terug na die eeueoue waarheid: jy moet jou naaste liefhê soos jouself, en doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.

Hierdie verhouding is nie ʼn transaksie vir wat jy daaruit kan kry, om iets te bewys, of om jou vals-sekuriteit tot berusting te bring nie. Dit is om te gee en om te gee, te sien en gesien te word, om te luister en gehoor te word.

Om ons ewemens te kategoriseer as wie “in” en wie “buite” is, wie veilig en wie ʼn risiko is, wie ons liefde verdien en wie nie, is vermoeiend en dreineer die siel.

Simplisiteit is die deur na onvoorwaardelike aanvaarding en die spieël waarin die liefde van God sigbaar word vir elkeen wat ons pad kruis.

Ek het laas Vrydag die voorreg gehad om die Gedenkdiens van ʼn jongman te lei waar die roerende eulogie van sy Peetpa my sal bybly heel my lewe lank —

“If we want to honour him — truly honour him — we do it by slowing down, listening more carefully… making room for tenderness and choosing gentleness.”

Verhouding met my Man/Vrou

Intieme verhoudings is heilig en verdien om met eerbied hanteer te word. Geen ander verhouding het ʼn groter invloed op ons nie want hier is ons nakend teenoor mekaar en kan ons niks wegsteek nie. Hier woon ons liefde én ons vrees, langs mekaar. Hier loop my liefde oor om die beste en mooiste in mekaar uit te bring.

Dit bring ons diepste verlange na vore en vat ons na die kruin van wilde ekstase wat ons vul van ons kroontjie tot ons toontjie. Hier leer ons om getrou te bly en daarom vertrou kan word. In hierdie verhouding leer ons om ons ritme te deel — rituele van rus en saam eet, oop gesprekke en gedeelde vreugdes.

Simplisiteit stroop die behoefte om te wil beïndruk of die hele tyd jou sin te moet kry, en maak ons bewus en teenwoordig om met entoesiasme belang te stel in die ander persoon se menswees.

Verhouding met die Kultuur

Ons agtergrond — opvoeding, skool, kerk, familie- en vriendekring, dra alles by tot ons kulturele milieu. Dit sê waar ons vandaan kom en wat sedert kinderdae die fondasie van ons persoonlikheid en karakter gevorm het.

Ek het lank genoeg tyd in Europa spandeer om te sien hoe dramaties kulture kan verskil deur net oor die grens van Holland na Duitsland na Frankryk te ry.

Dit lê só diep in ons geënt dat ons nie eers bewus daarvan is nie en wat ons absoluut vanselfsprekend aanvaar in ʼn Afrikaner kultuur is aardsvreemd vir iemand in die Zulu kultuur, wat nog te sê in ʼn Japannese kultuur.

Daarvoor het ek diep respek.

Ons bou maklik mure om óns kultuur. Simplisiteit wys ons wat regtig belangrik (essensieel) is aan ons menswees. Kultuur fokus op ons individualiteit binne ons ‘groep’, simplisiteit identifiseer ons gebruike en gewoontes wat ander se menswaardigheid sal omarm.

Daarbenewens is ons ook kinders van ʼn Westerse wêreld wat ʼn verwronge verbruikers-kultuur voorhou as die norm. Alles pendel om sukses, prestasie, ambisie, en wat daar in is vir mý, terwyl simplisiteit klem lê op ons kernwaardes.

Simplisiteit vra: wie trek voordeel uit my emosionele uitbranding, en wat baat 'n vol beursie as jou siel moeg en oorlaai is? Simplisiteit sê: behou jou waarde as méns.

Verhouding met die Struktuur

Ekonomiese, politieke, en religieuse strukture het ʼn enorme invloed op ons lewe. Simplisiteit ignoreer dit nie en sien dit in perspektief terwyl dit vra: in wie se diens staan dit, wie is die begunstigdes?

Simplisiteit help om te kan onderskei tussen institusie en intensie, tussen wat geskep is om ʼn bydrae te maak tot ander se lewe, óf wat net na homself kyk ten koste van ander.

Ons verhouding met die strukture om ons sê iets van ons sosiale geregtigheid en of ons aktief seker maak dat daar regverdig opgetree word teenoor almal.

Dis maklik om mismoedig en sinies te raak as daar oral korrupsie is, en hulle wat veronderstel is om seker te maak daar word verantwoordelik gevat, is self moreel bankrot.

Simplisiteit is nie blind vir hierdie werklikheid nie, en wys ons hoe om ʼn stem te gee aan hulle wat nie gehoor word nie. Simplisiteit emansipeer ons van mag en leer dat strukture altyd in diens moet staan van hulle in nood.

Verhouding met die Natuur

Ek oordryf nie as ek sê, al wat oorgebly het van hierdie verhouding is uitbuiting en misbruik. Soos ʼn virus het die mens oor hierdie planeet versprei wat als wat voorkom verpletter onder korporatiewe gierigheid. Ons is besig om die planeet te versmoor met klimaatsverandering en maak nie saak hoe ons smeek, soebat, en pleit nie, die hebsug van profyt gee nie ʼn hel om nie.

Dié planeet is al wat ons het. This is home! Dit verdien ons diepste waardering en toewyding vir alles wat sy ons gee. Daar behoort geen toleransie te wees teenoor hulle wat Moeder Aarde plunder nie en nog minder teenoor hulle wat mekaar dreig met kernwapens.

Simplisiteit roep ons op om te herbesin, om met dankbaarheid ons te vat na ʼn plek waar ons onsself nie die reg toeëien om net te vat en breek sonder om met dodelike erns verantwoordelikheid te neem vir ons planeet — ter wille van ons kinders en die geslagte na hulle.

Simplisiteit herstel ons eerbied — our reverence — vir die natuur waarvan ons ʼn integrale deel is. Simplisiteit luister na die seisoene en omarm elkeen se invloed op ons lewe. Dit koester die gewone oomblikke waar ons die son sien opkom of sak. Simplisiteit help ons onthou dat ons liefde vir die natuur, is liefde vir God.

God is nie êrens anders nie, God is onder ons voete en in die suurstof wat ons asem. Simplisiteit maak ons sensitief bewus om ons deel te doen vir ons Aarde.

Verhouding met God

Simplisiteit is ten diepste ʼn spirituele waarde. Dit weet dat ons God vind in die fluistering van die aandwind. Dat ons diepste insigte kom in ons Stiltetyd.

Dit ervaar God in die eenvoud van ʼn opregte gebed, in elke gebaar van vergiffenis, en die hand wat vol medelye uitreik na hulle wat hulp nodig het.

Dit gaan nie oor godsdienstigheid of watter kerk gaan hemel toe nie. Dit gaan beslis nie oor al ons wette wat ons geskuif het tussen mens en God nie asof God se liefde met voorwaardes en verpligtinge kom.

Simplisiteit ontmoet God waar ons is, net soos ons is, en omdat ons werklik net weet wat beteken genade (grace) as ons onsself stroop van die illusies dat ons verwyder is van God.

Ek weet eerlik nie hoe enige van die ander verhoudings gaan uitwerk as ons verhouding met God so afskeep-oomblik is waar alles anders belangriker is, en ons net tyd maak as alles flenters om ons is, en vrees die laaste bietjie liefde uit ons wurg nie.

Kom ons begin met hierdie verhouding en weef dit dan deur die tapisserie van al die ander verhoudings sodat dit die verhouding met myself diepte en betekenis sal gee.

Dan sal 2026 regtig, soos in regtig, ʼn goeie en geseënde jaar wees.

Want ... “The quality of our relationships determines the quality of our lives.”

Met liefde

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Every problem we have is because of a broken relationship, and every solution reflects a healed relationship.”
― Chuck Spezzano. 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights