Potgooi:
“Life is not measured by the number of breaths we take, but by the moments that take our breath away.”
— Maya Angelou —
Soos laas week genoem, is my woord (mantra) vir die jaar: Simplisiteit. Ek gaan my beste doen om ligter te dra, meer eenvoudig en minder gekompliseerd te leef.
Ons het Sondag in ons gesprek verwys na die EEN ding wat maak dat ons ons vrede en vreugde verloor, en dit is om alles te oor-dink (over-thinking).
Gestel jou kop het ʼn sekere hoeveelheid laaie en in die een laai is al die take wat jy moet verrig — opruim, kos koop en maak, afsprake, reëlings, verpligtinge. Die ander laai is vol van wat ander mense dink — hulle aannames, persepsies, afkeure, en vooroordele. Nog ʼn laai is vol vrese oor die toekoms, en foute van die verlede wat oor en oor in ons kop afspeel.
Dan is daar ʼn laai wat gepak is met alles wat moontlik verkeerd mag gaan — bobbejane wat ons agter die berg loop haal. Ons het selfs ’n laai vir alles wat ons wil beheer, asof beheer en verantwoordelikheid dieselfde ding is.
En voor ons dit besef, is elke laai vol en is daar géén laai oor vir liefde, vreugde, en vrede nie. Daar is geen plek vir jou verhouding met God, geen plek om te fokus op dit wat regtig belangrik is en wat waarde toevoeg tot jou lewe nie.
Simplisiteit is minder verpligtinge en meer oop vir wat waarde toevoeg tot jou lewe; minder verwagtinge en meer aanvaarding; minder vooroordele en meer begrip en verstaan; minder versugtinge en meer dankbaarheid; minder twyfel en meer wysheid.
Dit bring my by hierdie week se DRIE geskenke om met meer simplisiteit te leef:
Die LEWE gebeur hier en nou. Dit lê nie in die verlede of toekoms nie, maar in elke klein oomblik. Selfs hier waar jy lees en in die spasies tussen die woorde.
Ons dink ons geestelike lewe bestaan uit bid en Bybel lees, eenkeer ʼn week kerk toe te gaan — en besef nie dat om aandagtig, bewustelik, en oplettend te leef, is ten diepste spirituele waardes nie.
Ons glo dat God teenwoordig is in ons lewe, maar dink selde aan wat is jóú teenwoordigheid vir God en die mense die naaste aan jou?
“Where your attention goes, your energy flows.” — Leo Buscaglia
Daar is soveel dinge wat ons aandag verdeel. Ons is omring met afleidings wat ons lewe splinter in ʼn duisend fragmente. Ons kan fisies op ʼn plek wees, maar ons gedagtes is op skerms, planne, en móét-doene. Ons is altyd op pad êrens heen, maar kom nooit daar aan nie want elke afdraaipaadjie word gevat.
Maar om ten volle teenwoordig te wees, is heilige grond. So word die gewonigheid van elke dag buitengewoon, en met ontsag hanteer.
Om ten volle teenwoordig te wees, gaan nie oor hoeveel tyd jy saam iemand spandeer nie, maar die kwaliteit van jou aandag, belangstelling, en entoesiasme.
Ons praat baie oor ‘kindness’ en wat ons bedoel, is die welwillendheid om goed te doen aan ander; ander met menswaardigheid te behandel, sagmoedig en vriendelik te wees — wat alles sinonieme is van die begrip: genade.
“Kindness is grace in action.” — ACIM
Hoe dikwels het ek dit al gesien hoe ʼn enkele gebaar van ‘kindness’ iemand se hele dag kan verander, en het dit self ervaar hoe mense se goedheid en omgee teenoor mý, my lewe verander het.
Dit is so belangrik in ons familie, gesin, en huwelik om ALTYD te kies om liefdevol teenoor mekaar te wees — veral waar ons gewoond is aan mekaar en mekaar dan vanselfsprekendheid aanvaar, of stilbly as ons met meer deernis en medemenslikheid kon optree.
Alle verhoudings skuur mekaar soms. Daar is tye van misverstand en konflik en ons liefdevolle reaksies vat nie die meningsverskille weg nie, maar help beslis om dit beter te navigeer.
Daarom herinner ek paartjies wie se huwelik in dryfsand beland het, ‘Van alles wat jy in die lewe kan wees, BE KIND!’
Nog ʼn woord wat gereeld opkom in ons gesprekke is, ‘commitment’ wat ons verbintenis en toewyding insluit maar ook iets sê oor ons getrouheid en lojaliteit. Dit is ʼn “JA!” met oorgawe wat dieper is as net instemming. Dit sê, “I am all in” — nie net solank dit maklik en gerieflik is nie, maar ook as storms en terugslae kom.
Dit is nou meer eenmaal ons tweede natuur om die pad van die minste weerstand te volg, en wil allerlei waarborge hê voor ons ons liefde en sorg met ander deel.
Ek onthou hoe my pa en ma eenkeer by my kom bly het vir ʼn week toe hulle gesien het hul kind trek swaar. My ma het tipies soos sy was, gesorg dat daar iets te eet is en verder my huis reg- en weggepak dat ek nou nog soek na goed.
Een aand het my pa in sy gebed gevra, “Help my kind, o Heer, om hierdie kruis te dra.” Toe hy “Amen” sê het ek hom gevra wat hy met “kruis dra” bedoel. Sy liefdevolle antwoord sal my bybly heel my lewe lank toe hy sê: “Om getrou te bly aan wie jy geroep is om te wees.” — DÍT is wat ‘commitment’ beteken.
“Commitment is the bridge between intention and reality. The quality of your life is shaped by the commitments you keep.” — Tony Robbins
So, die simplisiteit waarna ek hunker, lê in:
Doen dit, doen dit altyd met liefde.

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
