
Potgooi:
“Your life does not get better by chance; it gets better by change.”
— Jim Rohn —
Elke nuwe jaar kom met opgewondenheid en entoesiasme. Januarie dra ons mooiste drome en wense, ons beste intensies en aspirasies in haar buik.
Ons staan met die sleutel van potensiaal in die hand om ʼn nuwe begin te ontsluit. Ons het almal ons eie verwagtinge van hierdie jaar. Niemand wil dieselfde same-old-same patrone van die vorige jaar, of dekade, herhaal nie. Ons wil dinge anders doen — meer vreugde, meer vrede, meer betekenis, meer vervulling.
Dalk is die grootste geskenk wat ons hierdie jaar kan ontvang nie ’n nuwe plan nie, maar ’n nuwe manier van kyk en sien, luister en hoor.
Soos ons op die drumpel van ʼn nuwe jaar staan, gaan ons gesels oor die GESKENKE wat ons saam vat vir ons reis deur hierdie jaar — nie die soort wat ons koop of verdien nie, maar die soort wat ons ontvang wanneer ons aandagtig leef —
“Gifts that shape the way we move through the year, one ordinary, sacred moment at a time.” — Paulo Coehlo
Elke nuwejaarsvoorneme kom met die ywer om iets te verbeter, iets te bereik, maar wat as 2026 se grootste skat nie prestasie is nie, maar wysheid; nie instruksies nie maar insig, nie reëls nie maar begrip, nie verwagtinge nie maar mooi herinneringe?
Elke jaar vat ek een woord wat my hoeksteen en mantra word vir die jaar. Laas jaar was dit, ‘abundance’ en hierdie jaar is dit: SIMPLICITY.
Soos ek die laaste maand my huis oppak en sekere goed laat gaan wat al dekades saam my kom, besef ek weer die waarde van simplisiteit. Wat te veel is, word ʼn las vir huise én harte. Simplisiteit is nie leegheid nie, dit is helderheid. Eenvoud beteken nie minder inhoud nie, maar meer duidelikheid.
Wat werklik saak maak, lê nie in hoeveel jy daarvan het nie, maar wat die stories en herinneringe daarvan is. Die emosionele en geestelike waarde van iets lê nie in goeters nie, maar in mense. Wat ons onthou, leef in verhoudings, nie in besittings nie.
Soos ek goed toedraai en in ʼn boks pak, vra ek myself: wat kan ek doen om die lewe ligter te maak?
Daar lê ʼn enorme vryheid in simplisiteit. Die lewe maak soveel meer sin as ons nie so swaar dra aan alles nie. Daarom pak ek in wat vreugde en vrede bring. Ek wil saam vat wat in die hart pas en nie in ʼn boks nie.
Dit sluit ook die rommel tussen ons ore in —
“Over-thinking is the mind trying to feel safe by staying busy.” — Eckhart Tolle
Wanneer daar nie vrede in jou hart is nie, loop die kop sirkels om jou siel terwyl die lewe by jou verbygaan.Om te weet wat die regte ding is om te doen, om die beter besluite te maak, kom nie met meer analisering nie, maar om ʼn pouse te maak dat die geraas in jou kop rustig kan raak. Dit kom met self-refleksie om die groter prentjie te sien.
Die eerste geskenk wat ek in my rugsak sit vir my reis in 2026 is om dinge eenvoudiger te maak, minder gekompliseerd, nie omdat die lewe altyd maklik is nie, maar om dinge meer te vereenvoudig.
Die meeste van ons dra swaar aan ons skuldgevoelens — alles wat ons MOES beter en anders doen. Daarmee saam kom die selfverwyt dat alles my skuld is.
Dink aan hoeveel hartseer die woorde, “could have, should have…” al in jou lewe gebring het en al wat dit doen, is om gevange te hou in gisters.
“We all must suffer one of two pains: the pain of change or the pain of regret.” — Jim Rohn
Niks wat verby is, kan verander word nie — behalwe hoe ek daarop reageer. As ek aanhou om ander te verwyt vir wat gebeur het, word ek bitter. As ek aanhou dink hoe alles KON gewees het, word ek onvergenoegd en is later nie meer dankbaar oor enige iets nie.Laat gaan daai gedagtes van spyt en selfverwyt en maak ʼn keuse om vandag (en elke dag) te sien as ʼn geleentheid om betekenisvol te leef, ongeag, desondanks, nieteenstaande als wat die laaste jaar gebeur het nie.
Vra jouself: wat dra ek steeds saam wat nie aan my behoort nie?
Die tweede geskenk wat ek inpak is om te laat gaan aan wat my vreugde steel.
Om vrede te kweek en te koester, is nie ʼn swakheid nie maar die gawe van onderskeid om te weet wat is regtig belangrik en wat dra waarde toe tot jou lewe.
Innerlike vrede is nie iets wat jy kry nie maar iets wat jy kies. Vrede is meer waardevol as om ʼn argument te moet wen, om jou punt te bewys, of om te reageer sonder om eers te probeer om te verstaan.Vrede is heilige grond, moet dit nie mors met sinlose argumente, en die eindelose geraas wat ʼn vinger wys na als en almal nie. Vrede vat verantwoordelikheid vir jou emosies (i.e. reaksies) en verdiep as die ego so bietjie eenkant toe staan.
Vrede bly uiteindelik ’n keuse — elke dag, soms elke uur.
“Peace is the simplicity of heart, the serenity of mind, the tranquillity of the soul.” — Padre Pio
Die derde geskenk wat ek inpak is om kalmte te kies eerder as om op hol te raak, gemoedsrus bo konfrontasie, vrede bo konflik. Vra jouself: wat steel stil-stil my vrede en waarom laat ek dit toe?
Kom ons kies om hierdie jaar meer eerlik met onsself te wees. Meer bewustelik en oplettend te leef. Voor ons enige beloftes oor die jaar maak, kom ons vra net eers onsself: wat vra hierdie nuwe jaar van my — nie om te doen nie, maar om te wéés, as méns?
Mag 2026 vir jou en jou geliefdes ʼn jaar wees van GENOEG — genoeg moed, genoeg vrede, genoeg genade, genoeg in alles wat werklik saak maak.
Soos altyd — met liefde

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“If we can all just be a little bit kinder, a little more graceful, and a lot more compassionate, that of itself will generate new beginnings.”
― Marianne Williamson ―
