BOEKE wat deur Terblanche aanbeveel word 

Kersfees — Die Woord het Vlees geword IV

Potgooi:

 

“The meaning of life is to find your gift. The purpose of life is to give it away.”
— Pablo Picasso 

So kom ons by ons laaste skrywe vir 2025. Ons het hierdie maand die vers uit Johannes 1:14 in ons rugsak gepak: “Die Woord het Vlees geword en in ons kom woon,” en met dit gereis na Bethlehem om geboorte te gee aan ʼn lewe waar God juis sigbaar word in ons proe, ruik, hoor, sien, en voel.

Ons het opgekyk en saam met die Magoi (Wyse Manne) ons ster gevind wat vir ons ʼn kompas word na ons Ware Noord. Ons het geleer om te kan onderskei watter ster om te volg en besef dat die ster wat ons gevolg het hierdie jaar, vra ons om te skitter in die jaar wat voorlê.

Dit is Kersfees! Ons draai geskenkies toe en gee dit vir mekaar met liefde. Elke geskenk dra iets van ons hart. Dit gaan nie oor hoe groot of hoe duur die persent is nie maar met watter intensie en gesindheid dit gegee word. Wat ons sê met ons geskenk is, ‘Jý maak saak. Jy is belangrik vir mý.’

Ons lees in Matteus 2:11 wat hierdie Sterrekenners doen as hulle by Jesus aankom —

“En hulle het hulle skatte oopgemaak en geskenke aan hom geoffer: goud en wierook en mirre.”

In die antieke wêreld het GOUD altyd meer gesê van wat jou waarde is, as hoe ryk jy is. Keisers en konings was in goud geklee, tempels was met goud beslaan, en ʼn koninkryk het haarself gemeet aan hoeveel goud sy besit.

As hulle vir Jesus goud gee dan sien hulle Hom as koning. Nie omdat Rome so sê of omdat Herodes dit goedkeur of omdat Hy ʼn troon en onderdane het nie, maar omdat God sê, ‘Hierdie lewe maak saak. Hierdie lewe het waarde.’

Dink hieroor — dit is nie omdat God iets te sê het oor die mensdom nie; dit is nie God wat uit die hemel neerkyk op ons vreugde en hartseer nie, maar ʼn God wat vel en asem, weerloosheid, honger, en sand tussen ons tone word.

“En die Woord het Vlees geword en in ons kom woon.”

Weet jy hoeveel goud as geskenk vir jou gegee is deur al die seëninge so milddadig om daarmee te sê wat JOU waarde is?

Baie van ons is gedaan na die jaar en ly aan een of ander vorm van burnout. Emosioneel voel ons dalk soos ʼn teleurstelling en twyfel ons of volgende jaar enigsins beter gaan wees.

Goud sê: jou lewe hou nie op om betekenis te hê net omdat daar teleurstellings is nie.

Goud sê: jy is nie minder werd net omdat jy moeg en oorlaai is nie.

Goud sê: ons compassion is heilig selfs in 'n wêreld vol wreedheid.

Goud sê: rus en stiltetyd is steeds heilig in 'n wêreld wat nie die verskil ken tussen ‘being busy’ and ‘being fulfilled’ nie.

Vir die Magoi was dit duidelik — Jesus is nie ʼn koning van mag nie maar as die aanvoelbare teenwoordigheid van God; nie van beheer en regeer nie, maar as die weg, waarheid, en lewe; nie met ʼn onderdane nie, maar as dienskneg.

Net omdat God se goud verniet is, beteken dit nie dit is goedkoop nie. Daarom is die vraag vir 2026 — sal jy hierdie geskenk van goud met ander deel deur hoe jy praat, hoe jy reageer, hoe jy jouself hanteer, en ander dien?

WIEROOK hoort by aanbidding. Dit is die geskenk wat jy gee vir ʼn priester. Wierook dra ons gebede na God, en word gevind in ʼn spasie van heiligheid. Dit word gebrand, om deel te hê aan die Groot Misterie, want wierook gaan gepaard met asem.

“Die Woord het Vlees geword” — en vlees asem.

Ons verhouding met God begin nie met geloof nie, maar met asem. Wierook is ʼn herinnering dat ons nie eers ge-"fix" moet word, eers die regte goed moet doen en glo voor God sy asem in ons asem nie. Wierook gee jou permissie om te sê: ‘Ek verstaan nie alles nie, maar ek is steeds hier. Ek asem die Asem van God.’

Die Magoi gee wierook omdat Jesus ook priester en rabbi was. Die een wat geleer het om jou naaste lief te hê soos jouself, en om aan ander te doen wat jy aan jouself gedoen wil hê.

Miskien was dit ʼn jaar van verlies, vrae met geen antwoorde nie, gebede wat gevoel het dit is onbeantwoord. Hier is jou geskenk van wierook — dit bring eerbied en verwondering, waarheid en wysheid.

Ook hierdie geskenk gee God sodat jou wierook sal brand by jou werk, in jou kombuis, in jou gesprekke en wonde, in die arms van jou beminde en elke soen van jou kind.

En dan is daar MIRRE — hierdie aromatiese bruin-rooi sap van ʼn boom het ʼn warm, aardse reuk, en is gebruik vir medisyne, om wonde skoon te maak, pyn te verlig, en om inflammasie te voorkom.

Markus vertel dat Jesus wyn en mirre aangebied is toe hy aan die kruis was.

Dit is ook gebruik om liggame voor te berei ná die dood om die ontbinding te vertraag. Johannes Evangelie sê dat Jesus se liggaam met mirre voorberei is ná sy dood.

Maar mirre is ook gebruik om konings en profete te salf. Het die Magoi geweet wat vir Jesus voorlê met sy dood? Was hy vir hulle ʼn ware profeet?

Die geskenk van mirre is om ons te salf met ʼn liefde wat getrou bly ongeag die omstandighede. Mirre sê, om regverdig te wees, kom soms met ʼn prys.

Wat God belowe met hierdie geskenk is om jou emosionele wonde te balsem en ʼn sensitiwiteit te kweek vir ons eie sterflikheid. Dat ons seer en eina nie ʼn straf is omdat ons geloof tekortskiet nie, maar dat dit deel is van die LEWE wat ons respekteer en nie vanselfsprekend moet aanvaar nie.

Christus, die Messias (wat beteken: Gesalfde) is die Woord wat Vlees geword het en in ons woon. Sy geskenk hierdie Kersfees is die goud wat sê wat is jou waarde, wierook om bewus te wees van God se teenwoordigheid, en mirre om te sê: jou lewe, in elke aspek daarvan, staan nie buite God nie.

Wat gaan jy doen met hierdie geskenke?

“Want,” sê Matteus 6:21, “waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Mag dit vir jou en jou geliefdes ʼn Geseënde Kersfees wees.

Soos altyd — met liefde

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“What you are is God's gift to you, what you become is your gift to God.”
― Hans Urs von Balthasar 

BOEKE wat deur Terblanche aanbeveel word 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-oarrow-circle-right
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights