Potgooi:
“When you change the way you look at things, the things you look at change.”
— Wayne Dyer —
Ons het Sondag net tot in die helfte van ons gesprek gekom oor wat dit beteken om met NUWE OË TE SIEN. Kom ons vat waaroor ons gesels het saam en dan maak ons die vensters en gordyne oop om weer in kleur te leef.
September is die begin van Lente. Die dae is langer en warmer. Oral om ons bars ‘NUWE LEWE’ oop. Saam met elke plant en dier skep ons weer asem na die Winter — ons pak weg en reg met optimisme en entoesiasme vir die nuwe seisoen wat voorlê.
Dit is die seisoen van wedergeboorte waar ons soos skoenlappers uit ons kokon breek en ons vlerke sprei.
Ons sit die hart se koue nagte en die storms in ons gemoed agter ons en staan op met die sekerheid dat ons is en het genoeg om weer te begin.
As ek vandag net een klein tree sou gee in die rigting van vernuwing, wat sal dit verander in hoe ek leef, liefhet, en daar is vir ander?
Vernuwing begin altyd met ʼn besluit. Jy kies om wat was agter te los, en die vrugte te dra wat by dié seisoen pas.
“Spring is an awakening of the senses. Winter narrows our focus to survival: warmth, shelter, and preserving resources. Spring calls us to lift our heads, breathe deeply, and be AWAKE and AWARE.”
— Maya De’Angelo
As die Lente kom, het ons die voorneme om meer gesond te leef. Gesonder kos, meer oefening, minder stres oor onbenullighede en om weer langs die see te gaan stap of op ʼn rots te sit met ʼn glasie borrels.
Waar (waarom) leef jy in 'n geut van roetine, en wat sal jy opoffer om die loopgraaf van woede en vrees te verander in 'n leivoor van liefde en aanvaarding?
Dit is die essensie waaroor ‘vergiffenis’ gaan. Eers moet ons verstaan, werklik verstaan waarom ek voel soos ek voel oor dit wat gebeur het, en dan kom aanvaarding (i.e. embrace) om te LET GO aan ons skuldgevoelens, vrese, en verwyte.
In ons verhoudings met ander, los ons die sinlose argumente, vergelykings, aannames, en onvervulde verwagtinge om weer blomme te plant van liefde, deernis, en medemenslikheid.
Wat kry ek daaruit om aan my woede en bitterheid vas te hou — gee dit vir my ’n gevoel van beskerming, identiteit, of ’n valse gevoel van beheer?
Lente bring lig, vars lug, en is die een seisoen waar ons God ruik, proe, hoor, sien, en voel.
Dit is die seisoen van lag saam, laf en lief saam, en los die gehakketak net omdat ek nie my sin kry nie.
As ek terugkyk na my lewe, hoeveel winters van die hart het dit gevat voor ek geleer het dat geen storm duur vir ewig nie, en hoe herken ek weer die genade (grace!) van God se oorvloedige goedheid wat ons herinner — na elke winter in ons lewe, kom die lente van vreugde en hoop (altyd) weer?
Ek hou so van die woord, lankmoedigheid — dit sê iets van ons innerlike krag om met verdraagsaamheid elke situasie met kalmte en nugterheid te hanteer.
Geduld lei na wysheid en met wysheid kom aanpasbaarheid, veerkragtigheid, en deursettingsvermoë.
“Seeds of love are planted through consistent kindness, forgiveness, and patience. They are not dramatic gestures but daily commitments.”
— Chuck Spezzano
Dis verstommend dat ons steeds ʼn boek wil oordeel volgens sy omslag, of dink ons ken die storie omdat ons een bladsy gelees het.
Ons kyk maar sien nie, luister maar hoor nie, want ons jaag en word opgejaag van die môre tot die aand. Ons is oral, maar nêrens. Ons wil alles doen, maar het geen lewensdoel. Ons word oorweldig deur al die keuses wat ons het, maar kan oor niks ʼn besluit neem nie. Ons grootste, dalk enigste motivering is om meer te wil hê.
Nie om meer te WEES nie, maar om meer te HÊ!
In ʼn wêreld van opinies en vooropgestelde idees is ons nie eers meer bewus hoe ons persepsies net projeksies is van ons eie gebrokenheid nie.
“Everything we hear is an opinion, not a fact. Everything we see is a perspective, not the whole truth.” — Marcus Aurelius
Onthou dit: konteks is belangrik, want konteks gee perspektief, en perspektief gee vir ons ʼn groter uitsig (wysheid) en uitsig gee ʼn dieper insig (waarheid).
Niks verander nie — ons staan op uit dieselfde bed, selfde klerekas, selfde kar, selfde pad werk toe, selfde bome, selfde mense met wie jy 'n huis en werk deel — en tog skuif en lyk alles anders omdat ons met nuwe oë daarna kyk.
Wat sal jy doen as ek vir jou sê dat die Lente kom met 'n Geestelike GPS — Geduld, Perspektief, Simplisiteit, wat maak dat ons weer die lewe in kleur kan sien?
Soos altyd
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.