Potgooi:
“Jesus is not truth as in a system of ideas; he is truth as in a way of LOVE.”
— Diana Butler Bass —
Soos belowe in die begin van ons tema ‘DIE LEWE IS ‘N REIS’ staan ons vandag stil by Johannes 14:6 wat Christene lief is om aan te haal sonder om die konteks daarvan te ken of te verstaan, en dit feitlik altyd interpreteer as eksklusief — met ander woorde, as jy nie ʼn Christen is nie, gaan jy 'hel' toe.
Hier is ʼn kort samevatting van wat in Johannes 14 staan —
2“In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei.
4Julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” 5Thomas sê vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” 6Jesus sê vir hom: “Ek is die WEG en die WAARHEID en die LEWE; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle ook my Vader ken; en van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.”
10Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?
12Wie in My glo, hy sal ook die werke doen wat Ek doen, en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader gaan.
16En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Helper gee, sodat Hy vir altyd by julle kan wees. 17Hy is die Gees van die Waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
Johannes Evangelie is geskryf tussen 65 en 70 jaar ná die dood van Jesus, en geskryf teen die agtergrond dat die volgelinge van Jesus verban is uit die sinagoge (88CE), en vervolg is deur die ander Jode.
Hoofstukke 13-16 is hoofsaaklik monoloë waarvan die dissipels ʼn agtergrond gee maar nie direk betrokke is by die diskoers nie. Dit vorm deel van die ‘vaarwel gesprekke’ van Jesus aan sy dissipels dat hy nie meer lank by hulle gaan wees nie, en is nooit bedoel om ʼn dogmatiese manifesto te wees nie.
Waaroor dit gaan vir die skrywer van hierdie Evangelie is die liefde van God wat tasbaar, sigbaar word in die lewe en leer van Jesus. Hierdie Goddelike liefde (agape) word ervaar as die teenwoordigheid van God, en Jesus se boodskap is duidelik dat hierdie liefde die krag het om nuwe dimensies van die lewe te ontsluit wat ons in staat stel om ten volle mens te wees.
SEWE keer lê die skrywer die woorde “EK IS...” in Jesus se mond wat direk in verband staan met die woorde van God aan Moses, “Ek is wie Ek is.” (Ex 3:14) — as Jesus sê, “Ek is die brood van die lewe.” (6:35); “Ek is die lig vir die wêreld.” (8:12); “Ek is die deur.” (10:7); “Ek is die goeie herder.” (10:11); “Ek is die opstanding en die lewe.” (11:25); en “Ek is die ware wingerdstok.” (15:1).
Die eerste gedeelte van 14:6 sê: “Ek is die Weg en die Waarheid, en die Lewe…” Wat Jesus bedoel, soos die teoloog Marcus Borg dit parafraseer: “I am the embodiment of the way, the personification of truth, and the source of life.”
1. Die Weg — 'n reis van liefde, empatie, en medelye.
Die historiese konteks van Jesus in Johannes Evangelie, sien ‘die Weg’ as ʼn lewende en dinamiese verhouding met God en nie of jy getrou is aan een of ander teologiese affiliasie nie.
Sy uitnodiging is nie net geloof in hom nie, maar of jy ‘die weg’ stap met hom. Die reis ‘IN Christus’ (soos Paulus daarna verwys) is ʼn pad van liefde, empatie, en genade (grace), om plek te maak aan jou tafel vir hulle wat uitgesluit voel, en ʼn pad van transformasie waar ons ‘die weg na God’ word vir ander, byname in ons huise, by die werk, en teenoor hulle wat ons pad kruis.
2. Die Waarheid — 'n reis van egtheid, eerlikheid, en integriteit.
Vir die skrywer van die Evangelie is ‘waarheid’ veel meer as ʼn handvol feite of dogmatiese formulering — dit is ‘authenticity.’ In Jesus se lewe was daar geen kontradiksies, geen dualisme, en was sy oortuigings belyn met sy aksies.
Hy was getrou aan homself en daarom betroubaar. Hy het nie geskuil agter godsdienstige maskers nie. Dit was nooit nodig vir hom om die Waarheid te moet regverdig of verdedig nie.
Ons word deel van hierdie Waarheid waar ons nie voorgee om iets/iemand anders te wees as onsself nie. Ons deel ons Waarheid met ander — i.e. wie ons is, waar ons soms struikel, hoe ons ander se hulp nodig het — sonder om ons weerloosheid en kwesbaarheid te ontken of weg te steek.
3. Die Lewe — 'n reis wat floreer in elke seisoen.
Jesus sê, “Ek IS die lewe.” Die implikasie is eenvoudig: om te reis IN Christus is om te ontwaak in die volheid van lewe wat sy woorde eggo, “Ek het gekom om vir julle LEWE te gee, en lewe in oorvloed.” (Johannes 10:10)
Hierdie Lewe is die lewegewende teenwoordigheid van God wat in en deur ons asem. Dit stel ons in staat om ons lewensdoel te vind, met vervulling te leef, en die lewe van ander te raak sodat ook húlle die liefdevolle-goedheid van God sal ervaar.
Só ʼn lewe, met al sy kompleksiteit, is gevul met dankbaarheid en vreugde, met dapperheid en hoop. Dit is nie ʼn spoorlyn of pad na ʼn bestemming nie, maar ʼn reis wat beskryf kan word as “a sacred unfolding” soos Richard Rohr dit noem.
Die tweede gedeelte sê: “niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” Om dit te interpreteer as eksklusief, is om die ganse boodskap van dié Evangelie te mis, en sal die betekenis van die eerste gedeelte ook nie verstaan word nie.
Jesus praat met sy dissipels op die vooraand van sy dood. Hy praat sag en met vertroostende woorde om hul te bemoedig vir dit wat voorlê. Wat Hy sê, is: “As jy die wese en essensie van God (‘die Vader’) wil verstaan, kyk na my — na my compassion, my genade, my radikale liefde.”
Daar is geen sprake van ʼn grens wat hy stel met ʼn hek nie. Nog minder is dit ʼn opdrag van superioriteit vir diegene wat die ‘weg, waarheid, en lewe’ in hom vind.
Vir mý is Jesus die ‘gesig’ van God wat kom wys het hoe dit lyk om geheel en al deurweek te wees van God se teenwoordigheid, en wat dit beteken om geskape te wees as ‘beeld en gelykenis’ van God.
“It’s not about believing in Jesus as a ticket to heaven—it’s about walking in the way of Jesus to discover God, which is open to all, regardless of religion.” — Richard Rohr
Vandag verstaan ek dat alle godsdienste kultureel-gevormde rigtingwysers is van dieselfde ‘Ultimate Reality’ (wat ons Christene noem, “God”).
En nou bid ek saam met Paulus, “dat julle die krag sal hê om saam met al die heiliges te begryp die breedte en lengte, die hoogte en diepte van Christus se liefde, en mag julle dié LIEFDE ken wat alle kennis oortref, sodat julle heeltemal vervul kan word met die volheid van God.” — Efesiërs 3:18-19
Met liefde soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.