Lewenslesse uit die Gelykenisse IV

Potgooi:

“Attention is the rarest and purest form of generosity.”
— Simone Weil —

ʼn Vraag wat ek elke dag vir myself vra, is: “Hoe kan ek meer oplettend, meer bewustelik, meer aandagtig leef ten opsigte van myself, my naaste, en van God?”

In ʼn wêreld wat soms chaotiese voel, en ons meer disconnected’ is van mekaar as ooit vantevore, het ons konstant nodig om onsself te herinner om meer liefdevol op te tree, meer deernis en empatie te hê, en meer belyn te wees met ons hoër doel en kernwaardes.

Miskien begin dit om vir myself te sê dat waar ek ook al is, wees volkome daar. Wees meer teenwoordig en sien mense. Ons is geneig om gou ʼn bordjie te hang om iemand — “Hy is 'n bedelaar,” “Sy is 'n moeilike persoon,” of “Hy is pateties.”

Ons moet ʼn hart wat luister, kultiveer. Ons moet kan gee sonder verwagtinge, en oop wees om die Liefde van God toe te laat om DEUR ons te vloei.

Die Barmhartige Samaritaan
— Lukas 10:25-37 —

Hierdie gelykenis is ʼn opsomming van alles wat Jesus vir ons wou leer. Dit is ʼn samevatting van hoe hy die WIL van God verstaan en uitgeleef het, en seker die grootste les van hoe God se liefde deur ons hande en harte sigbaar word.

Dit begin met ʼn Skrifgeleerde wat Jesus wou toets deur vir hom te vra wat hy moet doen om die ewige lewe te bekom. Jesus weet dat die Joodse geloof leer dat die ewige lewe word verkry deur die Torah (die wet / instruksie van God) tot op die letter toe na te kom.

Hierdie prokureur het gedink Jesus gaan iets sê wat die Torah weerspreek, maar Jesus vra hom toe, “Wat sê die Wet?” Netjies en noukeurig antwoord hy die Shema Gebed — “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, en met al jou krag,” (Deut 6:5) “en jou naaste soos jouself.” (Lev 19:18)

“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom, “Doen dit, en jy sal leef!” Maar die wetkenner voel dit is te maklik geantwoord en vra dan: “Wie is my naaste?” terwyl hy seker by homself lag en sê, “Gotcha!!”

Dan vertel Jesus ʼn gelykenis — ʼn Man reis van Jerusalem na Jericho en word deur rowers oorval. Hulle stroop hom van sy klere, slaan hom ʼn pappery, en los hom vir dood agter.

ʼn Priester kom verby maar stap verby. Toe kom ʼn Leviet verby, maar ook hy gaan aan die ander kant verby, maar dan kom ʼn Samaritaan verby en kry hom innig jammer. Hy versorg sy wonde en vat hom na ʼn herberg. Hy los twee dae se loongeld en sê hy sal die verskil betaal as hy weer verby kom. Dan vra Jesus: “Wie van hierdie drie, dink jy, was ʼn naaste vir hierdie man?”

Die stomme Skrifgeleerde kan nie eers die woord ‘Samaritaan’ oor sy lippe kry nie en sê net, “Die een wat ontferming aan hom betoon het.”

Ek kan my voorstel dat daar ʼn oomblik se stilte was voor Jesus vir hom gesê het, “Gaan maak jy ook so.”

Wie was die Samaritane?

Na die Noordelike Koninkryk van Israel weggevoer is in ballingskap en Assirië die land verower het (722BC), het van die Israeliete wat oorgebly het met die Assiriërs getrou. Oor eeue het hierdie etniese groep hul eie weergawe van die Torah gevolg en op die berg Gerisim aanbid en nie in Jerusalem nie.

In Jesus se tyd was die Samaritane beskou as ‘basters’ en gesien as ketters en uitgeworpenes. Daar was openlik ʼn vyandigheid teenoor mekaar en dit word gesê dat ʼn Jood op die grond gespoeg het as ʼn Samaritaan verby hom gestap het.

Hierdie gelykenis breek tot in die hart van wat dit beteken om God lief te hê met jou hele hart, jou hele siel, en al jou krag… en jou naaste soos jouself.

Dit is een van die bekendste en inspirerendste verhale in die Bybel. Dit spreek van ons diepgewortelde vooroordele, ons selektiewe deernis en empatie, en ons geestelike armoede om te besef wat dit beteken om ons naaste werklik lief te hê.

Mense voel meer en meer geïsoleerd ten spyte van al ons digitale maniere om met mekaar in kontak te wees. Hierdie gelykenis gaan oor ons diepste behoefte aan mekaar. Dit is ʼn oproep om liefdevolle empatie met mekaar te hê, veral met mekaar se kwesbaarheid. Ons almal het ʼn diep verlange na iemand wat sag en deernisvol met ons sal wees.

Die gelykenis is nie net oor die Samaritaan nie, maar oor elkeen van ons. Soms is ons die priester en Leviet wat te besig, te behep is met ons eie lewe om die lyding van iemand anders te sien. Ons gaan verby want ons wil nie betrokke raak nie, of sê vir onsself, “Iemand anders kan help. Daar is niks wat ek kan doen nie.”

Soms is ons die Samaritaan wat oorweldig voel om te help. Bereid om ʼn kans te vat, ʼn opoffering te maak ter wille van iemand anders wat in nood is.

Maar soms is ons die verwonde man wat plat geslaan is deur die lewe, verwerp, en emosioneel nakend met die hoop dat iemand sal stop om ons te help.

Die gelykenis vra: Wie ignoreer ons met die verskoning dat dit nie my verantwoordelikheid is nie? Hoeveel keer maak ons asof ons dit nie sien nie? Wie word deur ons beskou as iemand wat moes geweet het daar rowers is en nie alleen moes reis nie… want ons help nie mense wat nie hulself kan help nie?

Nog meer belangrik — Wanneer was ek die een wat genade en kindness nodig gehad het en wie was die Samaritaan in my lewe wat nie net gesien het ek is in die nood nie, maar iets daaromtrent gedoen het?

Miskien kan ons hierdie gelykenis opsom met één sin: Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.

Kom ons gesels Sondag oor hoe ons MÉÉR empatie, MÉÉR compassion kan kweek want ek belowe jou, dit is almal se hartsverlange om wanneer ons weerloos, verlore, en vergeet voel, dat ek vir iemand ʼn ‘naaste’ sal wees wat my wonde sal versorg en na ʼn herberg van veiligheid sal bring.

Want — dít is wat LIEFDE doen!

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“The highest form of wisdom is kindness.” 
― The Talmud ―

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights