Lewenslesse uit die Gelykenisse II

05/03/2025

“Tell me a fact, and I’ll learn. Tell me a truth, and I’ll believe. But tell me a story, and it will live in my heart forever.”
— Native American Proverb —

In ʼn moderne, gesofistikeerde samelewing, domineer feite en data ons gesprekke. Elke dag word ons versmoor deur ‘informasie’ en weet nie eers of ons die helfte daarvan kan vertrou as die ‘waarheid’ nie.

Ons hunker daarna om ʼn lewe te hê wat betekenis het. Ons smag na ʼn gevoel van behoort (belonging) en daarom het stories, gelykenisse, en verhale meer betekenis as reëls, wette, en voorskrifte.

Jesus kon reëls en opdragte gegee het, maar hy doen nie. Hy kon besluit het om teologiese boodskappe te bring, maar hy het nie — hy vertel stories waarin lewenslesse opgesluit is waarmee mense kon identifiseer.

Jesus het geweet dat self-refleksie bring groter insig as instruksies, daarom daag sy gelykenisse ons uit om vir onsself te dink, vir onsself die waarheid te ontdek, en self te kies om ʼn pad van vernuwing en verandering te stap.

Maak nie saak of jy ʼn skrifgeleerde of visserman was nie, die stories het ʼn wysheid oorgedra waarin mense hulself herken het, want daar is ʼn groter konneksie met stories wat ʼn emosionele en spirituele impak maak, as om wette belangriker te ag as ons verhouding met God.

Jesus se gelykenisse wys ons waar om te kyk, maar dit is vir jou om te sien.

'n Dienskneg sonder Vergiffenis
 Matteus 18:21-35 —

Ons eerste gelykenis vandag is 'n reaksie op Petrus se vraag oor hoe dikwels 'n mens moet vergewe. Jesus vertel van 'n koning wat besluit om sy diensknegte se skuld te vereffen. Een van hulle skuld hom 'n astronomiese bedrag, maar omdat hy nie kan betaal nie, smeek hy vir genade. Die koning kry hom jammer en skryf al sy skuld af, maar dieselfde man gaan daarna en eis 'n klein bedrag van 'n mede-dienskneg. Toe die ander man hom smeek om genade, weier hy en laat hom in die tronk gooi.

Toe die koning hiervan hoor, is hy woedend en sê vir die dienskneg dat hy ondankbaar en wreed is. Hy herroep sy skuld en laat die man in die tronk sit totdat hy al sy skuld betaal het.

Die boodskap is duidelik: soos ons genade van God ontvang, moet ons ook genade aan ander bewys.

Hierdie gelykenis leer dat vergiffenis ʼn keuse is. Dit is ʼn besluit wat ons maak om die gevangene vry te laat, net om te besef, die gevangene is ek self.

Jesus maak dit duidelik dat vergiffenis is nie ʼn opsie nie, dis ʼn noodsaaklikheid.

Die kontras tussen die koning se genade (grace and mercy) en die dienskneg se wreedheid wys hoe skynheiligheid ons soms is. Ons verwag geregtigheid vir ander maar eis genade vir onsself. Mense wat ons indoen en seermaak, verdien om gestraf te word maar verwag empatie as dit kom by ons eie foute.

Wat Jesus verder sê, is dat God se liefdevolle goedheid (grace) hang nie van ons af nie. Dit is vir almal. Dit is verniet. Dit kom sonder agenda of voorwaardes.

Natuurlik gaan dit nie daaroor dat jy kan doen wat jy wil en almal moet maar vergewe nie. Oor en oor pleit Jesus dat ons verantwoordelikheid sal aanvaar vir onsself — én vir ander. Ons weet dat saam met vergiffenis gaan verandering!

By die huis leer ons ons kinders om te kan sê, “Ek is jammer,” en dit te bedoel. In ons huwelike leer ons om te 'LET GO' aan ʼn wrok of verwyt en om saam te groei in ʼn rigting waar ons liefde kies bo vrees. By die werk is ons sagter en meer sensitief met kollegas. Maak nie saak wát die omstandighede is nie — BE KIND.

In ons geestelike lewe leef ons met groter dankbaarheid vir die liefde van God wat ons skuld afskryf, en daarom loop ons daarvan oor na ander.

Die Verlore Seun
— Lukas 15:11-32 —

Hierdie hoofstuk begin met die Fariseërs en skrifkenners wat onder mekaar brom: “Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.”

Jesus vertel die gelykenis van 'n seun wat sy erfporsie van sy vader eis en dit verkwis in 'n losbandige lewe. Uiteindelik, verarm en honger, besef hy hoe groot fout hy gemaak het en besluit om terug te gaan huis toe. Hy is bereid om as 'n slaaf te werk. Sy vader, gevul met liefde en genade, sien hom van ver af en hardloop hom tegemoet, en hou 'n groot fees om sy terugkeer te vier.

Sy ouer broer is kwaad vir sy pa en vir hom en weier om aan die fees deel te neem. Hy voel dat hy, wat altyd lojaal is, nooit iets kry nie. Die vader herinner hom dat alles wat hy het, is syne, maar dat dit reg is om fees te vier, “want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword, hy was verlore en is weer gevind.” (v24)

Ons almal ken familie konflik en hoe dit meestal gebeur vanweë misverstand, iemand wat nie sy sin kry nie, of dat ons voel ons word vanselfsprekend aanvaar. Die jonger seun se roekelose aksies lei tot die pyn van slegte besluite.

Die ouer broer se verwyte reflekteer sy stryd met wat hy dink is onregverdig.

Die gelykenis wys hoe emosionele wonde dikwels die gevolg is van behoeftes wat nie verwoord word nie. Die jonger seun is deurweek van skaamte, terwyl sy broer oorweldig is deur bitterheid.

Waar ons ons tekortkominge herken en erken, vind daar versoening plaas en word vergiffenis die sleutel wat die wonde van emosionele pyn genees.

Die ouer broer se reaksie wys hoe ons selfgeregtigheid en liefdeloosheid maak dat ons dink ons het die reg om te besluit wie verdien liefde en wie nie. Ons wil vir God voorskryf wie in en wie buite Sy liefde val en doen dit met ons onderstreepte Bybelversies en dogmatiese belydenisskrifte.

Die pa se reaksie simboliseer God se standvastige en nimmereindige liefde. Hy hardloop sy seun tegemoet en omarm hom nog voor die seun kon sê hy is jammer, of smeek om hom te vergewe.

Albei gelykenisse gaan oor vergiffenis en genade, maar uit verskillende hoeke: die dienskneg wat nie genade kan betoon nie, terwyl die ouer broer sukkel om genade te aanvaar.

Net soos die dienskneg se gebrek aan medelye tot sy ondergang lei, weerhou die ouer broer se gebrek aan liefde hom om in die vreugde van sy vader te deel.

Albei se boodskap is dat God se LIEFDE ʼn geskenk is wat ons verniet ontvang — en daarom ʼn geskenk wat ons gratis aan ander moet gee.

Ons sal nooit weet hoe om mekaar lief te hê alvorens ons nie hierdie boodskap in ons harte skryf nie.

Soos altyd, met liefde

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“There is no greater test of love than the willingness to forgive.”  
― Henri Nouwen ―

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights