“There is a crack in everything,
that’s how the light gets in.”
— Leonard Cohen —
Vir ʼn maand lank gesels ons oor HOE ʼn mens jou emosies ʼn stem kan gee om te sê wat jy voel. Ons het onthou dat ALLE emosies is ʼn reaksie op iets wat gebeur het. As emosies net ʼn reaksie is, het ons tog die keuse om ANDERS te kies hoe ons daarop gaan reageer.
Emosionele Intelligensie word gekweek waar ons leer om nie ons emosies te ontken, of te onderdruk nie maar om met wysheid daardeur te navigeer.
Hierdie wysheid kom wanneer ons opreg en eerlik is met onsself en nie voorgee of maskers dra sodat ander nie ons emosies sien nie. Ons kan, met ander woorde, die waarheid van onsself vir onsself sê, en daardie waarheid met iemand anders deel sonder vrees vir veroordeling of verwerping.
Dit is een van die lewe se paradokse dat ons juis hierdie waarheid van onsself ontdek wanneer ons weerloos voel, asof ‘vulnerability’ ons die vermoë gee om meer eerlik met onsself te wees. Helaas sal ons eerder in ʼn leuen leef alvorens ons dit waag om ons broosheid en kwesbaarheid met ander te deel — want ons is bang mense dink ons is swak en emosioneel onstabiel.
Die EGO floreer op die idee dat daar ʼn ‘separation’ is tussen ons en ons Ware Self, ons medemens, en met God. Die EGO doen dit deur ons te dompel in twee emosies wat als oorheers, naamlik: skuldgevoel en vrees!
Jare se ervaring met berading en terapie het my geleer dat elke vorm van emosionele pyn is as gevolg van ʼn skuldgevoel —
Hierdie spyt en selfverwyt maak ʼn VREES in ons wakker — bang hierdie emosionele pyn gaan nooit verander nie en gaan by my bly die res van my lewe; bang vir mislukking; bang vir oordeel deur ander; bang ons is nie goed-genoeg nie.
Oor en oor maal dit deur ons kop en kry kleintjies. Later word elke emosie wat ons het deur die ego-tregter gegooi — dieper en dieper na die binnekant waar dit gaan sit soos ʼn sweer wat septies is omdat dit nie lig of lug kry nie.
Kom ons kyk na ʼn paar van hierdie emosies en probeer dit VERSTAAN sodat ons op ʼn plek kan kom waar ons dit ʼn stem kan gee wat ons sal help om te groei, en vry te kom van negatiewe emosies wat ons fisies en psigies siek maak.
1. SKAAMTE — “As mense die ware ek sien, sal hulle my veroordeel.”
“Shame suffers in silence,” skryf Brené Brown. As ons dit deel met iemand wat ons vertrou, het dit nie meer krag of mag oor ons nie. Ons sien die masker vir wat dit is — in plaas van om te sê, “Niemand moet weet hoe seer ek het nie,” sê eerder, “Ek voel skaam hieroor maar kies om eerlik te wees met jou want ek vertrou jou.”
Skaamte sê, “Ek is nie goed-genoeg nie.” God sê, “Jy is my Geliefde seun en dogter in wie Ek 'n welbehae het.”
2. SKULDGEVOEL — “Ek moes dit beter gedoen het.”
Daar is ʼn groot verskil tussen spyt en berou. Om berou te hê oor iets wat gebeur het, vat ons na ʼn plek van vergiffenis waar ons vry is van die gedagtes wat ons het oor wat gebeur het. Nie langer self-veroordeling nie maar self-bevrydend.
Skuldgevoel sê, “Ek is sondig.” God sê, “So vêr as die Ooste van die Weste, so vêr verwyder Ek jou oortredinge van jou.” (Psalm 103:12)
3. VREES — “Ek is bang vir wat gaan gebeur.”
Vrees is die afwesigheid van liefde. Trouens, vrees en liefde kan nie in dieselfde huis woon nie. Wees eerlik: As vrees nie in jou pad staan nie, wat sal jy anders doen?
Vrees sê, “Ek is bang ek maak 'n fout en word verwerp deur ander.” God sê, “As jy bang is, sit jou vertroue in My — wat kan mense aan jou doen?” (Psalm 56:3-4)
4. HARTSEER — “My hart is gebreek.”
“Sadness needs space,” sê Brené verder. Ons vergeet dat trane die water is wat die blomme in jou siel voed. Daar is ʼn eerlikheid wat deurbreek as ons trane het. Ons staan nader aan ons Self. Dieselfde kan gesê word van rou, verdriet, en droefheid.
Hartseer sê, “Dit voel soos die einde van my lewe.” God sê, “Geseënd is hulle wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matt 5:4)
5. TELEURSTELLING — “Ek is 'n mislukking.”
Ons stel geweldige hoë verwagtinge van onsself en van ander. As dit nie uitwerk soos ons verwag het nie, betwyfel ons alles en almal. Ons vergeet dat ontnugtering is soos ʼn pap wiel — jy ruil dit om en gaan aan met jou reis.
Teleurstelling sê, “Ek moes van beter geweet het.” God sê, “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” (Matt 11:28)
Kom ons kyk Sondag na nog ʼn paar ‘emosies’ waarmee ons elke dag sukkel — spyt, woede, self-twyfel, frustrasie, afguns, en minderwaardigheid — en hoe ʼn mens sinvol hieroor kan praat.
Miskien is daar ʼn ander manier hoe ons hierop kan reageer. Wie weet dalk iets leer wat ons sal vat na ʼn dieper, meer betekenisvolle lewe as mens en as Christen.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.