Potgooi:
“God does not come to us from a distance; He comes as Emmanuel, near enough to hold our hearts.”
— Ann Voskamp —
So kom ons by ons laaste gesprek voor Kersfees oor hierdie maand se tema: EMMANUEL (God met ons) beteken: Kersfees is liefde in aksie.
Eenmaal ʼn jaar is daar ʼn dag waar ons oorloop van liefde vir mekaar. Ons draai geskenkies toe en gee dit vir mekaar as ʼn gebaar wat sê, ‘ek gee om vir jou, jy maak vir my saak, hier is iets van myself vir jou.’
Elke keer wat ons liefde wys en gee, is dit Kersfees. Die wêreld kan vir seker doen met meer Kersfees-harte — harte vol liefde wat gee en omgee.
Ongelukkig is dit ook waar dat baie mense so besig is om Kersfees te doen (met al hul reëlings en beplanning) dat hulle nooit Kersfees ervaar en net kan wees nie.
‘Kersfees’ beteken tog ‘die fees van kerse’ of te wel: ‘die fees van LIG’ — wat in die koue, nat, en donker Noordelike Halfrond ʼn ander betekenis het as vir ons in somer, son, en oorvloed LIG.
Wat ek hoor, verstaan, en ervaar as ek die woord ‘LIG’ hoor, is die volgende:
In Paulo Coelho se boek ‘Warriors of Light’ skryf hy —
“The Warrior of Light is a believer. Because he believes in miracles, miracles begin to happen. Because he is sure that his thoughts can change his life, his life begins to change.”
Daarom is Kersfees ook ʼn seisoen van self-refleksie om ALLES wat die laaste jaar gebeur het, in perspektief te sien: Wat het ons geleer, waar het ons gegroei, wat sit ons neer (let go), wat vat ons saam vir ons reis in 2025, en hoe doen ons dit?
Ons het die refrein oor en oor herhaal: dat ons nie altyd in beheer is van wat gebeur nie maar ALTYD in beheer hoe ons daarop gaan reageer. Wanneer ons ons spanning, onsekerheid, teleurstellings, en wonde na die LIG bring, gebeur ʼn wonderwerk waar ons liefde kies bo vrees, en vergiffenis bo ons shame and guilt.
Die Joodse Mistiek praat van Tikkun Olam (process of repair) waar ons die Goddelike Lig terugsit in die wêreld.
Rumi het gesê —
“The wound is the place where the Light enters you.”
Of soos Leonard Cohen sing in sy lied ‘Anthem’ —
“There is a crack, a crack in everything, that’s how the light gets in."
Nou vra ek weer, ‘Gaan dit net nóg 'n Kersfees wees, of sal ons in die geboorte van Jesus iets ervaar wat ons stukkies-stukkend weer heel sal maak en aan ons vrede gee?’
Vir my, en ek praat maar van myself, is Kersfees ten diepste ʼn wedergeboorte waar ʼn mens die goed wat maak dat jy jou doel mis en maak dat jy leegloop en nie vervulling het nie, of al ons vrese en onsekerheid na die lig bring sodat ons die Seëninge van God sal sien en ervaar wat die hele tyd daar is.
Alles wat lewe, kwyn weg en sterf as daar nie lig is nie. Die God van LIG, LEWE, en LIEFDE is die een konstante in ons lewe. Daardie LIG maak dat ons die vrugte dra waarvan Paulus skryf in Galasiërs 5:22
Dis die fontein waaruit leivore van liefde vloei. Dis die ruspunt waar ons vrede en vreugde hengel. Daar vind ons geduld met myself en mense om my. Dis die inspirasie vir 'n lewe wat geken word deur kindness en om goed te doen aan ander. Dit gee ons krag om getrou en sagmoedig te wees in elke aspek van ons menswees. Bowenal, hou dit ons nederig en waak dit oor ons om met selfbeheersing keuses te maak wat ons Hoër Doel dien.
Hoe meer ons bewus is van Emmanuel (God met ons) hoe meer is hierdie vrugte sigbaar in ons lewe, en kan ons óns WIL belyn met die Wil (thelema: splendour, desire, delight) van God.
Dit is waaroor Sondag se gesprek gaan:
Om te let op wat jy sê, hoe jy dit sê, en om met woorde van deernis en kindness sagter te praat.
Om versigtig te wees waarna jy kyk, en bedag op ons vooropgestelde idees dat alles nie blou is net omdat ons deur 'n bril met blou lense kyk nie.
Om regtig te luister om te verstaan en nie om te reageer nie, asook ons ore gebruik om ons gedagte te voed met wat opbouend en positief is.
Dit gaan oor selfdissipline om bewus te wees dat wat ons inneem — fisies en geestelik — beïnvloed ons ganse wese. Ons is wat ons eet, en dikwels word ervaar: wat ons eet, eet ons.
Om te laat los waaraan ons so krampagtig vasklou, want Kersfees leer ons die vreugde van gee, van oop hande eerder as toe vuiste.
Om met selfvertroue en moed jou eie spore te stap (authenticity), en getrou aan jouself kan wees en daarom vertrou kan word.
Maak oop jou hart sodat die liefde van God deur jou kan vloei, want so word ons ligdraers van hoop en vrede vir almal om ons Kersfees tafel.
Ek wens vir jou en al jou geliefdes ʼn geseënde Kersfees.
Met liefde
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.