Potgooi:
“Spiritual growth requires the decision to let go of excuses
and embrace responsibility.”
— Richard J. Foster —
Ons gesels hierdie maand oor Spirituele Dissipline en Toewyding en het laas week begin met die fondasie van ons geestelike lewe, naamlik: STILTETYD.
Ons het baie redes en verskonings waarom ons nie met meer toewyding net ʼn paar minute elke dag stil kan word om ons gedagtes te fokus op wat regtig belangrik is en wat ons lewe sin en betekenis gee nie.
Hierdie ritueel help ons om perspektief te vind en ons warboel gedagtes tot rus te bring sodat ons weer die Stem van die siel kan hoor.
Waaroor dit eintlik gaan, is ons gebrek aan dissipline.
Mense sê maklik, “Ek het nie tyd nie.” Die waarheid is, jy HÉT! Niemand het méér of minder tyd as enige iemand anders nie. Die vraag is of jy tyd wil inruim?
Miskien is dit meer eerlik dat ons veel meer bereid is om tyd en energie in te sit vir materiële sukses en sosiale status as wat ons ons geestelike lewe sien as ʼn prioriteit.
Spirituele Dissipline en Toewyding is ʼn langtermyn belegging wat lei tot gemoedsrus en ʼn lewe van vervulling. Ongelukkig leef ons in ʼn kultuur van ‘instant gratification’ waar ons alles NOU wil hê en dit moet MAKLIK wees.
Daarbenewens is daar ʼn duisend ander goed wat ons aandag aflei en het ons almal een of ander vorm van ADHD wat maak dat ons oral is maar nêrens, alles wil doen maar niks bereik nie.
Kom ons kyk na die voordele van Spirituele Dissipline en Toewyding en waarom dit van waarde is vir ons emosionele en geestelike groei:
1. Innerlike Vrede en Kalmte
Dalk praat ek net vir myself, maar daar is ʼn diep vrede en gevoel van ‘grounded’ wat kom met gereelde Stiltetyd, veral in tye van onrustig- en onsekerheid.
As daar innerlike kalmte is, kan ʼn mens meer nugter besluite neem. Dit bring jou groter doel in fokus en maak die geraas in jou kop stiller.
Hoeveel keer het ons dit al gesê: wat jy DINK, gaan jy ervaar — dit is nie wat gebeur wat die emosionele pyn veroorsaak nie, maar hoe ons daarop reageer.
2. Uithou- en Deursettingsvermoë
“Spiritual discipline builds resilience, helping individuals face hardships with strength and grace. Through a steadfast commitment, one develops the inner fortitude needed to navigate life’s inevitable storms without being overwhelmed.”
— Donald S. Whitney
Gedissiplineerde Stiltetyd vat nie die uitdagings en bekommernisse weg nie, maar wys wel HOE om meer positief om te gaan met stres, angs, en hartseer.
3. Verbeter Emosionele Intelligensie
Om met toewyding te leef, verhoog ʼn mens se emosionele bewustheid en empatie. Dit bevorder beter konneksies met ander, groter deernis, meer begrip en kindness.
4. Vry van Materiële Verknogtheid
Hoe anders kan ons ons geestelike waardes weer onderstreep en onthou, en laat gaan aan die besittings wat ons besit? Om met dissipline ons Stiltetyd te hou, bevorder tevredenheid. Dit stel ʼn mens in staat om te waardeer wat jy het sonder ons voortdurende te jaag na nóg en méér wat jy wil hê.
5. Nederigheid en Dankbaarheid
Om getrou Stiltetyd te hou, maak ons oë oop om die Seëninge van God te sien wat die hele tyd daar is. Dit kweek dankbaarheid vir alles wat ons ontvang en leer ons om nie goed (óf mense) vanselfsprekend te aanvaar nie.
“Humility is not thinking less of yourself, it’s thinking of yourself less.” — C.S. Lewis
Nederigheid is die hoeksteen van ʼn lewe wat ons interafhanklikheid herken en erken (recognize and acknowledge).
“Pride makes us artificial; humility makes us real.”
— Thomas Merton
Dit is maklik om selfvoldaan te dink, óf glo, dat jy niks van niemand nodig het nie. Stiltetyd sit jou voete op die grond en bring ʼn nederigheid om te weet wat jy kan, waar jy hulp nodig het, en waar ons ander kan help.
Spirituele Dissipline en Toewyding wys ons HOE, en Stiltetyd kultiveer ʼn persoonlike konneksie met God. Hierdie verhouding bemoedig en inspireer ons en bring ʼn blywende gevoel van behoort (belonging) wat ons lewe met dieper betekenis en vervulling vul.
Al wat dit vra, is ʼn 30 cm-skuif van kop na hart.
I DARE YOU, give it a chance to see a change in your life!
Met liefde, soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.