“Your task is not to seek for love, but merely to seek and find all the barriers within yourself that you have built against it.”
— Rumi —
Dit was Louis Leipoldt wat geskryf het, “Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand!”
Oor twee maande is dit Nuwejaar. Waar is dié jaar heen? Hoekom voel dit of die maande soos weke verby is?
So in die pylvak van 2024 is dit ook opvallend hoe styf besnaard almal is — oorgevoelig, gespanne, en vermoeid na ʼn jaar se dra en verdra aan alles wat van ons verwag word. Die lang winter is ook besig om sy tol te eis en almal soek na son om die muf uit die kamers in ons kop te vee.
Ons voel emosioneel broos en uitgeput hierdie tyd van die jaar, miskien ook oorweldig dat daar nog baie gedoen moet word voor ons dié jaar kan afsluit.
Dit is Lente en oral om ons sien ons vernuwing en herlewing, en tog voel ons dit nie aan die binnekant nie. Ons is veronderstel om te dans op die voete van dié seisoen maar voel te kapot om na lekker songs te soek.
Des te meer moet ons juis nou vir onsself vra hoe ons ons innerlike kalmte en (te)vrede gaan herwin wanneer ons moeg en oorlaai voel. Ons hunker na die vermoë om sinvolheid te vind in ons lewens, en hoe om ons geestelike waardes soos geduld, empatie, en liefdevolheid in moeilike situasies toe te pas.
Vir ʼn maand lank het ons gesels oor die bestaansrede (purpose) van ons lewe, en met dit in ons rugsak gaan ons dié maand gesels oor: Spirituele Volwassenheid.
Ons gebruik dikwels die woord, ‘Spiritualiteit’ — maar wat beteken dit?
‘Spiritualiteit’ verwys na ʼn konneksie (of verhouding) tussen jou en God. In hierdie verhouding soek ʼn mens na ʼn dieper betekenis van die lewe in die algemeen en jou lewe spesifiek. Dis nie iets wat jou kop moet, of kán, uitpluis nie.
Daar is nie ʼn handboek met reëls sodat jy meer spiritueel kan wees om een of ander toelatingseksamen te slaag nie.
“Spirituality does not come from religion. It comes from our soul.” ― Anthony Douglas Williams
Georganiseerde godsdiens is tussen 4,500 en 5,000 jaar oud. Daarteenoor is ‘Spiritualiteit’ so oud soos die mensdom self. Sekere rituele vir mense wat sterf dateer so vêr terug as 300,000 jaar gelede.
Dink byvoorbeeld aan Animism uit die Paleolitiese era wat oor verskeie kontinente beoefen is deur vroeë samelewings as ʼn interaksie tussen die mens en hul natuurlike omgewing wat sin probeer maak van lewe en dood, asook ʼn spirituele betekenis gegee het aan diere, plante, en natuurverskynsels.
Selfs in ons ‘gesofistikeerde’ wêreld het ons steeds ʼn behoefte om sin te maak van die lewe en die dood. Ons probeer lyding verstaan en hoe om daarmee om te gaan. Ons hunker om balans te vind in tye van onsekerheid en emosionele pyn. Ons basiese behoefte is steeds om lief te hê en geliefd te voel.
Ons Spiritualiteit is die naelstring met God. Daar is ʼn diep bewustheid van ʼn krag wat in en deur ons vloei maar nie VAN ons is nie. Daar is ʼn intieme eenheid wat ons ervaar as God se teenwoordigheid.
Spirituele Volwassenheid verdiep ons begrip, verbreed ons verstaan, versterk ons empatie, vermeerder wysheid en insig, en verfyn ons geestelike waardes.
Dit word sigbaar in ons nederigheid, ons compassion teenoor ander, ons innerlike vrede en aanpasbaarheid, ons dankbaarheid en waardering vir wat ons het en ontvang, deur ons vermoë om te kan vergewe, ons selflose hulp en omgee teenoor ander, ons integriteit en eerlikheid, asook ons gawe om te kan onderskei tussen wat reg en verkeerd is.
Spirituele Volwassenheid verander die manier hoe ons dink, werk, lief, en leef.
HOE ONS DINK
Ons leef meer oplettend. Ons is meer bewus van ons gedagtes, ons emosies, wat ons motiveer, en ons behoeftes om connected te voel. Dit is sagter en meer sensitief met ons reaksies. Dit help om deurdagte keuses te maak eerder as om impulsief te oorreageer.
HOE ONS WERK
Dit gee ons beroep betekenis en purpose. Dit beïnvloed ons benadering tot ons werk. Dit roep ons op om 'n verskil te maak en waarde toe te voeg tot ons werksmilieu. Dit bemagtig ons om etiese besluite te neem in ons besigheid en keuses wat daagliks gemaak moet word. Dit bring balans tussen ons werk en ons gesinslewe.
HOE ONS LIEFHET
Dit verdiep ons verhouding deur beter te kommunikeer. Dit versag ons verwagtinge van mekaar, en maak respek meer tasbaar. Dit maak ons meer geduldig, en leer ons om werklik mekaar onvoorwaardelike te aanvaar en lief te hê.
HOE ONS LEEF
Daar is groter simplisiteit. Ons is minder materialisties. Ons raak nie so gou destructed nie en leer om te fokus op dit wat werklik belangrik is en saak maak. Dit belyn ons om die beste te maak van vandag en nie vasgevang te wees in gisters of behep oor môres nie. Dit weet hoe om minder slawe van vrees te wees, want die lewe begin waar vrees stop!
Al wat dit vra, is om te leef met meer — discipline, devotion, and dedication.
Spirituele Volwassenheid is nie ʼn bestemming nie maar ʼn lewenslange reis van groei, self-refleksie, en transformasie.
Moegheid en irritasie aan die einde van die jaar is verstaanbaar, en as ons ons ongeduld en irritasie verstaan, het ons ʼn ander, beter reaksie daarop. Daar kom meer deernis vir mekaar as ons besef dat ander ook moeg en gefrustreerd net dié jaar wil klaarkry sonder enige verdere blou kneusplekke.
Kom ons begin Sondag met ʼn gesprek oor HOE ons ons Spirituele Volwassenheid kan koester, kweek, en kultiveer,
“Toe ek nog 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind. Noudat ek volwasse is, het ek die dinge van 'n kind agtergelaat.” — 1 Kor 13:11
Met liefde
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.