Potgooi:
“I never fail.
I succeed, or I learn.”
— Nelson Mandela —
Ons sit ons gesprek voort oor die vermoë om wysheid te tap uit lewenslesse. Vandag gaan oor die lesse wat ons leer uit teleurstellings en foute.
Daar was al ʼn hele paar keer in my lewe wat ek ‘oor moes begin’ — o.a. in 2001 nadat ek bedank het as predikant in die NGK en begin het met Kruiskerk. Van alle oorde was ek vermaan dat dit ‘nie-gaan-werk-nie’ — volgens die beterweters was daar nie ʼn behoefte onder Afrikaanssprekendes vir ʼn erediens met meer stilte, meer oop-gesprek, of waar daar meer progressief gedink word oor ons Christen geloof nie.
Tien jaar later sou wat begin is met Kruiskerk ʼn nuwe inhoud en betekenis kry toe geboorte gegee is aan Neo-Spektrum — ʼn veilige ruimte vir andersdenkendes, waar almal vry is om hul Christen-geloof uit te leef sonder vrees vir veroordeling of verwerping, en waar geen dogma tussen ons en God geskuif word nie.
Soos met enige geboorteproses, was beide pynlik met groot onsekerheid oor die WAT en HOE om dit te bou en vol te hou. Daar was baie dae wat dit gevoel het dat ek dit nie gaan maak nie.
Maar nooit, nie eenkeer, het dit gevoel ek is ʼn failure nie. Selfs nie toe ons in die begin net ʼn handjievol mense was nie, met skaars genoeg inkomste om die huur van die Kapel te betaal.
Al wat ek geweet het ek moet doen, is om elke Sondag daar te wees. Om beskikbaar te wees as iemand ʼn behoefte het aan ʼn gesprek of as daar ʼn huis- of hospitaalbesoek gedoen moet word.
Elke dag was ʼn geleentheid om nuut te begin, en dit te doen met meer insig en begrip as gister.
Die fokus was/is om ʼn verskil te maak — deur te vra of my hart oop is om te groei, te ontdek, te skep, en betekenisvol waarde toe te voeg tot ander se lewe?
Wat wel belangrik was, is om my te omring met kundige mense wat kon help met die beplanning, leiding, organisering, en kontrole van Neo-Spektrum. Elkeen in ons Sirkel wat met hul eie insig (waarheid) en uitsig (wysheid) bereid is om ʼn bydrae te maak aan die kleurvolle tapisserie van mekaar se lewe.
Wat sedert die begin uiters belangrik was, is om entoesiasties te bly en om ʼn positiewe uitkoms te visualiseer terwyl jy doelgerig daarna toe werk. Vandag, bykans 14 jaar later, is dit steeds ons hartklop en die rede waarom Neo-Spektrum ʼn sukses is.
Die enigste werklike ‘foute’ wat ons maak, is wanneer ons niks leer nie.
Oor en oor moes ek leer dat vrees skep vrees. Om jou doel te bereik, moet jou begeerte vir ʼn positiewe uitkoms groter wees as jou vrees vir mislukking.
Die grootste fout wat mense maak is om aanhoudend bang te wees hulle gaan ʼn fout maak. So kom ons nêrens. Ons sit stert tussen die bene in dieselfde loopgraaf waar ons glo ons verdien meer/beter maar is emosioneel te lafhartig en spiritueel te impotent om daardie eerste tree te gee na ʼn betekenisvolle lewe van vervulling.
J.K. Rowling het as ʼn enkelma in pubs gesit en werk aan haar manuskrip vir Harry Potter omdat sy te arm was om ‘central-heating’ te bekostig in haar eenvertrekwoonstel. Haar reis van ‘rock-bottom’ na een van die suksesvolste skrywers van ons tyd is ʼn bewys van die transformerende krag van verbeelding, deursettingsvermoë, en vasberadenheid.
In een van haar onderhoude sê sy —
“It is impossible to live without failing at something, unless you live so cautiously that you might as well not have lived at all – in which case, you fail by default.”
Oor en oor moet ek weer daardie boord gaan opsoek waar ek die vrugte van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, nederigheid, en selfbeheersing vind wat die Spirituele Kompas is na my Ware Noord.
Die vraag is, is ons bereid om deur ons ‘foute’ te leer? Waag ons dit ooit om uit ons ‘comfort-zone’ te stap ter wille van ʼn lewe waar daar groei en vernuwing is, en waar ons regtig onsself kan wees?
Kom ons kyk Sondag na ʼn paar lesse wat ons uit foute en teleurstellings leer:
Wat ons dink is foute en mislukkings bied ʼn unieke geleentheid om situasies vanuit verskillende hoeke te bekyk en met innoverende oplossings vorendag te kom.
Dit bou veerkragtigheid wat ons leer om terugslae te hanteer, wat ons meer aanpasbaar maak om weer en weer en nog ʼn keer op te staan en dit beter te doen.
Dit verskerp ons vermoë om die regte besluite te maak en om te kan onderskei tussen wat regtig belangrik en sinvol is, en dit waaraan ons krampagtig vasklou wetende dit werk nie.
EQ is die vermoë om ons eie emosies en die van ander te herken en te erken, om beter te verstaan hoe dit ons gedagtes en gedrag beïnvloed.
As ons leer uit ons foute is daar meer beheer oor ons impulsiewe besluite, en word ons nie so gou van balans gegooi wanneer omstandighede verander nie.
Sir Ken Robinson definieer kreatiwiteit as “the process of having original ideas that have value.” — met ander woorde: om die moontlikhede en potensiaal te sien wat ander dalk mis.
Kreatiwiteit is nie beperk tot die kunste nie; dit strek oor ʼn wye veld, van wetenskap en tegnologie tot in maatskappye en die onderwys. Robinson pleit dat besighede en skole ʼn omgewing moet skep “where it is safe to fail.”
— Thomas Edison het talle mislukkings in die gesig gestaar voordat hy die gloeilamp uitgevind het. Hy is bekend daarvoor dat hy gesê het: “Ek het nie misluk nie. Ek het net 10,000 maniere gevind wat dit nie werk nie.”
— Walt Disney is afgedank by ʼn koerant “for lacking creativity” en het in verskeie ander besighede misluk voor hy begin het met animasie wat gelei het tot die Disney-sukses.
— Albert Einstein kon nie praat tot hy vier jaar oud was nie. Die skoolhoof het aan sy ouers voorgestel dat hy in ʼn spesiale skool gesit word vir kinders wat verstandelik gestrem is. Hy sou later die Nobelprys vir Fisika wen vir sy relatiwiteitsteorie.
Don’t let your mistakes define you! Jy is soveel meer as jou foute en teleurstellings.
Soos reeds gesê: die enigste fout wat ons maak, is hoe ons reageer op teleurstellings en mislukkings.
Your move! Choose wisely!
Met liefde

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
