Paasfees is meer as 'n langnaweek III

Potgooi:

 

“Resurrection is not an event; it's a process of emerging from life's grave moments.”— Richard Rohr —

Ons sit ons gesprek voort oor die inhoud en betekenis van Paasfees en het laas week begin met ʼn gesprek oor die KRUIS.

In die woorde, “Neem jou kruis op en volg my.” (Markus 8:34) het ons gesien waar die horisontale balk (ons interpersoonlike verhoudings) die vertikale balk (ons verhouding met God) mekaar ontmoet.

Daar word die kruis nie ʼn simbool van lyding en pyn nie maar ʼn brug wat hemel (die teenwoordigheid van God) tasbaar, sigbaar maak in ons verhouding met onsself, ons ewemens, by die werk, in ons gesinne, en intieme verhoudings.

Ons kruisig ons emosies en gevoelens aan die kruis van self-veroordeling, twyfel, en vrees. Ons spyker ons vreugde, self-waarde, en vrede aan die kruis tussen die diewe van skuldgevoelens en vrees, terwyl ons liggame swik onder die gewig van nie-goed-genoeg-nie wat die Waarheid ontken.

Oor en oor hoor ons die Stem wat sê, “Kom van die kruis af want dit is nie jou plek nie!”

Dit bring ons by die tweede moment van Paasfees naamlik: die GRAF.

Die graf is vir die meeste van ons ʼn simbool van ʼn onherroeplike finaliteit.

Vir ons is die dood ʼn angswekkende gedagte. Nie net oor die verlange en verdriet van ʼn geliefde wat weg is nie maar ook ons eie sterflikheid.

So baie mense is ‘doodbang’ (pun intended) vir die dood. Ander leef met so groot verwagting van NÁ die dood waar alles volmaak sal wees dat hul skoon vergeet om dié kant van die graf te leef.

Die Katolieke en Ortodokse Kerk se begrafnis-formulier begin met die woorde: “Life is not ended, it is merely changed.” — wat die credo van die ganse kosmos is.

Dit glo ek met my hele hart, dat wat vir ons voel soos ‘dood’ is net ʼn deur wat oopgaan. Al verdamp my totale bewussyn wat ons het in dié vorm, definisie, en dimensie — gaan lewe voort.

God en Lewe is sinoniem. Om te lewe is om te God, en om te God is om te lewe. Dié Lewe is allesinsluitend en allesomvattend.

Om dié rede glo ek dat ook in mý lewe sal dié Lewe vir my sorg en is die graf nie die einde nie maar ʼn wedergeboorte in die teenwoordigheid van God.In die lig van Paasfees kry dood ʼn hele nuwe betekenis:

Uit die graf van hartseer, spruit die blomme van hoop. In die graf van teleurstelling en mislukking, lê die saad van vernuwing. Uit die graf van gebroke drome, staan 'n nuwe lewe op, wat ons eindelose potensiaal ontsluit.

Is jy bewus daarvan? Glo jy dit?

Wanneer ons bely dat IN Christus staan ons op uit die dood dan beaam ons die woorde van Paulus —

“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”— 1 Korintiërs 15:55

Daarom glo ek dat my ganse lewe ʼn proses is van dood, graf, en opstanding. Dit is nie eenmalig nie maar ʼn elke dag se wedergeboorte.

Skielik besef ek hoe my hele lewe, in elke aspek daarvan, geweef is die Christus wat keer op keer my stukkies stukkend kom heel maak. Weer en weer sy hand in my selfgemaakte graf steek en uitroep, “Kom uit die graf, want ook dít is nie jou plek nie!”

Dink ek vir ʼn oomblik oor elke graf wat ek vir myself geskep het en besef ek:

  •  Baiemaal was ek geestelik en emosioneel honger — en het Christus sy brood en wyn met my gedeel.
  • Hoeveel keer was ek blind en kreupel — en het Christus my weer laat sien en loop.
  • Telkens was ek verdwaal en verlore — en het Christus my weer kom haal.
  • Herhaaldelik klippe opgetel teen hul van wie ek nie hou nie — en hom hoor vermaan: “Slaan jou hand in eie boesem en laat die een sonder sonde die eerste klip gooi!”
  • Dikwels was ek al dood — en het hy my uit die graf opgewek, die doeke afgedraai, en geroep om te leef... voluit te leef, in die oorvloed daarvan.

Miskien, net miskien, het dit tyd geword vir ons om die klip voor ons graf weg te rol want God gee vir ons meer as genoeg insig, krag, wysheid, en ‘know-how’ om dit te doen —

Los die verwyte en skuldgevoelens wat elke gedagte oorheers. Laat gaan daai vrese oor môre en alles wat moontlik verkeerd kan gaan. Hou op om jou lewensreis te vergelyk met ander en om bloot te leef in die verwagtinge van ander.

Laat los daai negatiewe emosies wat jou keer op keer dompel in die geut van nie-goed-genoeg-nie. Hou op om ander te blameer dat jy nie boundaries het nie en dat net ek, en ek alleen verantwoordelik is vir my emosies (reaksies). Kom uit daai graf van ongesonde gewoontes, stresvolle omgewings, groepsdruk, en toksiese verhoudings.

Laat gaan aan mooiweersvriende en verhoudings wat nie waarde toevoeg nie, en stop daai ‘overthinking’ wat die ego altyd harder laat praat as die stem van die siel.

Dan sal die inhoud en betekenis van hierdie Paasfees jou deur die kokon van dood laat breek, sodat jy jou vlerke soos ʼn skoenlapper kan sprei met vreugde en vryheid.

Met liefde, soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Resurrection is the melody that turns the silence of the grave into a symphony of life.”― Albert Camus 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights