Potgooi:
“Whatever it is that stirs your soul, listen to that. Everything else is just noise.”
— Nicole Lyons —Die jaar is flink op ʼn drafstap, en ek wil reeds die handrem optrek want die dae gaan net te vinnig verby.
Ons gesels hierdie maand oor — maak skoon, ruim op, sorteer uit, raak ontslae, van alles wat nie jou siel voed nie.
Dit gaan oor goed aan die buite- ÉN binnekant — die interne dialoog wat ons met onsself het, is net so belangrik soos die gesprekke wat ons het met mense om ons; die dinge wat ons toelaat om ons gedagtes en emosies te vul, is van net soveel belang as die goeters wat ons bymekaarmaak om ons.
“Decluttering goes beyond tidying up physical spaces; it involves simplifying our thoughts, emotions, relationships, and environments to create room for growth, peace, and fulfilment.”
— Chuck Spezzano
Ons het Sondag gepraat oor waarmee ons moet begin as dit gaan oor hoe die rommel en chaos in ons koppe daartoe aanleiding gee dat ons nie gedy in ons persoonlik groei nie.
Let ʼn bietjie op hoe daar baie mense is met ʼn gebrek aan SELFBEWUSSYN.
'A lack of self-awareness' — beteken ʼn beperkte begrip van hul eie gedagtes, emosies, gedrag, swakhede en sterkpunte, en om nie regtig te verstaan hoe ons aksies en reaksie ander beïnvloed nie.
Dit veroorsaak dat ons onbewus is van ons eie beperkinge, vooroordele, of aspekte van ons menswees wat verbeter kan word.
Hierdie gebrek aan selfbewussyn herken nie hoe ons optrede en woorde ander beïnvloed nie, wat lei tot ʼn totale gebrek aan verantwoordelikheid neem vir wat ons dink en doen.
Ons móét tyd maak om na te dink oor ons optrede en of dit ooreenstem met ons waardes en doelwitte. Dit stel ons in staat om verhoudings beter te navigeer, beste keuses te maak, en om betekenisvol te leef.
Byvoorbeeld: Dit is verkiesing hierdie jaar en die politici sal weer t-shirts uitdeel en beloftes maak wat hul nie sal nakom nie. Daar is 'n totale gebrek aan ‘self-awareness’ oor hoe korrupsie soos 'n kanker deur ons land versprei het, en hoe hulle hulself verryk ten koste van miljoene mense in ons land wat sukkel om kop bo water te hou.
Bo aan die meeste mense se lys van ʼn nuwejaarsvoorneme is om gewig te verloor, maar wat van ʼn brein-dieet? Om bewus te word van wat ons DINK, en hoekom daar seker patrone en snellers is wat ons gedagtes vertroebel. Om versigtig te wees met ons projeksies en persepsies, en bedag daarop wat ons ons gedagtes voer.
Byvoorbeeld: Gestel jy gaan op 'n staproete en jy besluit om drie paar skoene, 'n braaipan, 4 boeke om te lees, 'n kampstoel, en gasstoof in jou rugsak te pak — hoe vêr gaan jy kom met daai bagasie? Hoekom doen ons dit met ons koppe as daar geen vermoë is om te prioritiseer wat belangrik is of nie? Ons dra hierdie pakkasie in ons gedagtes en is verstom dat ons nie perspektief (groter insig en uitsig) het nie.
Kom ons staan hierdie week stil by hoe ons die lesse van emosionele ‘declutter’ kan saamvat na ons huis om ʼn spasie te skep van kalmte en gemoedsrus asook na ons werk om produktiwiteit en doeltreffendheid te kweek.
Hier is 'n paar goed wat ons by die huis en by die werk kan doen:
Verkoop, skenk, of gooi uit wat nie gebruik word nie. Pak weg en maak netjies sodat goed op hul plek is as jy dit soek.
Die emosionele impak daarvan is: om ligter en meer vrygewig te voel, en minder gefrustreerd om na goed te soek.
As jy met ʼn rekenaar werk — maak gereeld backups (ʼn duur les wat ek nou onlangs weer geleer het); maak gereeld jou rekenaar ‘skoon’ en orden al jou dokumente en foto’s sodat jy weet hoe om dit te kry; en sorg dat jou rekenaar altyd updated is met die nuutste weergawe.
Die emosionele impak: ons voel minder digitaal oorweldig, meer orde en beheer oor wat waar is, en meer gefokus op wat jy wil/móét doen.
As ons ons fisiese rommel opruim, bring dit helderheid van verstand wat lei tot beter besluitneming. Om ontslae te raak wat nie langer ʼn doel dien nie, is ook emosioneel bevrydend, wat ʼn mens meer positief maak om enige taak aan te pak.
Want dit is nou maar eenmaal so dat as ons koppe raas, is dit onmoontlik om die taal van die hart te hoor... en o, ons het só nodig om daardie Stem weer te hoor.
Kom ons kyk Sondag na nog ʼn handvol maniere hoe om ons fisiese omgewing op te ruim en wat die invloed daarvan is op ons emosionele én spirituele welsyn.
Tyd om ʼn boks of twee te gaan soek om van ʼn paar goed ontslae te raak.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.